Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
DA vra bestraffende kostebevel teen Mkhwebane

’n Bestraffende kostebevel moet teen adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), toegestaan word omdat sy nie as ’n hooggeplaaste ampsdraer belastingbetalersgeld vir ’n hofaansoek kan gebruik nie waarin sy “in kwade trou” én “grof nalatig” optree.

Adv. Steven Budlender, SC, het Donderdag só namens die DA betoog in Mkhwebane se dringende interdikaansoek in die hooggeregshof in Kaapstad waarmee sy die parlement tydelik wil verbied om met ’n proses voort te gaan om haar uit haar amp te verwyder.

Budlender het ook die volbank regters in die aanlyn verhoor versoek om dié aansoek van die hand te wys omdat dit “heeltemal sonder meriete” en “dodelik gebrekkig” is.

Die DA én Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering (NV), staan Mkhwebane se aansoek teen.

Mkhwebane wil die parlementêre proses stuit totdat haar hoofaansoek – waarin sy die grondwetlikheid van die reëls vir die verwyderingsproses wil betwis – afgehandel is.

Modise het Donderdag deur haar regsverteenwoordiger, adv. Andrew Breitenbach, SC, gesê sy is erg bekommerd oor die “dun verbloemde minagting” teenoor LP’s wat sy van Mkhwebane in die interdikaansoek bespeur.

Dit is volgens Modise ook uiters ontstellend dat iemand wat so ’n hoë amp beklee sonder enige bewyse in die aansoek kan aanvoer dat Modise “partydig” is en “in kwade trou” ten opsigte van die DA-mosie vir die verwyderingsproses opgetree het.

Regters Vincent Saldanha, Elize Steyn en Monde Samela moes weens tegniese probleme met die aanlyn verbinding die verrigtinge Donderdagmiddag noodgedwonge tot komende Dinsdag uitstel.

Adv. Dali Mpofu, SC, sal dan namens Mkhwebane sy repliek op die respondente se argumente lewer.

Sowel Modise as die DA voer aan dat Mkhwebane geen onherstelbare skade sal ly as die parlementêre proses intussen voortgaan nie.

“Dit is in die lig van die hoogste hof se bevindinge oor die ‘aanhoudende verdoeseling van die waarheid en veelvoudige valshede’ aan Mkhwebane se kant duidelik dat haar voortgesette besetting van daardie kantoor onhoudbaar is.

Budlender het Mkhwebane ook gekap nadat Mpofu Woensdag aangevoer het dat die DA ’n “vendetta” teenoor haar voer.

Volgens hom tree die DA nie met korrupte motiewe teenoor haar op nie, maar huldig die party ’n grondige en opregte mening dat sy onbevoeg en “skuldig aan wangedrag” is.

Hy sê die DA wil ook nie soos Mkhwebane beweer die OB-kantoor destabiliseer nie, maar eerder die doeltreffendheid en integriteit daarvan herstel.

Budlender sê die DA-klagtes is op baie ernstige bevindinge van ’n meerderheid regters van die konstitusionele hof in die sogenaamde Reserwebank-uitspraak teen Mkhwebane gegrond.

“Dit is in die lig van die hoogste hof se bevindinge oor die ‘aanhoudende verdoeseling van die waarheid en veelvoudige valshede’ aan Mkhwebane se kant duidelik dat haar voortgesette besetting van daardie kantoor onhoudbaar is.”

Die DA meen daar kan ook nie van die publiek verwag word om enige vertroue in die OB-amp te hê solank Mkhwebane dit beklee nie.

Intussen het adv. Nazreen Bawa, SC, namens pres. Cyril Ramaphosa, Donderdag ook in die interdikaansoek betoog die feit dat Mkhwebane negatiewe bevindinge teen hom in die Bosasa-aangeleentheid gemaak het, nie beteken dat hy nie die grondwetlike mag het om haar hangende die parlementêre ondersoek te skors as die NV so aanbeveel nie.

Mkhwebane het aangevoer dat Ramaphosa dit weens “botsende belange” – omdat die Bosasa-hofsaak nog hangende is – nie sal kan doen nie.

Volgens Bawa sal Ramaphosa daardie mag aan ’n ander kabinetslid delegeer indien nodig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.