Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
'Dé, kom haal jul treine'

Vat jul lokomotiewe terug – die kontrak het nooit werklik bestaan nie.

Dit was Maandag die boodskap van Popo Molefe, voorsitter van die direksie van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), aan die oorsese maatskappy wat ingevolge ’n korrupte tender lokomotiewe gelewer het wat nie vir plaaslike spoorlyne geskik is nie.

Die hooggeregshof in Johannesburg het gister beveel dat die kontrak vir die lokomotiewe wat Prasa en die maatskappy Swifambo Rail Leasing in 2013 gesluit het, tersyde gestel moet word. Die waarde van die kontrak was aanvanklik R3,5 miljard, maar het mettertyd tot R5 miljard gegroei.

Bykans R4 miljard daarvan is reeds aan Swifambo betaal. 

Die balans van die kontrak was ’n kernkwessie vir regter E.J. Francis.

“Sowat R1 miljard van openbare geld is nog nie aan Swifambo oorbetaal nie. Dit is ’n deurslaggewende faktor in die besluit om die kontrak op te hef. 

“Die gebruik van daardie geld tot die uitsluitlike voordeel van Swifambo kan nie in die openbare belang geregverdig word nie,” het hy gesê. 

“Korrupsie sal seëvier as die hof nie hierdie tender tersyde stel nie.”

Hy het ook ’n kostebevel teen Swifambo, die respondent, toegestaan. Nadat Swifambo die tender vir die verskaffing van 70 lokomotiewe ingepalm het, het hy die Spaanse subkontrakteur ­Vossloh España aangestel. 

Swifambo het geen ondervinding in die bedryf gehad nie.

Lucky Montana

Prasa het toe 13 van Vossloh se blou Afro4000-lokomotiewe ingevoer, maar hulle was blykbaar te hoog vir Suid-Afrika se spoorlyne.

Swifambo het net “mindere administratiewe takies” behartig, het Francis gesê, terwyl Vossloh beheer oor die uitvoering van die kontrak gehad het.

Swifambo het net “mindere administratiewe takies” behartig, het Francis gesê, terwyl Vossloh beheer oor die uitvoering van die kontrak gehad het.

“Genoeg bewyse bestaan dat die reëling tussen Swifambo en Vossloh op frontvoorhouding neerkom. 

“Dit is duidelik Swifambo was net ’n vals deelnemer wat vergoed is vir die gebruik van sy BSEB (breë swart ekonomiese bemagtiging)-gradering.”

Hy het gesê in die verhouding tussen Swifambo en Vossloh is die mense uitgebuit wat juis deur BSEB-wetgewing bevoordeel moet word.

“Korrupsie is ’n kanker wat stadig aan ons samelewing knaag. As dit nie gekeer word nie, sal dit ons hele samelewing verteer. 

“Chemoterapie is in dié geval ’n doeltreffende geneesmiddel wat die kanker in die kiem sal smoor,” het Francis gesê.

Dit is baie duidelik dat korrupsie ’n euwel in ons samelewing is. Ons moet dit nie duld nie. Ons verwag van Vossloh om die lokomotiewe terug te neem Europa toe. Wat ons betref, is die kontrak onwettig en het dit nooit werklik bestaan nie.

Molefe sê die uitspraak staaf die direksie se vroeëre voorbehoude oor die oënskynlik korrupte manier waarop Prasa, onder leiding van ­Lucky Montana, die kontrak aan ­Swifambo toegeken het. 

Volgens Francis het Montana Prasa “soos ’n tiran bestuur”.

Molefe sê die hof het die direksie se naam in ere herstel.

“Dit is baie duidelik dat korrupsie ’n euwel in ons samelewing is. Ons moet dit nie duld nie. Ons verwag van Vossloh om die lokomotiewe terug te neem Europa toe. Wat ons betref, is die kontrak onwettig en het dit nooit werklik bestaan nie.” 

Prasa se direksie het die hof laat in 2015 genader om die Swifambo-kontrak te hersien. 

Dit was nadat Rapport berig het dat die Afro4000-lokomotiewe nie geskik is vir Suid-Afrikaanse spoorlyne nie.

Die koerant het later berig sowat R80 miljoen is deur Auswell Mashaba, besturende direkteur van Swifambo, aan Maria Gomes, ’n Angolese sakevrou, en George Sabelo, ’n prokureur, betaal.

Gomes en Sabelo het gesê hulle het noue bande met pres. Jacob Zuma. Molefe het destyds beweer Mashaba het aan hom en ander Prasa-direksielede gesê Gomes het aangevoer sy verteenwoordig die ANC en 10% van die waarde van die kontrak moet aan die party betaal word.

Die ANC het dit ontken. 

* Die DA het Maandag klagte van korrupsie teen Sfiso Buthelezi, adjunkminister van finansies, ingedien weens die voordeel wat hy na bewering gekry het uit die toekenning van tenders toe hy Prasa se voorsitter was.

– News24 

– News24 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.