Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
De Lille se saak teen DA tot Vrydag uitgestel

Patricia de Lille, leier van die Good-party, het die DA Woensdag vir ’n klomp “blou leuenaars” uitgekryt.

Dit was kort nadat haar hofaansoek teen die DA in die hooggeregshof in Kaapstad tot Vrydag toe uitgestel is sodat die regter oor die dringendheid daarvan kan besluit.

Patricia de Lille

De Lille het haar tot die hof gewend omdat die DA, na berig word, nie ’n beslissing van die Verkiesingskommissie (OVK) aanvaar dat hy haar om verskoning moet vra nie.

Die OVK het bevind die DA het die Kieswet en die verkiesingsgedragskode oortree deurdat opdrag gegee is aan die personeel in sy inbelsentrum om aan kiesers te sê De Lille is deur die DA “afgedank”.

De Lille het in Oktober verlede jaar as burgemeester van Kaapstad bedank.

Haar regsverteenwoordiger het Woensdag in die hof argumente ten gunste van die dringendheid van die kwessie geopper, terwyl die regspan van die DA daarteen geargumenteer het.

Regter Robert Martin het gesê hy kan nie met die saak voortgaan totdat hy ’n finale besluit geneem het oor die kwessie van dringendheid nie.

“Ek kan onder geen omstandighede vandag ’n beslissing oor die kwessie maak nie. Dit word uitgestel tot die vroegste Vrydag vandeesweek met die toestemming van die regterpresident,” het hy gesê.

De Lille het ná die verrigtinge buite die hof die uitstel as ’n “tegniese” punt bestempel aan ’n groep ondersteuners geklee in die oranje Good-T-hemde.

“Dit verander nie die feit dat die DA ’n klomp blou leuenaars is nie,” het sy onder toejuiging gesê.

“Hulle het gelieg dat hulle my afgedank het, terwyl hulle hoegenaamd geen getuienis voor ’n tugkommissie het dat ek skuldig bevind en afgedank is nie. So, hulle gaan voort om ’n klomp leuenaars te wees.

“Die getuienis voor die hof Vrydag sal toon dat ’n paar dae voordat ons die ooreenkoms onderteken het, ons ooreengekom het op ’n ope tugverhoor voor die media en die publiek. So, hulle lieg as hulle sê ek het bedank in ruil daarvoor dat hulle die klagte teen my laat vaar.”

’n SMS van Mmusi Maimane, DA-leier, is volgens De Lille deel van haar getuienis. “Maimane sê in dié SMS ‘hy voel saam met my omdat hy weet hoe dit voel om gemarginaliseer te word’. So, hy bewonder my terwyl die kabaal van laptop-boys die saak beveg. Daar is groot verdeeldheid in die DA, wat dié saak sal toon. Ek het altyd my vertroue in die onafhanklike regstelsel geplaas.”

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het in reaksie gesê die party “het geen tyd vir beledigings nie”.

“Ons het ’n geloofwaardige aanbod om een Suid-Afrika vir almal te bou, anders as De Lille wat niks anders het as om beledigings na die DA te slinger nie.”

Meer oor:  Ovk  |  Patricia De Lille  |  Politiek  |  Hof  |  Da  |  Good-Party  |  Verskoning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.