Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Die staat hou vol: ‘Sy is ’n man’

Twee jaar nadat sy ’n geslagsverandering ondergaan het, sukkel ’n vrou van Johannesburg nog steeds om haar geslag op haar identiteitsdokument verander te kry.

Ann (skuilnaam) wat met die departement van binnelandse sake sukkel om haar geslag van manlik na vroulik te verander. Foto: Deon Raath

Die 48-jarige Ann (’n skuilnaam) sê dit het haar R340 000 se swaarverdiende spaargeld gekos om die operasie in Thailand te laat doen, maar iets so eenvoudig soos ’n nuwe identiteitsdokument is bo die vuurmaakplek van die departement van binnelandse sake.

Ann sê sy is “fisiek heeltemal getransformeer, maar om te sê ek is gelukkig, is ’n sterk woord”. Dít is omdat sy feitlik daagliks nog verneder word deur aan mense soos koeriers, bankamptenare en wetstoepassers te moet verduidelik waarom sy nie lyk soos die man op haar ID wat in 1988 uitgereik is nie.

Ann het reeds in 2015 by die departement van binnelandse sake aansoek gedoen om haar geslag te verander op ’n nuwe paspoort, maar die departement wou nie ’n paspoort uitreik terwyl die geslagsveranderingsaansoek hangende was nie. Haar prokureur, Elmarie Erasmus van Clarks-prokureurs in Sandton, het in 2017 ’n dringende hofaansoek teen binnelandse sake ingedien omdat Ann ’n nuwe paspoort nodig gehad het vir haar operasie in Thailand. Erasmus sê sulke operasies is onbekostigbaar in Suid-Afrika en daar is ’n waglys van pasiënte.

Binnelandse sake kan nie sy wetgewende tentakels in die privaatheid van mense se huise steek nie.

Regter Stephens Thobane van die hooggeregshof in Pretoria het destyds binnelandse sake beveel om Ann se geslagsbeskrywing op die geboorteregister en haar ID na vroulik te verander en dringend ’n paspoort uit te reik.

Binnelandse sake het in die hofsaak aangevoer Ann sal as man erken word totdat die geslagsveranderingsproses voltooi is. Hulle wou toe nie ’n vroulike paspoort gee nie. Hulle het eerder Ann se verstrykte “manlike” paspoort hernu vir haar vlug op 21 Augustus 2017.

Erasmus kon ’n meegaande brief voorsien wat aan doeanebeamptes verduidelik waarom haar voorkoms nie ooreenstem met haar manlike paspoort nie.

Ann (skuilnaam) wat met die departement van binnelandse sake sukkel om haar geslag van manlik na vroulik te verander. Foto: Deon Raath

“Ek het my hele lewe se spaargeld gevat om vir die operasie te betaal. Daarna moes ek ’n maand in Thailand bly om aan te sterk,” sê Ann.

Binnelandse sake het toe boonop in 2017 aansoek gedoen om teen die bevel te appelleer. Thobane het verlede maand sy redes vir die destydse bevel gegee en binnelandse sake se laks houding teenoor Ann gekritiseer.

“Binnelandse sake kan nie sy wetgewende tentakels in die privaatheid van mense se huise steek nie. Hy moet besef die publiek het regte en moet mense se vryheid van keuse beskerm,” sê hy.

Erasmus sê hulle eis nou dat binnelandse sake aandui of hulle steeds voortgaan met die appèlaansoek.

Ann, wat in die tegnologie- en bemarkingsektor werk, sê sy het as seuntjie in die kleuterskool geweet sy is “anders”. “Ek het meer aanklank gevind by die meisies en ons was beste vriende.”

Dit was ’n gegewe in haar familie dat sy as tiener na ’n seunskool sou gaan, waar sy matriek behaal het. Sy het geleer om haar innerlike stryd weg te steek.

Sy kon haar vryer uitleef op universiteit, want “lang hare en grimering was nie ongewoon onder die Goths nie”.

“In my twintigs en dertigs was ek kommersieel baie suksesvol en dít was ’n goeie afleiding. Maar ’n mens kan net só lank met ’n geheim leef.”

As volwasse man was Ann 12 jaar met ’n vrou getroud. “Ek het met haar getrou omdat ek lief vir haar was en omdat dit my aandag afgetrek het van my stryd oor my wese. ’n Huwelik is ook wat die samelewing verwag het. Sy het geweet ek is anders, maar het nie die volle omvang of implikasies daarvan besef nie.”

Met die prokureursbrief kon Ann intussen na Hongkong en Viëtnam vlieg met haar manspaspoort. Maar toe ’n koerier in ’n stadium nie wou toelaat dat sy vir haar eie bankkaart teken nie, was sy baie moedeloos. Ook wanneer die verkeerspolisie haar rybewys vra, moet sy hulle oortuig om haar te laat gaan.

Thobane sê in sy uitspraak daar is geen regstruikelblok wat die departement verhinder om Ann se geslag na vroulik te verander nie.

Meer oor:  Transgender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.