Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Diskriminerende testamente dalk gou iets van die verlede

Twee testamente, wat glo erg diskriminerend opgestel is, sal dalk binnekort verander moet word.

Die grondwethof in Johannesburg is gevra om tussenbeide te tree om vas te stel of die instruksies in die testamente ongrondwetlik is.

Dulcie Harper, wat nie kinders van haar eie kon hê nie, het in die 1950’s vir David Wilkinson en sy suster Amanda Truter aangeneem.

Hul neefs en niggies voer daarom aan dat hulle nie op die familie-erfporsie geregtig is nie.

Harper se pa, Louis John Druiff, is in 1953 dood voordat die aanneming afgehandel is.

In die tweede testament is ’n bepaling gemaak dat net manlike nasate mag erf.

Druiff het deur middel van ’n trustakte sy boedel in gelyke dele aan sy vier kinders bemaak, en in die geval van hul dood aan hul nasate.

Harper was die laaste van haar pa se kinders wat dood is. Ná haar dood in 2017 het die nasate haar deel van die erfporsie gevra, “omdat Druiff bedoel het dat net die bloedverwante afstammelinge” erf.

Wilkinson en Truter se prokureurs voer aan daar word op grond van hul geboorte en status teen hulle gediskrimineer, wat teenstrydig is met die Grondwet.

Hulle het verder aangevoer dat die appèlhof nie die “radikale veranderinge” van die wet rakende die aanneem van kinders in ag geneem het nie. Aangenome en biologiese kinders se regte moet gelyk wees, het die regspan gesê.

In die tweede testament is ’n bepaling gemaak dat net manlike nasate mag erf.

Trudene Forword, Annelie Jordaan, Elna Slabber, Kalene Roux en Surina Serfontein sê daar word onregverdig teen hulle gediskrimineer omdat hul grootouer se testament van 1902 bepaal dat slegs manlike erfgename hul plase en ander eiendom kan erf.

Hul pa, Kalvyn de Jager, is in 2015 dood en het geen manlike nasate agtergelaat nie.

Hierna het hul neefs aanspraak gemaak op De Jager se eiendomme.

In hul geskrewe argumente het die susters se regspan gesê die testament is duidelik ongrondwetlik en teenstrydig met openbare beleid en kan daarom nie afgedwing word nie.

Albei partye is eers, onsuksesvol, in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. Hierna is die appèlhof genader, maar dié kon ook nie help nie. Die grondwethof het nou albei aangeleenthede saamgevoeg. Uitspraak is vir eers voorbehou en sal later gelewer word.

André Visser, ’n prokureur en boedelbeplanner van die regsfirma Adams & Adams, sê dit is ’n algemeen aanvaarde regsbeginsel dat ’n onwettige bepaling in ’n testament nie afgedwing kan word nie.

So ook nie ’n bepaling wat teen goeie sedes indruis nie, sê Visser.

“Dit sal byvoorbeeld ondenkbaar wees om te sê net wit persone kan erf,” verduidelik Visser.

Vandag se samelewing het verander en daar is nie meer die houding dat net manlike nasate mag erf nie, sê Visser.

Ingevolge Suid-Afrikaanse reg is aangenome kinders soos ’n mens se eie kinders, sê Visser, en daarom behoort nie teen hulle gediskrimineer te word nie.

“Die vraag waarmee ons in dié geval sit, is of die bepalings in die twee testamente in ons moderne samelewing as diskriminerend beskou word of nie,” sê Visser.

Volgens hom is dit beter om ’n testament so op te stel dat daar geen onduidelikheid sal wees nie.

’n Persoon wat gesond is en geen finansiële verpligtinge teenoor minderjarige kinders het nie, kan bemaak en onterf soos hy of sy dit goed dink.

’n Testateur kan steeds iemand van sy testament uitsluit, maar dit mag nie op ’n diskriminerende wyse gedoen word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.