Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
DA skat OB moet hom R45 000 betaal

Die DA en die grondwetwaghond Casac krap kop oor wie die oorblywende 7,5% van sy regskoste gaan betaal in die hofsaak wat hy teen die openbare beskermer (OB) gewen het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, sal haar hand diep in haar eie sak moet steek ná haar nederlaag in die hofsaak oor die Estina-suiwelprojek in die Oos-Vrystaat, want die hooggeregshof in Pretoria het haar Donderdag met twee persoonlike kostebevele gekap.

Dit vererger haar finansiële probleme, want sy moet reeds R900 000 aan die Reserwebank betaal, ook weens ’n strafkostebevel.

Regter Ronel Tolmay het die OB se kantoor Donderdag beveel om 85% te delg van sowel die DA as Casac se regskoste in die Estina-saak. Tolmay het ook beveel dat Mkhwebane persoonlik 7,5% moet betaal.

Die somtotaal van dié persentasies is 92,5%. Oor die oorblywende 7,5% van die DA en Casac se regskoste is daar nie uitsluitsel nie.

Tolmay het beveel dat die regskoste op die sogenaamde prokureur-kliënt-skaal, en nie op die gewone tariefskaal nie, betaal moet word, wat dit ’n strafkostebevel maak.

JP Rudd, litigasiespesialis van Pretoria, sê kostebevele op ’n prokureur-kliënt-skaal is in die meeste gevalle dubbel die bedrag van ’n gewone kostebevel wat in die hooggeregshof verleen word.

Dit kan egter minder wees – die takseermeesters het ’n diskresie om daaroor te besluit.

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van Casac, sê hulle het Tolmay vir duidelikheid gevra oor die uitstaande 7,5%.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, sê hul prokureur skat Mkhwebane sal tussen R40 000 en R45 000 aan regskoste aan die DA moet betaal.

Die DA en Casac het Mkhwebane hof toe gevat oor haar swak ondersoek na beweerde onreëlmatige met die Estina-projek by Vrede.

Tolmay het Donderdag gesê Mkhwebane se optrede in die ondersoek was grof nalatig. In die Estina-saak was die slagoffers die armstes, mense vir wie die OB se kantoor eintlik geskep is. Húlle is “in die steek gelaat” omdat Mkhwebane versuim het om die beweerde onreëlmatighede in die projek behoorlik en objektief te ondersoek.

Mkhwebane het boonop in die saak aangevoer sy kan kragtens wet nie met kostebevele bestraf word nie. Tolmay het verskil: “Dit is ondenkbaar dat enige persoon, ongeag die belangrikheid van hul posisie, ooit in staat sal wees om totale immuniteit te eis wanneer hulle blatant hul statutêre en grondwetlike pligte oortree.”

Democracy in Action help geld insamel vir Mkhwebane. Thabo Mtsweni, voorsitter, het aan Independent Newspapers gesê hulle is op dreef om binne drie maande die R900 000 in te samel wat Mkhwebane aan die Reserwebank verskuldig is. Hulle was Donderdag by amper R110 000.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Da  |  Casac  |  Openbare Beskermer  |  Regskoste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.