Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ramaphosa haal die groot woorde uit

Adv. Busisiwe Mkhwebane se rol as openbare beskermer (OB) is om Suid-Afrika se demokrasie te versterk en nie om vertroue in pres. Cyril Ramaphosa “deur vals alarm” te ondermyn nie.

“Die OB het afgedwaal . . .”

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Dailly Sun

So voer Ramaphosa aan in ’n beëdigde verklaring, wat ingesluit is by sy hofstukke waarmee hy nóg ’n dringende interdik teen Mkhwebane aanvra. Sy regspan het dit eergister by die hooggeregshof in Pretoria ingedien en dit word op 12 Augustus aangehoor.

Ramaphosa wil daarmee keer dat die OB se remediërende aanbevelings deurgevoer word totdat dít en haar volle verslag oor ’n skenking van Bosasa aan sy CR17-veldtog vir die ANC-presidentskap deur ’n hof hersien en tersyde gestel word.

Sy het bevind dat hy die parlement mislei het oor die skenking van R500 000, dat hy die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het en dat die nasionale vervolgingsgesag hom en ander lede van die veldtog moet bekyk weens moontlike geldwassery.

’n Aansoek is ook gister in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor oor die sage van Ivan Pillay van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se vervroegde pensioen (berig op bl. 2).

Ramaphosa voer in sy jongste eedsverklaring aan dat Mkhwebane geen gesag, mag of jurisdiksie het om die CR17-veldtog te ondersoek nie. “Die OB se benadering tot die saak is ongelukkig en laat veel te wense oor.”

Volgens hom interpreteer sy die reg ook heeltemal verkeerd.

“As die bevindings van feite en gevolgtrekkings van die reg gegrond is op ’n verkeerde begrip van die feite en ’n growwe wanbegrip van die wet, kan die uitkomste geen rasionele verwantskap met die feite hê wat voorgelê is nie. In dié spesifieke geval het die OB ’n ernstige wanbegrip van die bepalings van die kode getoon.”

Hy vra die hof ook om die saak so gou moontlik op te los omdat die verslag op die mees ongeleë tyd uitgereik is, in ’n tyd “dat ons openbare vertroue in die regering en openbare instellings in die algemeen probeer herbou en buitelandse beleggers wil lok om die swak ekonomie te help dryf”.

Ramaphosa sê dit moet gou afgehandel word omdat die donker wolk oor sy kop as staatshoof openbare vertroue in die presidensie kan wegkalwe.

Dit is ook nie die einde van die OB se hofdramas nie. In ’n voorlegging op 10 Julie in die parlement het sy erken dat 30 van die sowat 100 verslae wat sy sedert Oktober 2016 uitgereik het tans in howe hersien word.

Intussen is nóg een van haar verslae en bevindings Maandag in dieselfde hof tersyde gestel (bl. 2), berig City Press.

Weens al die negatiewe hofuitsprake is Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), uit verskeie oorde versoek om die parlementêre proses te begin om Mkhwebane uit haar pos te verwyder. Die bespreking begin op 3 September.

  • Lawson Naidoo, grondwetkenner en uitvoerende sekretaris van die grondwetwaghond Casac, sê die parlement kan die OB ingevolge art. 194 van die Grondwet op grond van wangedrag, onvermoë en onbevoegdheid verwyder. ’n Tweederde-meerderheid is daarvoor nodig. Martha Mkhwebane is bekommerd oor hoe haar dogter die R900 000 se regskoste in die Absa/CIEX/Reserwebank-geding sal kan betaal, berig News24. Die konstitusionele hof het verlede week ’n appèl van die OB teen ’n persoonlike kostebevel wat vroeër teen haar gegee is, van die hand gewys.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.