Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Departement hof toe gesleep oor toelaes vir bejaardesorg

Die Imbumba Association for the Aged daag die departement van die maatskaplike ontwikkeling in die Oos-Kaap Dinsdag in ’n dringende aansoek voor die hooggeregshof in Grahamstad om die departement te dwing om sy subsidiegeld uit te betaal.

Sonder die geld is Imbumba nie in staat om verder dienste te lewer aan die bejaardes na wie hy omsien nie.

Dit beteken dat die meeste van hierdie bejaardes nie geld vir onder meer kos of medikasie sal hê nie.

Imbumba verskaf ook doeke aan bejaardes, sien om na hul persoonlike higiëne, help hulle met fisieke oefeninge, en was hul wasgoed en maak hul huise skoon.

Sowat driekwart van Imbumba se begunstigdes is ouer vroue wat nie welaf is nie en na hul kleinkinders omsien.

Hulle is afhanklik van die staatstoelaes vir bejaardes, kindertoelaes en bydraes wat sommiges ontvang vanaf familielede wat hulle moes verlaat het om werk in ander provinsies te vind.

bejaardes, toelae, covid-19
Foto ter illustrasie. Hierdie bejaarde vrou is op 31 Maart op vlak 5 van die inperking afgeneem toe sy haar staatstoelaag in Khayelitsha gaan afhaal het. Foto: Reuters

In die gevalle waar van die begunstigdes alleen woon, word hul teenwoordigheid en hulpmiddele verwelkom sodat die bejaardes nie vereensaam nie.

Luidens die hofaansoek het die departement in Mei diensooreenkomste met Imbumba se 25 lidorganisasies onderteken.

Dié ooreenkoms is teruggedateer tot 1 April, maar Imbumba beweer dat hy geen sent van die subsidiegeld sedert die ondertekening van die ooreenkoms ontvang het nie.

Imbumba beweer die departement het die diensooreenkoms enkele weke ná die ondertekening in pas met die regulasies van die inperking verander.

“Die departement se verweer was dat die inperkingsregulasies ouer persone se bewegings beperk en hulle dus nie Imbumba se dienssentrums sou besoek nie.

“Om hierdie rede het die departement gevoel dat die subsidies nie meer betaal hoef te word soos in die diensooreenkomste ooreengekom is nie,” lui Imbumba se verklaring.

Die departement is glo nou net bereid om die toelaes vir Imbumba se versorgers te betaal.

Volgens Imbumba het sy lede steeds ooreenkomstig met hul kontraktuele en morele verpligtinge ’n wye verskeidenheid dienste aan hul begunstigdes gelewer.

Die departement beweer dat Imbumba se besluit om tuisversorging aan begunstigdes te bied geïmplementeer is sonder dat hy geraadpleeg is, en dat dit op onwettige en onreëlmatige uitgawes van staatsfondse neerkom.

Hy sê verder dat Imbumba hom nie by die ooreenkomste in hul diensverskafferskontrak gehou het nie, en dat die departement die Wet op Openbare Finansiële Bestuur sal oortree indien hy vir die tuisversorgingsdienste betaal.

Volgens die departement het hy kospakkies aan die groep bejaardes uitgedeel, maar Imbumba ontken dit ten sterkste.

Imbumba gaan argumenteer dat sy dienste tydens die inperking as noodsaaklike dienste kwalifiseer en in pas met die regulasies van die inperking is.

Netwerk24 het ook voorheen berig dat die voortbestaan van 60% van die Oos-Kaapse nieregeringsorganisasies (NRO’s) in die weegskaal hang, omdat hulle in die nuwe boekjaar geen sent van hul subsidiegeld vanaf die regering ontvang het nie.

In antwoord op ’n parlementêre vraag het dit aan die lig gekom dat die departement se betalings aan meer as 1 600 NRO’s uitstaande is.

Die regsfirma Webber Wentzel tree gratis vir Imbumba op.

Meer oor:  Bejaardes  |  Hof  |  Toelaes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.