Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Delwer-moorde: Man kry 3 keer lewenslank

Regstelling:

Volksblad het op 16 Mei verkeerdelik berig dat adv. Johan de Nyschen nie tydens die vonnisoplegging van Juan Sonnenberg in die rondgaande hof op Virginia was nie. De Nyschen was net nie in die hof toe Sonnenberg ’n dreigement aan De Nyschen gerig het nie. Volksblad vra verskoning vir die fout.


Juan (Manne) Sonnenberg (61), moordenaar van drie mans van Christiana, is Woensdag in die rondgaande hof in Virginia in die Vrystaat drie keer lewenslank tronk toe gestuur.

’n Woedende Sonnenberg het in die hof aan polisielede gesê sy medegevangenes het sy valstande, waarvan een tand met silwer en ’n ander een met goud gekroon is, gesteel.

“Gaan sê vir die vrou van Volksblad ek wil ’n onderhoud hê, ek is besteel,” het Sonnenberg gesê.

Sonnenberg het ook ’n boodskap aan adv. Johan de Nyschen, die aanklaer, gestuur en gesê De Nyschen moet maar “sy rug dophou”.

De Nyschen was nie tydens vonnisoplegging in die hof nie.

Sonnenberg was tot met sy skuldigbevinding verlede week op borgtog uit, maar is sedertdien in Ventersburg aangehou.

Regter Pitso Molitsoane het met vonnisoplegging gesê Sonnenberg het die moorde beplan en moet daarom lewenslank tronk toe gaan vir elk van die moorde.

Juan Sonnenberg kort nadat hy verlede week aan die moord op drie mans skuldig bevind is.Foto: Alet van der Walt

Sonnenberg, ook ’n veroordeelde diamantsmokkelaar, is skuldig bevind dat hy die twee Grant-broers, Jerome (28) en Michael (20), en nog ’n man, Riaan Ruiters (23), op sy plaas, Diamant, in die Hertzogville-distrik doodgeskiet het.

Ruiters en die Grant-broers is die laaste keer lewend gesien toe hulle op 15 Februarie 2015 saam met Sonnenberg in die rigting van sy plaas gery het.

Die mans se erg ontbinde lyke is sowat ’n maand later ná ’n uitgebreide polisiesoektog in vlak grafte op die plaas gekry.

Die mans is in hul agterkop geskiet en Molitsoane het bevind dat die staat bo alle twyfel bewys het dat Sonnenberg vir die moorde verantwoordelik was.

Sonnenberg het die oggend van 15 Februarie met ’n rooi afslaankap Corvette na Christiana gery en sy oorlede minnares, ene Kgagametso, se ma en niggie opgelaai.

Hy het hulle later die dag met sy bakkie teruggebring waarna die drie mans saam met hom gery het en nooit weer gesien is nie.

Sonnenberg se Russies gebore vrou, Elena, was ten tyde van die moorde by familie in Rusland.

Elena was nie Woensdag by die hof nie maar ander familielede het Sonnenberg ondersteun.

Div Pretorius en adv. Hannes Rust het namens Sonnenberg opgetree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.