Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Diabeet dood in sel: Vervolg 4, sê landdros

Vier werknemers van die departement van korrektiewe dienste moet vervolg word nadat ’n verhoorafwagtende man met diabetes langer as twee maande gewag het vir medikasie en toe in aanhouding dood is.

Stanley Willemse (24) is in 2010 dood terwyl hy verhoorafwagtend was in die Modderbee-gevangenis in Benoni aan die Oos-Rand.

Willemse is van huisbraak aangekla.

Stanley Willemse wat in 2010 in aanhouding dood is weens nalatigheid van die departement van korrektiewe dienste.Foto: verskaf

Willemse het vanaf 24 Maart tot 4 Junie gewag voordat die DKD sy medikasie verskaf het.

Landdros Smita Naidoo, wat pas die geregtelike doodsondersoek na Willemse se dood gelei het, het haar sterk uitgespreek teen die departement wat gevangenes se menseregte skend deur nie basiese mediese sorg te verskaf nie.

Willemse, ’n tipe 2-diabeet, moes insulien ontvang, maar die DKD het dié medikasie nie betyds verskaf nie.

Niemand het ook die moeite gedoen om op te volg of Willemse die medisyne gekry het nie.

As ’n insulienafhanklike diabeet was mediese personeel veronderstel om Willemse se bloedsuikervlakke gereeld te moniteer en ook dit is nie gedoen nie, het Naidoo in haar uitspraak gesê.

Willemse het ’n lugweginfeksie ontwikkel kort nadat hy vir die eerste keer sy medikasie op 4 Junie ontvang het.

Willemse het op 23 Julie vir die eerste keer behoorlike mediese behandeling vir die lugweginfeksie ontvang.

Patricia Perestrelo, Willemse se ma, sê ongelukkig het die prokureur nie moeite gedoen nie en haar seun het in die tronk doodgegaan.

Naidoo het bevind dat Willemse dood is weens die versuim van die departement om betyds die regte mediese behandeling te verskaf en dat ’n transkripsie van die geregtelike doodsondersoek aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig moet word om die vier betrokke amptenare te vervolg.

Landdros Mitzi Schutte, die landdros wat Willemse borgtog geweier het, het destyds ’n faks aan die gevangenis gestuur om navraag te doen of Willemse sy medikasie ontvang.

Schutte het weer navraag gedoen en op 6 Junie het Willemse, wat toe reeds siek was, gesê hy kry net die medisyne vir diabetes.

Op 22 Julie het Willemse in die hof verskyn en hy was baie bleek en het vir Schutte gesê hy het bloed opgebring en dat hy weer nie die nodige medisyne gehad het nie omdat dit op bestelling was.

Schutte het Willemse op waarskuwing vrygelaat en aan sy prokureur gesê om te reël dat die hof in Randburg, waar hy ook moes verskyn, hom ook moes vrylaat.

Patricia Perestrelo, Willemse se ma, sê ongelukkig het die prokureur nie moeite gedoen nie en haar seun het in die tronk doodgegaan.

Sy het gesê ’n gevangene het haar gebel om te sê haar seun is dood voordat amptenare van die DKD haar gebel het.

Perestrelo sê sy gaan ’n siviele eis teen die DKD instel.

Meer oor:  Modderbee-Gevangenis  |  Stanley Willemse  |  Benoni  |  Diabeet  |  Aanhouding  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.