Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dís hoekom NVG sukkel om Guptas na SA te bring

Planne om die omstrede Gupta-broers terug na Suid-Afrika te bring om hier rekenskap van hul beweerde aandeel in staatskaping te gee, verloop nie so goed nie.

Adv. Shamila Batohi. Foto: Daily Sun

Dit is omdat Suid-Afrika volgens adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, probleme ondervind om wedersydse regsooreenkomste tussen Indië en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) opgestel te kry wat dit moontlik sal maak om die vermeende sleutelrolspelers in staatskaping aan Suid-Afrika uit te lewer.

Sy het dit Dinsdag bekend gemaak aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste. Sy en die res van die topbestuur van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) was in die parlement om verslag te doen oor die NVG se 2018-’19-jaarverslag.

Hoewel Batohi nie die Guptas op die naam genoem het nie, is vroeër wyd berig dat die Gupta’s hulle tans in Indië en Dubai (in die VAE) bevind nadat hulle uit Suid-Afrika gevlug het.

Batohi se uitlatings oor die probleme wat met Indië en die VAE ondervind word, kom enkele dae nadat Amerika se departement van finansies die afgelope Donderdag bekend gemaak het dat dié land sanksies teen die Gupta-familie en hul vennoot Salim Essa instel weens hul “bedenklike transaksies en staatskaping in Suid-Afrika”.

Batohi sê vermeende staatskapers kan nie vervolg word “as ons hulle nie hier kry nie”.

“Ons ervaar spesifiek probleme met die regsooreenkomste wat na Indië en die VAE gestuur is. Ons land het alles moontlik van ons kant af gedoen, maar kry nie veel samewerking van die ander kant af nie. Die minister (van justisie en korrektiewe dienste) is nou self betrokke om op die hoogste vlak samewerking te verseker.”

Ons ervaar spesifiek probleme met die regsooreenkomste wat na Indië en die VAE gestuur is.

LP’s in die komitee wou weet wanneer presies vermeende staatskapers vervolg sal word omdat dit die publiek se vertroue in die strafregstelsel sal verbeter.

Batohi sê egter in die jaarverslag begrotingsbeperkinge veroorsaak dat vakante poste in die NVG nie gevul kan word nie. Dit plaas erge druk op die NVG se vermoë om optimaal te funksioneer en verpligte dienste te kan lewer.

“Ernstige korrupsiesake is kompleks en neem lank om afgehandel te word.

“Ons het egter prioriteitsake geïdentifiseer en dit word bespoedig,” het Batohi gesê.

LP’s wou ook weet watter prosesse gevolg is om adv. Wim Trengove SC, adv. Tembeka Ngcukaitobi, adv. Geoff Budlender SC en adv. Ngwako Maenetje SC te werf om die NVG se ondersoekende direktoraat te help om vermeende staatskapers vas te vat. Sunday Times het Sondag hieroor berig.

Die departement van justisie het Maandag bevestig dat die tesourie R25 miljoen vir die dienste van die vier topregsbreine toegeken het.

Batohi het Dinsdag oor die vier se werwing gesê hulle is baie senior advokate wat aanklaers respekteer en voorheen by staatskaping-verwante aangeleenthede betrokke was. “Hulle is aan sekere ondersoekspanne toegeken.

“Hul dienste is ook teen ’n verminderde koste bekom.”

Volgens haar het die NVG ook sy fokus op korrupsie versterk en ondersoek hy nou ook korrupsie in die private sektor.

Op die vraag van LP’s hoe die NVG se ondersoek na die Steinhoff-skandaal vorder, het Batohi gesê daar is vordering. NVG-aanklaers en die Valke werk saam hieraan. Sy het bygevoeg sekere voorstelle is gedoen oor stappe wat op kort termyn geneem kan word, maar die wenslikheid van hierdie stappe moet eers bepaal word.

NVG oor adv. Hermione Cronje se verblyf

Daar is niks onbehoorlik daaraan dat die NVG vir adv. Hermione Cronje, hoof van die vervolgingsgesag se ondersoekende direktoraat, in ’n spoghotel in Pretoria huisves en haar weekliks van Kaapstad na die hoofstad vlieg nie.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, het Dinsdag so aan LP’s in die parlement gesê nadat EWN vroeër berig het hoe Cronje sedert haar aanstelling in Mei vanjaar in ’n “luukse hotel” teen sowat R2 000 per nag gehuisves word en elke naweek na Kaapstad gevlieg word om saam met haar gesin te wees.

“Daar word gesê sy bly in ’n luukse hotel. Ek wil dit egter duidelik maak dat alle staatsamptenare by die hotel tuisgaan wat ek om veiligheidsredes nie bekend sal maak nie. Staatpryse word betaal. Niks onbehoorlik.

“Sy vlieg ook nie eersteklas nie. Sy is die ma van twee jong kinders en het die pos met groot persoonlike opoffering aanvaar. Ons skuld haar veel meer.”

Batohi sê dat Cronje se verblyfuitgawes beloop tot dusver sowat R106 000, haar vlugonkoste R144 000 en haar huurmotor sowat R64 000.

EWN het verder berig hoe Cronje nie haar skoolgaande kinders wou ontwrig nie en dat sy einde vanjaar na Pretoria sal verhuis. –Llewellyn Prince

Meer oor:  Nvg  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.