Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dag van hoogdrama in hof in Wainstein-moordsaak
Jerome (Donkie) Booysen, Mark Lifman (middel) en William (Red) Stevens kort nadat hulle op 22 Desember 2020 op borgtog van R100 000 elk vrygelaat is. Foto: Adrian de Kock

In ’n dag van hoogdrama is nog drie aanklagte – een van aanhitsing om moord te pleeg en twee van sameswering om moord te pleeg – Dinsdag op die klagstaat teen Mark Lifman, sakeman en vermeende lid van die Kaapse onderwêreld gevoeg.

Lifman het saam met sy vriend en sakevennoot Jerome (Donkie) Booysen in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, moord en geldwassery verskyn. Hulle staan onder meer tereg weens die moord op Brian Wainstein, die sogenaamde steroïdekoning, op 17 Augustus 2017.

Vroeër Dinsdag is nog vyf mense, onder wie ’n polisieman, weens dié moord in hegtenis geneem. Hulle het saam met Lifman en Booysen in die hof verskyn.

Lifman, Booysen en William (Red) Stevens, vermoorde vermeende leier van die 27-bende, is op 22 Desember 2020 in hegtenis geneem. Hulle is dieselfde dag op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Stevens is op 2 Februarie vanjaar voor sy huis in Rembrandtstraat, Kraaifontein, vermoor. Die staat het Dinsdag aan die hof gesê die saak teen Stevens sal teruggetrek word sodra sy doodsertifikaat ontvang is.

Die ander beskuldigdes
André Naudé
André Naudé Foto: Adrian de Kock

Behalwe die bykomende aanklagte teen Lifman, het nog vyf mense – André Naudé, Sam Farquharson, Jakobus (Mannas) Stevens, Egan Norman en Wayne Henderson – ook Dinsdag in die hof verskyn in verband met die samesweringskomplot om Wainstein te vermoor.

Naudé is ’n bekende in die uitsmyter- en veiligheidsbedryf en ook ’n sakevennoot van Lifman en Booysen.

Farquharson is ’n private speurder wat glo veral ondersoekwerk vir die Kaapse onderwêreld doen.

Jakobus is Stevens se neef en was glo een van sy regterhande.

Norman werk ook in die uitsmyterbedryf.

Jakobus (Manna) Stevens
Jakobus (Manna) Stevens. Hy is William (Red) Stevens se neef. Foto: Verskaf

Henderson is ’n speursersant by die Seepunt-polisiekantoor. Hy was voorheen by die Wes-Kaapse teenbende-eenheid onder die leiding van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear werksaam. Hy het ook saam met Kinnear gewerk toe Kinnear speurhoof van die Seepunt-polisiekantoor was.

Luidens die klagstaat staan Henderson saam met Farquharson tereg op aanklagte van sameswering om regsverydeling te pleeg en poging om regsverydeling te pleeg.

Die aanklagte

Die bykomende aanklagte teen Lifman hou daarmee verband dat hy glo in November 2017 met Stevens en Naudé saamgesweer om Nafiz Modack, Colin Booysen, Ashley Fields, Emile Goodley, Carl Lakay en James Dalton te vermoor.

Die planne is glo by Lifman se huis in Fresnaye en by die Kaapstadse Lughawe gesmee.

William (Red) Stevens
William (Red) Stevens. Hy is verlede Dinsdag voor sy huis in Rembrandtstraat, Kraaifontein vermoor. Foto: Verskaf

Luidens die klagstaat staan Lifman, Booysen en Stevens ook tereg op drie aanklagte wat verband hou met die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.

Die staat beweer hulle was deel van ’n groep mense wat bendebedrywighede aangehelp het en dat die misdrywe wat gepleeg is, gehelp het om ’n misdaadbende, in die geval die 27-bende, te bevoordeel.

Die drie, insluitend Jakobus en Norman, staan ook tereg op aanklagte van aanhitsing om openbare geweld te pleeg en intimidasie.

Booysen en Naudé staan ook tereg op aanklagte van sameswering om openbare geweld te pleeg en intimidasie.

Hulle het glo op 9 April 2017 by ’n huis in Plattekloof saamgesweer om openbare geweld te pleeg en sodoende hul opponente te intimideer.

Verdere aanklagte teen Booysen, Stevens, Naudé, Farquharson, Jakobus en Norman is dié van aanhitsing om openbare geweld te pleeg, intimidasie, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die verskaffing van vuurwapens en ammunisie aan mense wat dit nie mag besit nie.

Breet-broers en Henderson

Henderson staan ook tereg op ’n aanklag van korrupsie. Hy het glo in 2017 aangebied om ’n bedrag van R100 000 van óf Farquharson, óf Sheldon Breet te aanvaar om bewysstukke in strafregtelike sake wat Matthew Breet kan inkrimineer, bymekaar te maak en nie by die polisie in te dien nie.

In Desember 2018 is Matthew 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy ’n pleitooreenkoms aangegaan het waarin hy skuld beken het op die moord op Wainstein.

Egan Norman
Egan Norman werk glo as ’n uitsmyter. Foto: Facebook

Die Breet-broers is ook glo lede van die 27-bende.

Henderson het ook in 2017 onder meer saamgesweer om regsverydeling te pleeg deur nie ’n vuurwapen wat vir ballistiese toetse weggestuur moes word, na die forensiese laboratorium te neem nie.

Dit was ondanks ’n ondertekende bevel deur sy bevelvoerder dat die vuurwapen ballisties getoets moet word.

Luidens die klagstaat het Henderson aan Matthew gesê wat hy moet doen as die polisie hom kontak en hy ’n waarskuwingsverklaring moet aflê.

Sam Farquharson
Sam Farquharson. Hy het glo Brian Wainstein se selfoonseine nagespoor. Foto: Facebook

Hy het glo ook in Mei 2017 bewysstukke aan Matthew teruggegee terwyl daar nog ’n ondersoek teen Matthew aan die gang was. Dit was vir ’n onverwante saak.

Henderson het glo ook vir Sheldon, Matthew se tweelingbroer, gewaarsku dat die Valke vir Matthew in verband met Wainstein se moord soek.

’n Lasbrief vir Henderson se inhegtenisneming is reeds in 2018 uitgereik nadat die Valke op ’n opname op een van die broers se selfoon afgekom het waarin Henderson die broer glo voorsê wat om te doen indien die polisie hom nader.

Wayne Henderson
Wayne Henderson, die polisieman van Seepunt wat glo probeer het om bewysstukke weg te steek. Foto: Verskaf

Borgtog vir vyf nuwe verdagtes

Naudé is op borgtog van R50 000 vrygelaat. Farquharson, Jakobus en Norman is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Henderson is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Hulle moet almal elke Maandag om 08:00 by hul plaaslike polisiekantoor aanmeld. Hulle moet ook hul paspoorte inhandig en mag nie die Wes-Kaap sonder die toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie.

Die saak teen al sewe die beskuldigdes is tot 12 Mei vir verdere ondersoek uitgestel en ook sodat die staat die volledige klagstaat aan die verdediging kan gee.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.