Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Desperate ma wat dogter (7) ophang, moet 7 j. sit

Oomblikke voordat ’n ma van Hoopstad in die Vrystaat haar dogter uit desperaatheid opgehang het, het sy haar gedruk en gesoen.

Sarah Kwitsi (29) is in die rondgaande hooggeregshof in Virginia in ’n pleit-en-vonnis-ooreenkoms op ’n aanklag van moord tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.

Sy het voor waarnemende regter Johannes Moeng beken dat sy op 28 Oktober verlede jaar haar sewejarige dogtertjie, Lesego, met ’n tou aan ’n balk opgehang het omdat hulle geldelik baie swaargekry het.

Luidens haar pleitverduideliking het haar geldelike probleme begin toe sy geskei is en haar eksman geweier het om onderhoud te betaal.

Kwitsi beweer haar eksman het ontken dat Lesego sy kind is, hoewel ’n vaderskapstoets die teendeel bewys het.

Sy sê hoewel sy dag- sowel as nagskofte by ’n fabriek in Hoopstad gewerk het, het hulle steeds onder ernstige geldelike probleme gebuk gegaan.

Ure voor die moord het ’n geldskieter (loan shark) by haar huis opgedaag om ’n betaling te eis. Dit is toe dat sy besluit het om haar eie lewe te neem.

Sy het Lesego daarvan vertel.

“My dogter het my gevra gaan ek gif drink. Ek het haar geantwoord ons het nie eens geld om gif te koop nie.”

Lesego het toe gesê sy sal liewer saam met haar ma doodgaan as om sonder haar te lewe. Hulle het saam besluit dat sy eers Lesego se lewe sou beëindig en dan haar eie.

Kwitsi sê sy het ’n tou buite haar huis gekry.

Sy het Lesego met ’n soen en omhelsing gegroet. Daarna het sy haar kind aan die balk in hul kombuis opgehang.

Toe Lesego geluide begin maak en haar liggaam wild begin ruk het, het sy ’n stuk lap om haar mond vasgebind.

Sy sê in haar pleitverduideliking bloed het uit haar dogter se mond geloop. Alles het te veel vir haar geword en sy het die huis verlaat.

Toe sy terugkeer, was haar kind dood. Lesego se vingers was om die tou, asof sy dit probeer losmaak het.

Kwitsi kon nie ’n tou kry om haarself op te hang nie en het besluit om later haar eie lewe te neem.

Sy sou egter eers moes wag om ’n volgende salaris te kry voordat sy ’n tou kon koop om haarself om die lewe te bring.

Kwitsi het aan ’n familievriend ’n leuen vertel sodat hy by haar huis kon opdaag om op Lesego se lyk af te kom.

Nadat die lyk gevind is, het sy haarself die volgende oggend aan die polisie oorgegee en ’n bekentenis afgelê.

Adv. Nono Lesie-Shale het aangekla.

Dawie Reyneke van Regshulp SA het vir Kwitsi opgetree.

Meer oor:  Virginia  |  Tronkstraf  |  Vonnisoplegging  |  Hof  |  Kindermoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.