Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
'Dit sal weggaan; ek't nog nooit gesteel' – Zuma

Hy hoop dat geregtigheid sal seëvier in die korrupsieverhoor teen hom, want hy het nog nooit enigiets van enigiemand gesteel nie.

So het oudpres. Jacob Zuma buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg gesê nadat hy skuld ontken het op alle aanklagte teen hom in die saak oor die wapenskandaal.

Sy verhoor het nou uiteindelik begin – byna 16 jaar nadat sy voormalige finansiële raadgewer Shabir Shaik oor dieselfde kwessie aan korrupsie skuldig bevind is.

Oudpres. Jacob Zuma spreek Woensdag by die hooggeregshof in Pietermaritzburg sy ondersteuners toe van ’n massiewe verhoog wat buite die hofgebou opgerig is. Foto: Deaan Vivier

Kort nadat die saak uitgestel is, het Zuma honderde ondersteuners toegespreek en gesê hy glo die saak sal voor einde vanjaar weg wees.

“Ek weet niks van die wapenskandaal nie en ek was nie eens daar toe dit gebeur het nie,” het hy gesê.

Die staat was nie gereed om met die saak voort te gaan nie omdat Zuma se regspan ’n omvattende spesiale pleitrede van sowat 1 000 bladsye ingedien het.

Daarvolgens vra hulle dat adv. Billy Downer, SC, hom weens erge partydigheid aan die saak moet onttrek.

Zuma se medebeskuldigde, die Franse wapenvervaardiger Thales, het ook skuld ontken en voer aan dat hy nie geweet het van die omkoopgeld van sowat R4 miljoen wat Shaik glo namens Thales aan Zuma betaal het nie.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, was ook weer daar om oudpres. Jacob Zuma te ondersteun. Foto: Deaan Vivier
Oudpres. Jacob Zuma (regs), Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, en Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Deaan Vivier

In die hof het Zuma in die beskuldigdebank gestaan toe hy skuld op die 16 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery ontken het. Hy het sy swygreg uitgeoefen deur geen verdere verduidelikings te gee nie.

Adv. Dali Mpofu, SC, vir Zuma, het ’n beëdigde verklaring van Zuma voorgelees waarvolgens hy glo geregtig sou wees op kwytskelding sou die aansoek suksesvol wees om van Downer ontslae te raak.

Hy voer aan die deel van die Strafproseswet dat ’n aanklaer kan onttrek in verband met sy “wetlike titel”, kan ook uitgebrei word om die onafhanklikheid en partydigheid van ’n aanklaer in berekening te bring.

Zuma meen Downer sal nie die feite gebalanseerd voorlê nie omdat hy onder meer as ’n “getuie teen my opgetree het deur ’n beëdigde verklaring in te dien ter ondersteuning van die DA se aansoek dat die nasionale vervolgingsgesag se besluit om my vervolging te staak, hersien en tersyde gestel word”.

Daar was min sprake van die handhawing van Covid-19-maatreëls onder ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma buite die hof. Foto: Deaan Vivier

Hy het Downer ook daarvan beskuldig dat hy inligting oor sy korrupsiesaak op ’n onwettige manier aan ondersoekende joernaliste gegee het.

Verder voer Zuma aan hy sal nie met Downer as aanklaer ’n billike verhoor kry nie omdat hy glo op ’n onwettige manier inligting van die Skerpioene en buitelandse intelligensie-agentskappe ontvang het.

Regter Piet Koen het die saak uitgestel tot 19 Julie, wanner die formele aansoek aangehoor sal word. Hy het ook sperdatums gestel vir wanneer relevante dokumente deur die partye ingedien moet word.

Die regskenners Ulrich Roux en prof. Llewelyn Curlewis, verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het by navraag gesê hulle glo nie Zuma se aansoek het enige meriete vir Downer se onttrekking nie.

Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, was ook Woensdag by die hof om sy ondersteuning aan die voormalige staatshoof te wys. Foto: Deaan Vivier

Intussen is daar ook kommer dat die byeenkoms van Zuma se ondersteuners buite die hof in ’n superverspreider van Covid-19 kan ontaard.

Woensdagoggend was daar feesvieringe en ’n gesing in die strate by die hofgebou. Baie min Covid-19-maatreëls is gehandhaaf.

Die situasie het in ’n stadium so benard geraak dat Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid, ondersteuners buite die hof gaan vra het om te hou by die maatreëls, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie. Daar was net een doel: “Ons ondersteun ons president (Zuma).”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.