Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
DA vra hof om US te dwing om inligting oor Cameron te oorhandig
Regter Edwin Cameron Foto: Argief

Die DA sleep die Universiteit Stellenbosch (US) hof toe in ’n aansoek voor die hooggeregshof in Kaapstad waarin hy aanvoer die US weerhou inligting oor die benoeming van oudregter Edwin Cameron as kanselier van die universiteit en bewerings van geheime vergaderings met prof. Wim de Villiers, rektor van die US.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het die aansoek Vrydag by die hof ingedien saam met ’n ondersteunende beëdigde verklaring deur Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad.

Schreiber is die eerste applikant en die DA die tweede in die aansoek teen eerstens die US, tweedens die inligtingsbeampte van die US en derdens die US-raad.

Die DA sê in ’n verklaring Schreiber het in Maart ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ’n aansoek by die universiteit ingedien waarin hy vir inligting gevra het, maar die US het dit geweier.

Hulle wil die US nou met ’n hofbevel dwing om die inligting te oorhandig wat gebruik is in ’n ondersoek deur oudregter Burton Fourie, wat deur die US-raad aangestel is om bewerings te ondersoek dat daar op onbehoorlike wyse kontak was tussen De Villiers en Cameron in die tyd voordat Cameron tot kanselier verkies is.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het by navraag gesê hy beskou die bewering oor die kontak tussen De Villiers en Cameron – in die tyd toe die konstitusionele hof ’n besluit moes neem oor die voortbestaan van die gebruik van Afrikaans by die US – in ’n baie ernstige lig.

“Die hofbevel waarin die besluit bekragtig is dat Afrikaans nie verder saam met Engels by die US gebruik sou word nie, het ’n regstreekse impak op talle Suid-Afrikaners wat hul grondwetlike reg wil uitoefen om in hul moedertaal onderrig te ontvang. Die publiek verdien om te weet wat die waarheid is agter die bewerings van onbehoorlike optrede tydens die hofverrigtinge,” sê Steenhuisen.

Hy het gesê dit is onaanvaarbaar dat die US probeer om inligting geheim te hou en dit is waarom hulle die hofaansoek as noodsaaklik beskou.

Die US het by navraag gesê Schreiber en die DA se hofaansoek is Vrydag op die universiteit beteken.

Die US het by navraag gesê Schreiber en die DA se hofaansoek is Vrydag op die universiteit beteken. Hulle sal die aansoek oorweeg en later besluit hoe om daarop te reageer. Daarom kan die US nie verder kommentaar lewer nie.

Op ’n vraag of die DA beoog om nog ’n aansoek te bring om Cameron se aanstelling ter syde te probeer stel, het die party geantwoord hy kan eers daarop antwoord wanneer die betrokke inligting deur die US beskikbaar gestel word. “Dit is hoekom die hofaansoek so belangrik is. Dit sal die US dwing om die inligting aan die DA te gee,” aldus die DA.

Die DA hoop ook om meer inligting te kry oor die bewering dat De Villiers en Cameron in die geheim by die OR Tambo-lughawe ontmoet het.

Schreiber sê volgens bewerings wat al in die openbaar uitgekom het, het De Villiers en Cameron minstens een geheime vergadering by die OR Tambo-lughawe gehad terwyl die hofsaak oor die voortbestaan van Afrikaans by die US in die konstitusionele hof voor Cameron gebring is.

Schreiber voer aan die doel van die gesprekke was klaarblyklik om Cameron te oortuig om ’n benoeming as die kanselier van die US te aanvaar nadat Cameron oorspronklik aangedui het sy posisie sal in die gedrang geplaas wees indien hy die benoeming sou aanvaar.

Cameron het later sy mening verander en die benoeming aanvaar.

“Hy het daarna sy uitspraak geskryf wat in der waarheid opleiding in Afrikaans aan die US keelaf gesny het,” sê Schreiber.

Ná die onafhanklike ondersoek wat Fourie in opdrag van die US gedoen het, is De Villiers kwytgeskeld van enige moontlike verkeerde optrede.

Schreiber sê die US weier egter om die bewyse wat in Burton se ondersoek gebruik is, openbaar te maak.

Meer oor:  Edwin Cameron  |  Wim De Villiers  |  Inligting  |  Hofsaak  |  Us  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.