Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Derick vs. Karlien: Nuwe hofstryd oor kinders wag

Die voormalige Springbok-rugbyspeler Derick Hougaard gaan terugveg nadat Karlien van Jaarsveld, sy eksvrou, aangedui het dat sy die hof gaan vra om sy regte met betrekking tot hul twee kinders tydelik te wysig.

Karlien van Jaarsveld Foto: Argief

Die wysiging is hangende ’n ondersoek na wat in die kinders se beste belang is met betrekking tot Hougaard se kontak met hulle.

Hougaard het regshulp ingewin nadat Van Jaarsveld dié kennisgewing op hom beteken het. Die aansoek is tweeledig: Indien die hof Van Jaarsveld se aansoek (eerste deel) toestaan, sal Hougaard tot tyd en wyl die twee vyfjariges net onder toesig mag sien. Van Jaarsveld vra die hof ook om ’n kurator aan te stel om na die kinders se belange in die saak om te sien.

Die kurator se verslag ná afloop van die ondersoek moet “al die feite en omstandighede bevat en ’n aanbeveling maak (tweede deel) oor die ouerlike verantwoordelikhede en regte wat oor die kinders uitgeoefen word”, lui Van Jaarsveld se kennisgewing. Die bestaande ooreenkoms oor toegang tot die kinders moet dan dienooreenkomstig gewysig word.

Hougaard en Van Jaarsveld is geskei toe die tweeling een jaar oud was.

Derick Hougaard Foto: Argief

Die regsverteenwoordigers praat

Hougaard se regsverteenwoordiger, Martin-Dean Hayward, direkteur van Le Roux en Du Plessis Prokureurs Ingelyf, het by navraag gesê die laaste ding wat Derick wil hê, is dat die saak in ’n media-sirkus ontaard, omdat daar twee minderjarige kinders betrokke is.

“Ons gaan nie ons saak in die media litigeer nie, maar Derick sal te alle tye in belang van sy kinders optree. Hy wil sy kinders bitter graag sien. My instruksies is dat hy hulle ses maande gelede laas gesien het.”

Hayward het verder benadruk dat daar twee kante van ’n saak is.

Van Jaarsveld se prokureur, Kobus van Niekerk van JI van Niekerk Ingelyf, sê: “Dis vir Karlien baie swaar.”

Hy sê die hoofprobleem is Hougaard se inkonsekwentheid, wat die kinders, volgens hom, nadelig beïnvloed. “Dit gaan dus vir ons oor die regulering van die besoektye sodat Derick ’n gesonde verhouding met sy kinders kan hê.”

Van Jaarsveld se bewerings

Van Jaarsveld grond haar aansoek op ’n verslag van 19 Januarie vanjaar deur Sophia Commerford, ’n maatskaplike werker.

Commerford sê die meeste van die mediasie het gehandel oor Van Jaarsveld wat Hougaard vra om eenvormig te wees in sy kontaksessies met die seuns.

Dit was en is vir my ontsettend belangrik dat die respondent (Hougaard) ’n betekenisvolle verhouding met ons twee seuns behou en ’n integrale deel van hul lewens bly, ondanks die egskeiding.
Karlien van Jaarsveld

Volgens Commerford sal Hougaard hulle glo ’n ruk lank gereeld sien en dan weer weke lank nie.

“Mnr. Hougaard het genoem dat sy werkskedule moeilik is. Sy werk verg van hom om te reis en sy werkure is onvoorspelbaar. Hy was ook twee maal gehospitaliseer. Mnr. Hougaard het genoem dat mev. Van Jaarsveld ’n ondersteuningstelsel het om met die kinders te help wat hy nie het nie,” skryf sy.

“Hy het ook ’n probleem dat die dagmoeder, Bingo, die kinders moet vergesel wanneer hulle vir hul pa kom kuier,” skryf sy.

Van Jaarsveld voer in haar openingsverklaring aan dat Hougaard “eindelose verskonings” maak om nie sy kinders te sien nie en dat sy gebrek aan toewyding en bestendigheid volgens haar die seuns nadelig raak.

Van Jaarsveld lys besoektye wat Hougaard uitgestel of op die nippertjie gekanselleer het.

Hougaard moet ‘deel bly van kinders se lewe’

Sy verwys ook na die voorval in Desember 2018 toe Hougaard en die tweeling Jacaranda FM se Carols by Candlelight op Loftus Versfeld in Pretoria bygewoon het, terwyl sy in die Kaap getoer het.

Van Jaarsveld het boodskappe gekry dat Hougaard na bewering besope is. Volgens haar verklaring het sy met Hougaard se vriendin, die sangeres Nádine, se ma gepraat wat eers gesê het sy kyk na die kinders, en toe glo gesê het dat Hougaard “met die kinders weggehardloop het”.

Van Jaarsveld het haar tot Instagram gewend om haar ondersteuners te kry om te help soek. Die sanger Jo Black het hulle glo opgespoor en by hom gehou totdat Ronel Brink, Van Jaarsveld se ma en bestuurder, die kinders gaan haal het.

Hougaard het later ontken dat die kinders enigsins in die voorval aan gevaar blootgestel was.

“Dit was en is vir my ontsettend belangrik dat die respondent (Hougaard) ’n betekenisvolle verhouding met ons twee seuns behou en ’n integrale deel van hul lewe bly, ondanks die egskeiding,” skryf Van Jaarsveld.

Die aansoek sal na verwagting op 12 Februarie 2020 in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Meer oor:  Karlien Van Jaarsveld  |  Derick Hougaard  |  Celebs  |  Hofstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.