Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Die nag van die wolwe

Ná die trauma van die nag toe hy ontvoer is en sy vriendin vermoor is, het Cheslin Marsh sy teologiestudie laat vaar.

Dis maar eers onlangs dat hy weer kans sien om in Stellenbosch te kom waar die angsnag begin het, sê sy ma, Marilyn.

Hy werk nou as ’n kelner. Dit help hom om tussen mense te kom, om stadigaan te leer om weer ander te vertrou.

Die 22-jarige Cheslin het die afgelope week huilend voor regter Rosheni Allie getuig oor die aand van 26 Mei verlede jaar toe vier booswigte hom en Hannah Cornelius, albei Matiestudente, in haar geparkeerde Citi Golf in Stellenbosch aangeval en gekaap het.

‘Hy het gebid dat die Here sy sondes moet vergewe. Hy het geweet wat kom.’

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius, almal van Cloetesville en Kayamandi in Stellenbosch, staan tereg op tien aanklagte. ’n Vyfde verdagte is glo soek.

“Hulle het hom rêrig gekarnuffel . . . Dit was hartverskeurend en moeilik om te hoor hoe hy sukkel om in die hof te getuig, hoe hy vertel het hoe die mans hom beveel het om sy kop op die baksteen neer te sit,” sê Marilyn.

“Hy het gebid dat die Here sy sondes moet vergewe. Hy het geweet wat kom. Dit was die laaste wat hy kon onthou. Ek sê ‘jinne Cheslin, jy het daardie grondbeginsels by my gekry’. Ek is bly en bewonder hom daarvoor. Hy is ’n lewende getuienis, nie almal is dit beskore om te leef om dit te vertel nie.”

Grafika van doodsrit.

Haar man, Jacques, is sewe jaar gelede in ’n motorongeluk dood.

Cheslin het getuig hy en Cornelius het die aand voor haar dood albei by vriende gekuier. Hy wou met sy skaatsplank huis toe ry, maar sy het aangedring om hom te gaan aflaai. Hulle het in die vroeë oggendure in Jan Celliers-straat in haar motor gesit en gesels toe hulle aangeval is.

Witbooi, wat ’n onderwyskwalifikasie het, het in ’n bekentenis wat in die hof voorgespeel is, gesê hy het saam met Parsons en ’n man met die naam Ses in die dorp gestap toe hulle die geparkeerde Golf met twee mense in sien.

Cheslin Marsh word deur sy ma, Marilyn, in die hof getroos. Foto: Julian Jansen

Op ’n video wat speurders verkry het van die Battery Centre wat in dieselfde straat geleë is, slaan vier mans soos wolwe toe op die niksvermoedende insittendes. Hulle vat Cheslin se selfoon, R40 kontant, sy ID-boekie, studentekaart, skaatsplank, rugsak, Caterpillar-skoene en oorringe voordat Julius uitklim en verkas. Die ander drie ry met die twee studente in die motor weg.

“Vat alles, los net die motor, dis my ouma s’n,” het Cornelius volgens Cheslin by die kapers gesmeek. Die kapers het hom in die kattebak toegesluit.

Volgens Witbooi het hulle by ’n plakkershut stilgehou en tiklollies by ene “Kaffertjie” gekoop. Dié het toe saam met hulle verder gery. Hulle het Cheslin in ’n bos naby Kraaifontein met bakstene en ’n skerp voorwerp aangerand en hom vir dood agtergelaat.

Hannah Cornelius

Parsons, Van Niekerk en “Kaffertjie” het later met Cornelius in ’n bos buite Stellenbosch ingeloop en sonder haar teruggekeer, sê Witbooi. Hy het ook op pad twee vroue beroof van hul selfone, ’n trouring, bankkaart, handsak en beursie.

Cornelius se liggaam is later die oggend langs ’n grondpad op die plaas Groenhof by Koelenhof gevind.

Marilyn sê sy het maande later vir Cheslin die plek gaan wys waar Cornelius gekry is.

“Hy het lank baie emosioneel net daar by die plek gestaan.”

Die vier beskuldigdes ontken skuld op al die aanklagte.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh  |  Ontvoering  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.