SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Dié nuwe howe vir grond is eintlik net ‘duplikate’

Ronald Lamola, nuwe minister van justisie en korrektiewe dienste, se planne vir nuwe grondhowe is beslis nie ’n kitsoplossing vir grondhervorming nie en kan volgens sommige kenners selfs tot nuwe probleme lei.

Lamola het die afgelope week aangekondig dat hy die Wetsontwerp op Grondhowe in die parlement ter tafel gaan lê om grondhowe te skep.

Ronald Lamola

Lamola het Woensdag aan die portefeuljekomitee oor landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê hy wil aandag gee aan “sommige uitdagings wat ervaar word met die huidige bedeling van die grondeisehof”.

Dit was tydens sy departement se voorlegging van sy prestasieplan vir die 2019-’2020 boekjaar.

Volgens Lamola is dit ’n probleem dat permanente regters nie grondeise aanhoor nie. Die gedagte met die bestaande grondeisehof in Randburg was boonop nooit dat dié hof permanent sou wees nie.

Die Wetsontwerp op Grondhowe moet daardie permanensie skep.

Nomfundo Gobodo, voorsitter van die kommissie vir die restitusie van grondeise, het aan die portefeuljekomitee bevestig ’n wetsontwerp is op pad. Die kommissie beoog om in die volgende jaar 637 grondeise te finaliseer. Maar reeds kla die departement dat die geld te min is en dat besuiniging in die staat dienslewering negatief raak.

Die agterstande in laer howe is kolossaal en kan vererger: Volgens die departement is die agterstand met strafregtelike sake in laer howe na raming 49 208 teenoor 33 732 in die 2017-’18-boekjaar.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, ’n bekende advokaat en ’n adviseur van Lamola, glo grondhowe is nodig.

Ngcukaitobi is die skrywer van die boek The Land is Ours: South Africa’s First Black Lawyers and the Birth of Constitutionalism. Dit het in Februarie verlede jaar verskyn.

“Die grondeisehof was bedoel om ’n tydelike hof te wees. Die mandaat en bevoegdhede is ontwerp vir ’n oorgangshof wat bedoel is om nie langer as vyf jaar te bestaan ??nie. Ons ervarings is dat die grondkwessie permanent is. Dit is daarom belangrik dat grondhowe geskep word wat op alle grondverwante aangeleenthede en geskille sal fokus en nie net grondeise nie.”

Volgens hom sal die grondhowe se funksie wees om alle grondeise en dispute oor billike vergoeding ingevolge art. 25 (3) van die Grondwet te hanteer. “Dit sal ook jurisdiksie uitoefen oor geskille oor water, vee, uitsettings en wat arbeidhuurders betref. Regters sal deur die Regterlike Dienstekommissie (RDK) aangewys word met ’n ampstermyn van tien jaar. Hul statuur sal gelykstaande wees as regters van die hooggeregshof.”

Bertus van der Merwe, ’n prokureur van Cox en Vennote in Vryheid, KwaZulu-Natal, wat spesialiseer in grondeise, sê nuwe grondhowe is bloot ’n duplisering van wat reeds bestaan. “Daar is geen verskil tussen die bestaande grondeisehof en die grondhowe nie. Al dié regte word reeds volledig aan die grondeisehof toegelê ingevolge die Wet op die Herstel van Grondregte van 1994,” sê hy.

“Die grondeisehof is tans gelykgestel aan ’n hooggeregshof en hy mag bereg oor sake wat selfs normaalweg buite sy jurisdiksie val,” sê Van der Merwe.

Hy sê met die totstandkoming van die grondeisehof is regters permanent aangestel. Later het dit verander sodat regters van ander howe gesekondeer kon word.

“Dit kan maklik deur ’n wetswysiging weer verander word,” sê hy.

Van der Merwe glo nuwe howe word geskep omdat die regering ongelukkig is met die uitsprake van die bestaande hof, wat dikwels teen die staat bevind en die owerhede al skerp gekritiseer het oor die onbeholpe hantering van grondeise.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.