Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dagsorg se brakke maak pastoor mal

Toe ’n pastoor oor ’n naweek na ’n huis in Durbanville, Kaapstad, gaan kyk het, het die verkoper hom verseker dis die “stilste woonbuurt”.

’n Foto van die honde op Puppy Town se Facebook-blad. Foto: Facebook

Min het past. Mark Christopher toe besef ’n dagsorgsentrum vir honde word op weeksdae op ’n aangrensende erf bedryf en dit sou hom die volgende vyf en ’n half jaar tot raserny dryf. Nou het hy in ’n hofsaak gewen en Puppy Town moet sluit, maar op sosiale media word hy sleggesê.

Christopher, oorspronklik van Amerika, het aan Rapport vertel toe hy na die huis gaan kyk het, was dit doodstil.

Hy het die vorige eienaar gevra of honde in die buurt of op buurerwe blaf, want hy werk van die huis en het stilte nodig.

“Die vorige eienaar het kategories nee geantwoord. Hy het gesê dis die stilste woonbuurt, maar hy het goed geweet Puppy Town is reg agter hom.

‘Dis duidelik die metro het sy plig versaak.’

“Ek het eers agterna uitgevind van die geblaf. Ek is onkant gevang.”

Christopher het sy huiskooptransaksie probeer keer, “maar dit was te laat”.

Sedertdien is hy op weeksdae onderwerp aan ’n aanhoudende geblaf van tot 17 honde op die erf van Lindi en Pieter Verster. Hy het sy eie honde in die huis gehou om te keer dat hulle ook begin blaf. Hy kon nie die huis probeer verkoop nie, want hy is ’n eerlike mens, sê Christopher.

Hy sou vir potensiële kopers moes sê daar is ’n blafprobleem. “Niemand sou my plek koop nie.”

Lindi Verster Foto: Facebook

Aanvanklik het hy self die probleem probeer oplos deur dit met die Versters te bespreek. Hy het hulle gevra om die onderneming te skuif, “want wie wil nou met jou bure vassit? Niemand nie.”

“Hulle (die Versters) het tyd gevra. Ek het hulle 18 maande gegee om die onderneming te skuif, maar hulle het nie.”

“Honderde” e-posse en oproepe na die Kaapse metroraad het nie gehelp nie. “Die Stad Kaapstad is ’n sirkus,” aldus Christo­pher. “Die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie.”

Einde ten laaste is hy hof toe. Hy het ’n verbandlening op sy huis uitgeneem om die regskoste te kan betaal.

Christopher het op 4 Junie in die hooggeregshof in Kaapstad ’n interdik teen die Versters bekom ingevolge waarvan hulle dadelik moet ophou om die dagsorgsentrum op hul erf te bedryf. Regter Robert Henney het in die uitspraak gesê volgens Christopher het hy sommige dae tot agt ure se geblaf verduur. Puppy Town se kliënte het soggens hul honde afgelaai en saans weer op.

Past. Mark Christopher jare gelede. Foto: Everglen Church

Met elke op- of aflaaislag blaf die ander honde op die erf. Dit het die ander honde in die buurt aan die blaf gesit en tot ’n kakofonie gelei, het Christopher aangevoer.

David Austin, ’n ander buurman, het in ’n verklaring aan die hof gesê die geblaf het sy werk belemmer, veral wanneer hy oor Skype moes praat. ’n Huurder wat in die huis gebly het toe Christo­pher vir sy doktorsgraadstudie oorsee was, het ook in ’n verklaring gesê die geraas was baie steurend.

Henney het bevind die Versters het munisipale regulasies oortree.

Puppy Town is op ver meer as die toegelate 50 m² bedryf – op sowat 146 m² (wat die oprit en motorhuis insluit). Puppy Town het ook nie binne die toegelate sake-ure van 08:00 tot 17:30 gebly nie, maar geadverteer hulle is van 07:00 tot 18:00 oop. Christopher het gesien hoe honde reeds net ná 07:00 afgelaai word.

Henney het bevind die Versters het die geraasbeheerregulasies oortree. Dit kan nie van ’n redelike mens verwag word om die klank van 17 blaffende honde op een eiendom in ’n woonbuurt te verduur nie.

Die diereregulasie is ook oortree omdat meer as ses honde ouer as ses maande op die erf aangehou is sonder ’n permit.

Ook is honde aangehou wat blaf, tjank of huil vir meer as ses opgeloopte minute in ’n uur.

Henney het bevind dis nie ’n goed genoeg verskoning dat die Versters sê hul optrede was wettig net omdat die metroraad nié teen hulle opgetree het nie. Dis duidelik die metro-amptenare het hul plig versaak. Hulle was “grof onbekwaam” en bloot teësinnig om Christopher te help.

Tog, sê die pastoor, sy oorwinning is allesbehalwe soet. “Ek het die probleem (die geblaf) aangeval, nie die mense nie. Nou val mense my op Facebook aan. Munisipale regulasies is tog daar vir ’n rede.”

Hy hoop die Versters maak op ’n ander plek ’n nuwe begin “en hulle land op hul voete”.

“Ek het geen kwade gevoelens teenoor hulle nie. Ek wens hulle die beste toe met hul besigheid.”

Lindi het op 4 Junie op Puppy Town se Facebook-blad gesê dit moet dadelik sluit weens ’n hofbevel. Dit het vier mense hul werk gekos.

Sy het gesê hulle het dringend ’n perseel nodig en ’n tydelike oop stuk grond sal goed werk.

Meer oor:  Durbanville  |  Honde  |  Dagsorgsentrum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.