Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dlamini betaal (uiteindelik) kostebevel teen haar

Bathabile Dlamini, oudminister van maatskaplike ontwikkeling, het uiteindelik die kostebevel eerbiedig wat die konstitusionele hof teen haar persoonlik gemaak het en die geld betaal.

Die Black Sash Trust, die Centre for Applied Legal Studies en Freedom Under Law (FUL) het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle is “verheug om te sien dat die bevel die afgelope twee weke nagekom is en dat Dlamini ons koste betaal het”.

Dlamini moes sowat R650 000 betaal van die regskoste van die Black Sash (wat deur die Centre for Applied Legal Studies verteenwoordig is) en FUL in die hofsaak oor die betaling van maatskaplike toelaes toe sy nog die minister van maatskaplike ontwikkeling was.

Die Black Sash is na die konstitusionele hof oor Dlamini en haar departement se volgehoue versuim om ’n diensverskaffer aan te stel om staatstoelaes te versprei.

Die konstitusionele hof het bevind dat Dlamini se optrede “roekeloos en grof nalatig” was.

’n Kostebevel van 20% van die Black Sash en FUL se regskoste is teen Dlamini persoonlik gemaak.

Bathabile Dlamini, oudminister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: Gallo Images

Die departement van justisie het in Februarie bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) beveel het dat Dlamini se pensioenbetalings gestaak word.

Sy het dít onder meer as rede aangevoer hoekom sy nie die kostebevel teen haar kon eerbiedig nie.

Dlamini, president van die ANC-vroueliga, het vroeër beweer haar pensioenuitbetalings is gestaak weens politieke inmenging, maar daar is later berig dit hou verband met R2 miljoen wat Sassa van haar wil verhaal weens Sassa-geld wat in 2015 aan die beveiliging van haar kinders bestee is.

Lynette Maart, nasionale direkteur van die Black Sash, het Donderdag gesê die stryd om die reg op maatskaplike sekerheid te bevorder, moet voortgesit word.

“Ons eis steeds dat die regering sy beloftes nakom om ’n universele toewysing vir basiese inkomste te bewerkstellig, en ons veroordeel die wyse waarop die spesiale Covid-19-verligting van noodtoelaes en versorgerstoelaes beëindig is, ondanks die voortslepende ramptoestand en ’n ongekende tyd van swaarkry.”

Volgens Evashnee Naidu, Black Sash-woordvoerder, moes hul regspan eers dreig om op Dlamini se bates beslag te lê voordat sy aan die bevel gehoor gegee het.

Nicole Fritz, uitvoerende hoof van FUL, sê die regstryd oor die hantering van die tender om Sassa-toelaes te versprei, is nog lank nie verby nie.

“Dit is noodsaaklik dat regeringsleiers wat toevertrou word met sulke belangrike poste van sorg en verantwoordelikheid teenoor die kwesbaarste mense in ons samelewing, werklik verantwoordelik gehou word wanneer hulle so volslae daarin misluk om hul pligte na te kom,” het Fritz gesê.

Bron: News24 

Meer oor:  Kostebevel  |  Bathabile Dlamini
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.