Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Cyril se bevelsraad onwettig, sê regslui
Dreig met hofsake as president nie verduidelik oor NBR se mandaat

Minstens vyf groot hofsake kan spruit uit verset teen die regering se Covid-19-regulasies, die manier waarop rampbestuurswetgewing gebruik word en die vlak 4-inperking, wat Vrydag begin het.

In die ingrypendste van die sake bevraagteken twee topadvokate, Nazeer Cassim (SC) en Erin Richards die regsgeldigheid van pres. Cyril Rama-phosa se nasionale bevelsraad en die manier waarop die raad besluite oor die inperkingsregulasies neem.

Dit lyk dus of die NBR minstens twee vorms van mag uitoefen: om statutêre regulasies uit te reik en om die reaksie op die ramp te bestuur en te koördineer.

Daarnaas het British American Tobacco (BAT), die land se grootste sigaretverskaffer, en die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) hul regspanne opdrag gegee om twee afsonderlike, dringende hofaansoeke in te dien teen die volgehoue verbod op handel in sigarette.

Die organisasie Sakeliga wil ook ’n hofaansoek bring oor die kompleksiteit van die regulasies, maar het die regering gevra vir ’n bemiddelingsproses daaroor.

Die jongste regulasies, wat Donderdagaand gepubliseer is, maak voorsiening vir bemiddeling om uitgerekte hofsake te vermy.

Die DA vra ook ’n dringende hofbevel dat aansoekers se ras, geslag, ouderdom of gestremdheid nie as maatstaf gebruik mag word in enige ekonomiese of ander staatshulp tydens die Covid-19-pandemie nie.

Cassim en Richards het in ’n brief aan Ramaphosa gevra om die regsbasis te verduidelik vir die bestaan van die geheimsinnige nasionale bevelsraad (NBR), waaroor bitter min inligting beskikbaar is. Dit is volgens hulle onmoontlik om bykomende inligting daaroor te kry.

Ramaphosa is gevra om teen Maandagmiddag daarop te antwoord. Indien hulle nie van hom hoor nie, sal hulle in hul persoonlike hoedanigheid litigeer.

Hulle voer in hul brief aan die presidensie aan dat die NBR verreikende besluitnemingsmagte het, soos blyk uit aankondigings deur Ramaphosa en ministers. Tog is daar geen regsbasis vir die bestaan van die NBR nie en dus geen parlementêre toesig nie.

Dit is volgens hulle ongrondwetlik en bring al die regulasies in gedrang wat tot dusver in die stryd teen die pandemie uitgereik is.

Ramaphosa het op 24 Maart gesê dit was die NBR wat besluit het dat die aanvanklike landwye inperking van 21 dae ingestel word. Op 9 April het hy aangekondig dat die NBR besluit het om die inperking te verleng.

Volgens Ramaphosa se aankondiging op 23 April het die NBR ook besluit dat die inperking vlakke gaan hê en dat die landwye vlak op 1 Mei verslap word van vlak 5 tot vlak 4.

Boonop het Bheki Cele, minister van polisie, op 3 April aangekondig dat die NBR die inperkingsregulasies “hersien” het.

Dit lyk dus of die NBR minstens twee vorms van mag uitoefen: om statutêre regulasies uit te reik en om die reaksie op die ramp te bestuur en te koördineer.

Dit is strydig met die Nasionale Rampbestuurswet, wat vereis dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die enigste is wat regulasies mag uitvaardig, maar dat sy die betrokke ministers vooraf volledig daaroor moet raadpleeg. Rampbestuur en rampkoördinering moet ingevolge die Nasionale Rampbestuurswet deur die hele kabinet hanteer word, maar luidens die regering se amptelike webblad is net 19 van die 29 kabinetslede lede van die NBR.

“Ons is van mening dat dit regstreeks die wettigheid van al die regulasies in gedrang bring waaraan die hele land nou onderwerp word,” sê Cassim en Richards in hul brief aan die president.

“Dit lyk vir ons of die NBR in sy huidige vorm ’n sentralisering van mag vorm wat ontoelaatbaar is.”

Richards het aan Rapport gesê dis heeltemal moontlik dat besluit is om die NBR te stig omdat die kabinet te groot is om dié rol in die huidige ramptoestand te kan vervul.

“Maar dan moet die NBR ’n behoorlike, wetlik gevestigde liggaam wees waarvan die rol en magte omskryf is. Veral as dit ’n instelling is wat besluite neem en nie net die regering adviseer nie.

“Daarsonder is dit baie moeilik vir die parlement om sy toesigrol te speel. Hoe hou jy toesig oor iets as jy nie weet wat daardie liggaam doen nie?” aldus Richards.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, wys daarop daar is geweldige regsonsekerheid oor feitlik alle aspekte van die bedryf van sakeondernemings.

“Jy moet vir alles permitte hê. Verskillende staatsdepartemente het die afgelope weke meer as 500 bladsye se regulasies geproklameer waaraan ondernemings tydens die pandemie moet voldoen.

“Die nasionale tesourie se jongste aannames is dat ons ons moet regmaak vir 18 maande van inperkings op ons ekonomie. Ons is besig om in ’n semi-polisiestaat in te beweeg,” sê hy.

Sakeliga hoop om vandeesweek in bemiddeling met die regering te kan tree en as dit nie slaag nie, sal hy ’n dringende hofaansoek indien. Hofstukke word daarvoor opgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.