Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Dié keer is ons gereed,’ sê Cele oor Zuma-hofverskyning

Die polisie sal gereed wees vir “enige gebeurlikheid” wanneer oudpres. Jacob Zuma weer Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg moet verskyn, sê Bheki Cele, minister van polisie.

Oudpres. Jacob Zuma dans by een van sy vorige hofverskynings by die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Deean Vivier

“Of Zuma nou in persoon daar is of nie, ons sal gereed wees om die situasie te hanteer,” het Cele Dinsdag op ’n mediakonferensie in Inanda in KwaZulu-Natal gesê.

Sy kommentaar volg nadat grootskaalse onluste en geweld in dié provinsie uitgebreek het kort nadat Zuma op 7 Julie by sy Nkandla-woning in hegtenis geneem is.

Minstens 251 mense is in KwaZulu-Natal dood in die onluste.

Zuma moet Dinsdag weer in die hof verskyn vir sy beweerde aandeel in die wapenskandaal. Dit volg nadat regter Piet Koen op 20 Julie beslis het die saak word tot 10 Augustus uitgestel nadat Zuma se twee regsverteenwoordigers, adv. Dali Mpofu SC en Thabani Masuku SC, ’n aansoek daarvoor gebring het. Hulle het in die aansoek aangevoer dat Zuma self in die hof wil wees en nie net per oudiovisuele skakel vanuit die Estcourt-gevangenis aan die hofverrigtinge wil deelneem nie.

Dié deel van die hofsaak is nog nie die verhoor self nie, maar handel oor die spesiale pleit deur Zuma dat adv. Billy Downer hom as staatsaanklaer in die saak moet onttrek.

Duduzile Zuma, dogter van Jacob Zuma, by die hooggeregshof in Pietermaritzburg tydens een van haar pa se vorige verskynings. Foto: Deaan Vivier

Koen het in sy uitspraak opdrag gegee aan die departement van korrektiewe dienste om ’n lys saam te stel van wat die voor- en nadele sal wees indien Zuma se spesiale pleit virtueel aangehoor word wanneer die saak vir tussen 10 en 13 Augustus op die hofrol geplaas is. Netwerk24 verneem dat daar Woensdag beslis sal word of Zuma se saak steeds virtueel of in persoon sal plaasvind.

Intussen het Duduzile Zuma, Zuma se dogter, op haar Twitter-blad gevra dat ondersteuners van die voormalige president Dinsdag voor die hooggeregshof in Pietermaritzburg moet mobiliseer ter ondersteuning van Zuma.

Dr. Guy Lamb, ’n polisiekenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), en dr. Johan Burger, ’n polisiekenner verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), stem albei saam dat die polisie nie hierdie keer onkant betrap sal word waar dit by die bedreiging van onluste en geweld kom nie.

“Die polisie is nou bewus van die bedreigings. Hulle kan hul voorberei. Hulle sal ook spesifiek fokus op Pietermaritzburg, want daar is geen twyfel dat ondersteuners van Zuma daar (by die hof) sal opdaag nie. Die feit dat die polisie nou beter voorbereid is, beteken egter nie dat die risiko van geweld kleiner is nie,” het Lamb by navraag gesê.

Hy sê die polisie sal ook op hoë gereedheidsgrondslag wees oor KwaZulu-Natal heen, nie net in Pietermaritzburg nie. “Hulle sal veral fokus op die vorige brandpunte van die geweld.”

Burger sê daar hoef nie kommer te wees oor die beskikbaarheid van polisielede tydens Zuma se hofsaak nie. “Daar is 45 eenhede vir openbare orde met sowat 6 000 lede in Suid-Afrika. Hulle kan ontplooi word soos nodig. Die vorige keer was die polisie minder voorbereid, maar hierdie keer is hulle bewus van die bedreiging en dus meer voorbereid. Ek glo ook dat hulle genoeg hulpbronne tot hul beskikking het. Hulle sal beslis ’n ontleding van die bedreiging doen en ook intelligensie gebruik om vas te stel wat waar beplan word deur Zuma se ondersteuners,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.