Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Deel van konstabel se oogbal afgesny in onderonsie

’n Polisiebeampte van Pretoria wat beseer is tydens ’n beweerde aanranding in ’n kroeg sal moontlik ’n kornea-oorplanting moet kry. Die onderste stuk van konst. Leon Mentz se oogbal is afgesny toe ’n stukkende glas in sy gesig gegooi is.

Die voorval op 22 Junie was net ’n rukkie nadat Francois Leibrandt, die vermeende aanrander, by ’n ander kuierplek in die stad weggejaag is en hy die eienaar glo gedreig het.

Die broers Arrie en konst. Leon Mentz. Die foto is ’n ruk voor die aanrandingsvoorval geneem. Foto: Verskaf

Byna ’n maand later is Mentz (33) steeds op siekverlof.

“Hy kan nog nie met sy regteroog sien nie, daar is net ’n wit kol. ’n Glasskerf het ’n onderste stuk van die oogbal afgesny en hy moet nou drie tot ses maande wag om te kyk hoe die oog herstel, voordat hy moontlik ’n kornea-oorplanting sal kry. Hy is egter vol vertroue dat hy so gou as moontlik sy pligte kan hervat,” sê ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die Sinoville-polisie.

Mentz se broer, Arrie (31), se oog, wat erge bloeding gehad het, is buite gevaar, het Van Dyk bygevoeg.

Mentz, van die Sinoville-polisie, en Arrie het daardie Junie-aand by Die Kantoor in die noorde van Pretoria potspel gespeel.

Die twee is na bewering in die mansbadkamer met vuiste en ’n glasbottel geslaan, waarna Leibrandt glo vir Mentz in die parkeerterrein met ’n stukkende glas in die gesig gegooi het.

Leibrandt (24), Cindy Esterhuizen (26) en Jacques van der Merwe (32) is kort daarna op klagte van aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer in hegtenis geneem.

Tydens hul borgtogaansoeke in die landdroshof in Pretoria-Noord is getuig dat daar minstens nog drie ander soortgelyke sake, sowel as een van poging tot moord, teen Leibrandt is.

Konst. Leon Mentz gaan dalk ’n kornea-oorplanting moet kry nadat ’n stuk van ’n glas die onderste deel van sy oogbal afgesny het. Foto: Verskaf

Esterhuizen en Van der Merwe is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Leibrandt se borgtogaansoek is van die hand gewys, onder meer omdat hy “die gemeenskap terroriseer”.

Verskeie kuierplekke in Pretoria het hom die afgelope twee jaar toegang verbied weens vorige beweerde aanrandingsvoorvalle, soos op Hennie du Preez, eienaar van Die Dansvloer, nie ver van Die Kantoor af nie.

Francois Leibrandt tydens sy borgtogaansoek in die hof.Foto: Deaan Vivier

“Leibrandt was so twee jaar terug betrokke in ’n bakleiery voor ons perseel. Hy en vriende het mense aangerand en ek het uitgegaan om te gaan help.

“Hy het my van agteraf geslaan. Ek het omgedraai en op hom afgestap, waarna hy weggehardloop, in sy bakkie gespring en weggejaag het.

“Ons het hom toe toegang by Die Dansvloer verbied. Hy mag nie hier kom nie.

“Op Saterdag 22 Junie het iemand kom sê Leibrandt het ingeglip terwyl sy pêlle toegang betaal het. Hy het by die kroeg gestaan,” vertel Du Preez.

Hy het mense gestuur om vir Leibrandt te sê om te loop.

“Ek het ook vir hom beduie om te gaan. Hy het ’n shooter-glas in sy hand gehad. Hy het dit gelig, my ge-cheers, gedrink en toe eers, onder begeleiding van die bouncers, na die deur gestap,” sê Du Preez.

“Toe slaan hy die traliehek by die uitgang met sy kop en skree dat ek my rug moet dophou.”

Vandaar is Leibrandt en sy groepie na Die Kantoor, waar Mentz-hulle aangerand is.

Meer oor:  Konst. Leon Mentz  |  Francois Leibrandt  |  Aanranding  |  Operasie  |  Konstabel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.