Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Die rooi en die kakie op Senekal

’n Baie gespanne atmos­feer het Vrydag ’n ruk lank in Senekal se strate geheers.

In die halfuur van drama het EFF-vegters en lede van boeregroepe en hul ondersteuners van aangesig tot aangesig teen mekaar te staan gekom.

Hulle was in dié Vrystaatse dorp vir die hofverskyning en borgtogaansoek van Sekwetje Isaiah Mahlamba (32) en Sekola Piet Matlaletsa (44), die vermeende moordenaars van die plaasvoorman Brendin Horner (22) van Paul Roux.

“Kill the Boer, the farmer!” het EFF-lede geskreeu en met die vinger oor die keel vir die boere gewys. Baie was met kieries, gholfstokke en hokkiestokke gewapen.

Tussen die mense in rooi en dié in kakie was daar ’n dun lyn EFF-beamptes en ’n stuk of vyf oudkommandolede aan die boere se kant. En drie polisielede.

Dorpseiendom wat in Senekal onder EFF-lede deurgeloop het. Foto: Mlungisi Louw

Die twee groepe het in mekaar se gesigte gepraat. Met handbewegings en ’n paar harde woorde. Die boere het doodstil gestaan toe die EFF-golf gedreig het om hulle te oorspoel.

“In die naam van die Here beveel ek julle om terug te val!” het die pastoor van die Dogs of War-bikers geskreeu.

Daarna het die boere-ondersteuners die “Onse Vader” gesing met die mense in rooi wat die groep boere omsingel het.

Maj. André Nel, leier van die Kommandokorps (oudkommandolede in bruin uniform), het rustig die EFF-lede in die oë gekyk. “Hulle het gesê ons moet waai. Ons het hulle vermoor en ons moet weggaan, anders gaan hulle dit met ons doen. Hulle gee ons ’n laaste kans. Die beste was om dit net te ignoreer. Daar was darem een of twee manne wat ’n bietjie redelik was met wie ons kon praat. Hulle het die groep probeer terughou­.”

Nel sê die wagwoord toe was kalmte. “Ons geheim om te keer dat gemoedere oorkook was kalmte en baie gebede in die tyd vooraf. Dit was die wagwoord. Ons het geweet hulle gaan konfrontasie soek. Niemand kan dit wat hulle wil hê, bekostig nie. Hulle wil hê anargie moet uitbreek in die land soos wat hul leier verkondig. Dit is nie wat ons wil hê nie. Ons wil vrede hê vir elke mens wat hier bly. Dit geld hulle ook.”

Senekal se hof was stampvol. Foto: Alet van der Walt

Kort daarna was daar wel oproerigheid toe ’n splintergroep EFF-lede teruggetrek het en die Dogs of War-bikers Senekal wou verlaat. ’n Groot groep EFF-lede het die straat versper en klippe en bakstene begin gooi terwyl hulle die liedjie met die woorde “kill the Boer” gesing het. Twee boere-ondersteuners het op die EFF-lede gevloek.

Daarna het nog klippe en bakstene deur die lug gevlieg.

Julius Malema, EFF-leier, het etlike ure later aan sy ondersteuners gesê: “Daar is geen plaasmoorde nie. Daar is geen wit boere wat vermoor word nie.”

Hy sê die waarheid is eerder dat vroue en kinders in Suid-Afrika vermoor word.

“Moenie die ou, bevoorregte wit rassiste glo nie.”

Mense in die strate op Senekal. Foto: Alet van der Walt

Hy sê die boere-ondersteuners het nie Senekal toe gekom oor ’n moord nie, maar om die “neiging van grondeienaarskap” te laat voortduur.

“As jy vrede vir Suid-Afrika wil hê en lief is vir swart mense, kan ons saam woon. Jy kan nie rassisme haat en self ’n rassis wees nie . . .”

Intussen het adv. André Gaum­, kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), Vrydag gesê hulle beskou die sing van die lied met die woorde “kill The Boer” buite die hof as “hoogs problematies”.

Brendin Horner

Die VF Plus het ’n klag daaroor ingedien.

Die MRK het die lied reeds in 2003 tot haatspraak verklaar.

Die MRK het ook Vrydag voor die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste sy kommer uitgespreek oor plaasaanvalle en -moorde en sê hy gaan Senekal binnekort besoek om te help om die plofbare situasie daar te ontlont.

Die MRK sal dan ook die probleem van plaasmoorde en moorde in die algemeen in Suid-Afrika met belanghebbendes bespreek, het eerw. Chris Nissen, MRK-kommissaris, aan die portefeuljekomitee gesê. – Verslagspan: Cheréne Pienaar, Anena Burger, Charles Smith, Christiaan du Plessis, Llewellyn Prince

Meer oor:  Mrk  |  Polisie  |  Afriforum  |  Hof  |  Da  |  Eff  |  Vf Plus  |  Bheki Cele  |  Brendin Horner  |  Julius Malema  |  Senekal  |  Paul Roux  |  Gespanne  |  Kakie  |  Rooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.