Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
DA-LP loop by Maties ná hof sê oor Afrikaans

Die DA-LP dr. Leon Schreiber het as lid van die Universiteit Stellenbosch (US) se institusionele forum (IF) bedank omdat hy nie “persoonlik aandadig (wil) wees aan die uitfasering van moedertaalonderrig in Suid-Afrika nie”.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, wat uit die US se Institusionele Forum bedank het.

“Hoewel ek die uitspraak van die konstitusionele hof oor die verengelsing van Stellenbosch ten diepste respekteer en aanvaar, kan ek eenvoudig nie persoonlik aandadig wees aan die uitfasering van moedertaalonderrig nie,” het Schreiber Dinsdag op Facebook aangekondig.

“Stellenbosch was die laaste universiteit in die suide van die land waar studente in Afrikaans onderrig kon ontvang,” sê hy. “As gevolg van die uitspraak kan geen student uit die Wes-Kaap of Noord-Kaap meer volwaardig in Afrikaans studeer nie – ten spyte daarvan dat Afrikaans by verre die grootste taal in hierdie twee provinsies is.”

Sy bedanking volg nadat die konstitusionele hof op Donderdag 10 Oktober die drukgroep Gelyke Kanse se aansoek om die US se taalbeleid van 2016 ter syde te stel, van die hand gewys het.

Die IF is een van die US se drie hoof- statutêre liggame, naas die raad en die senaat, met die IF wat volgens art. 31 van die Wet op Hoër Onderwys die raad moet lei oor kwessies wat nasionale beleid, gender en institusionele kultuur insluit.

Schreiber sê Afrikaans is ’n ontwikkelde akademiese taal en beskik oor al die nodige praktiese hulpbronne om op tersiêre vlak voort te leef, maar dat die “politieke wil” ontbreek om inheemse tale uit te bou.

“Inteendeel: ons konstitu­sionele hof het nou amptelik bevestig dat Engels in die openbare sfeer en in praktyk ’n eersteklastaal is, terwyl ons tien inheemse tale (en daardeur ook hul sprekers) tweede klas is. Die veelbesproke gelykheid van ons 11 landstale bestaan nog net op papier.”

Schreiber vrees dat tensy daar nie ’n “ongekende politieke ontwaking” plaasvind nie, dit die einde van die pad is vir inheemse tale by openbare universiteite.

Die US het by navraag gesê hulle het “met spyt” verneem van Schreiber se bedanking en bedank hom vir sy diens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.