
Timothy Omotoso stap Woensdag by die trappe af na die hofselle in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile
Netwerk24 Lulama Zenzile
Die reg is nie ’n speletjie nie.
Met dié woorde het regter Irma Schoeman Woensdag past. Timothy Omotoso en sy medebeskuldigdes se aansoek om verlof tot appèl teen haar bevinding dat die verhoor in Port Elizabeth aangehoor moet word, van die hand gewys.
Schoeman het verlede week in die hooggeregshof in Port Elizabeth bevind sy het wel jurisdiksie om al 97 aanklagte teen Omotoso (60), Zukiswa Sitho (36) en Lusanda Sulani (26) aan te hoor.
Die aanklagte teen die beskuldigdes spruit uit beweerde voorvalle waar hulle jong meisies van oor die land heen vir seksuele voorbereiding gewerf het. Hulle word onder meer van rampokkery, seksuele aanranding en mensehandel aangekla.
Die verdediging het Schoeman gevra om hul aansoek om verlof om te appelleer toe te staan en om die saak daarna na die appèlhof in Bloemfontein te verwys.
Schoeman het tydens haar uitspraak gesê daar is geen redelike vooruitsig dat ’n appèlhof tot ’n ander slotsom as sy sal kom nie. Sy het ook gesê die verdedigende prokureur, Peter Daubermann, het insae in die klagstaat gehad, anders sou hy nie vantevore ingestem het dat die klagte gesentraliseer word nie.
“Hulle het geweet op watter aanklagte hulle teregstaan. Buiten ’n paar veranderinge was daar nog altyd net een klagstaat en die eerste strafregtelike verhoor het met dieselfde klagstaat begin,” het Schoeman gesê.
Daubermann het ná afloop van Schoeman se uitspraak aangedui dat hy hom nou tot die appèlhof sal wend.
Die verhoor is tot 7 Oktober uitgestel.