Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
DBV-vrou getuig oor haglike toestande op Modise se plaas

WAARSKUWING: Sommige inligting en ’n foto by hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

’n Senior inspekteur van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het ontstellende getuienis gelewer op die eerste dag van die verhoor van Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, se dieremishandelingsaak.

Grace de Lange het getuig oor die tonele wat sy aanskou het toe sy op 5 Julie 2014 op Modise se plaas naby Potchefstroom was.

Verrottende karkasse, asook lewende, uitgeteerde diere, was van die ergste gevalle van diereverwaarlosing.

Grace de Lange, inspekteur van die NDBV, het Dinsdag ontstellende getuienis gelewer oor die toestand van die diere op Modise se plaas. Foto: Deaan Vivier

Modise staan tereg op ses aanklagte wat verband hou met diereverwaarlosing en -mishandeling in die Potchefstroom-streekhof.

De Lange was die tweede getuie wat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, geroep het. AfriForum vervolg Modise privaat namens die NDBV nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit het om haar nie te vervolg nie. Die eerste getuie was ao. Andrew Serame, ’n polisieman wat foto’s op die plaas geneem het.

Modise het Dinsdag skuld op al die aanklagte ontken. Sy het vroeër gesê sy was nie bewus van die probleme op haar plaas nie, omdat ’n plaasbestuurder in beheer was.

Dinsdag is skokkende foto’s in die hof vertoon van die haglike omstandighede wat die NDBV in Julie 2014 op Modise se plaas Modderfontein tussen Parys en Potchefstroom aangetref het.

De Lange het getuig die DBV-tak in Parys het die nasionale kantoor gebel om na die plaas te gaan, omdat die probleem te omvangryk was vir plaaslike inspekteurs om te behartig.

Thandi Modise, speaker van die parlement, Dinsdag in die hof in Potchefstroom. Foto: Deaan Vivier

De Lange het getuig daar was altesame 53 varke in verskillende stadiums van ontbinding op die plaas. “Die omstandighede was verskriklik.”

Sy het vertel hoe sy aanskou het hoe ’n pasgebore vark deur uitgehongerde varke opgevreet is.

Sy en ander inspekteurs van die DBV het ook onder meer 19 dooie bokke en skape aangetref. Van die lewende diere was uitgeteer en verhonger.

“Ek kon die skape se beendere voel toe ek deur die wol vat.”

Van die diere was te swak om op te staan en is van kant gemaak. Luidens die klagstaat is meer as 224 diere uitgesit.

De Lange het getuig daar was geen kos, water of behoorlike skuiling vir die diere nie.

’n Put is ook op die plaas gegrawe waar talle ou karkasse en beendere van diere gevind is.

“Dit het oral waar diere was, na verrottende vleis geruik.” De Lange het voorts getuig die lewende en dooie varke was tussen mekaar en dat die lewende varke aan die karkasse probeer vreet het.

“Een van die varke het geürineer, toe storm die arme varke daarop af en drink die urine.”

Een van die 53 varke wat reeds vrek was toe die DBV op Modise se plaas aangekom het. Daarna moes ’n verdere 107 varke van kant gemaak word.

Skape, bokke en varke het ook gretig na die inspekteurs gehol.

Volgens De Lange is dit tipiese gedrag wanneer diere uitgehonger is.

“Die varke het aan ons bene gebyt.”

Mense van die buurplase het kos en water na die plaas gebring nadat die NDBV daar aangekom en die omstandighede bekend geword het, het De Lange getuig. Op die foto’s wat in die hof vertoon is, kan gesien word hoe van die diere aan die kos vreet.

Volgens De Lange het sy ook geen medisyne op die plaas gevind waarmee diere behandel kon word nie.”

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Gerrie Pretorius  |  Potchefstroom  |  Plaas  |  Afriforum  |  Hof  |  Thandi Modise  |  Thandi Modise-Verhoor  |  Dieremishandeling  |  Dbv  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.