Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Datum vir Rohde se aansoek om borgtog nog nie bepaal

’n Datum vir Jason Rohde se jongste aansoek om borgtog moet nog bepaal word nadat die appèlhof in Bloemfontein dit toegestaan het.

Jason Rohde in 2018 tydens sy verhoor in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Die appèlhof het Donderdag beslis Rohde mag aansoek doen om verlof tot appèl teen regter Gayaat Salie-Hlophe van die hooggeregshof in Kaapstad se weiering van ’n dringende borgtogaansoek terwyl hy wag dat sy skuldigbevinding en vonnis op appèl geneem word.

Tony Mostert, Rohde se regsverteenwoordiger, het Maandag bevestig Rohde kan nou sy borgtogaansoek by die appèlhof indien in ’n poging om op borgtog vrygelaat te word totdat sy appèlaansoek aangehoor word.

Mostert het verduidelik dat die aansoek gewoonlik terug na die hooggeregshof gaan, maar hy het die appèlhof spesifiek gevra dat die aansoek voor dié hof moet dien.

Salie-Hlophe het die appèlaansoek van die hand

gewys. Sy het gemeen geen ander hof sal tot ’n ander gevolgtrekking kom nie. Sy het gesê dit sal die regstelsel ondermyn indien sy Rohde op borgtog vrylaat en dat hy nie bewys het dat dit in die belang van geregtigheid is om hom op borgtog vry te laat nie.

Salie-Hlophe het hom in November 2018 skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Susan Rohde, in 2016.

Rohde is ook skuldig bevind aan regsverydeling nadat hy die moordtoneel gemanipuleer het om die indruk te skep dat Susan haarself om die lewe gebring het deur haarself met die koord van ’n haartang agter die badkamerdeur te hang.

Die egpaar het die betrokke naweek op die Spier- wynlandgoed buite Stellenbosch tuisgegaan om Sotheby’s International Realty se jaarlikse konferensie by te woon.

Rohde was die hoof van Sotheby’s in Suid-Afrika.

Hy het aangevoer dit is baie belangrik dat hy op borgtog vrygelaat word hangend sy appèl om sy sakebedrywighede af te handel omdat sy drie dogters se voortbestaan afhanklik is daarvan.

Mostert het gesê die aansoek is Donderdag toegestaan, maar die rekord van die aansoek om borgtog voor Salie-Hlophe moet nou eers getranskribeer word. Eers wanneer dit voltooi is en by die hof ingedien is, sal daar ’n datum vir die jongste aansoek bepaal kan word.

Die verloop van die saak:

November 2018: Rohde word skuldig bevind aan die moord op Susan Rohde;

Februarie 2019: Rohde word 18 jaar tronkstraf opgelê vir die moord en ’n bykomende vyf jaar tronkstraf vir regsverydeling. Drie jaar van die vyfjaarvonnis word samelopend met die ander vonnis uitgedien. Hy is dus effektief 20 jaar tronkstraf opgelê;

April 2019: Rohde se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis word van die hand gewys;

April 2019: Rohde dien sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis by die appèlhof in Bloemfontein in;

Junie 2019: Die appèlhof staan Rohde se aansoek toe en hy dui aan hy gaan ’n dringende borgtogaansoek indien hangende sy appèl-saak;

Augustus 2019: Rohde se borgtogaansoek word deur Salie-Hlophe in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor en van die hand gewys. Rohde dien ’n aansoek om verlof tot appèl teen dié bevinding in, maar dit word nie toegestaan nie; en

September 2019: Rohde wend hom tot die appèlhof met ’n aansoek om teen Salie-Hlophe se weiering van sy aansoek om borgtog te mag appelleer. Dit word toegestaan.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Bloemfontein  |  Borgtog  |  Appelhof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.