Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dogter dien klag in teen apartheidspolisieman

Tilana Stander, die dogter van Joao (Jan) Rodrigues, die apartheidspolisieman wat daarvan beskuldig word dat hy die aktivis Ahmed Timol in 1971 vermoor het, het Dinsdag ’n klag van kindermishandeling teen haar 80-jarige pa aanhangig gemaak.

Rodrigues van Pretoria was ’n administratiewe klerk by die destydse veiligheidspolisie toe Timol in 1971 in polisie-aanhouding dood is.

Stander beweer sy is seksueel mishandel deur haar pa toe sy agt of nege jaar oud was en dat dit tot in haar tienerjare voortgeduur het.

Joao Jan Rodrigues. Foto: Amanda Khoza, News24

Volgens die kindermishandelingsorganisasie Women & Men Against Child Abuse (WMACA) het Stander besluit om na vore te kom oor die beweerde seksuele mishandeling wat tussen 1972 en 1976 plaasgevind het.

Stander het Dinsdag by die Wynberg-polisiekantoor se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings die klag aanhangig gemaak en haar daartoe verbind om na Gauteng te reis vir die verhoor.

Die saak sal aan die polisie in Pretoria oorhandig word, aangesien die misdade glo daar gepleeg is terwyl Rodriguez nog by die polisie se hoofkwartier gestasioneer was.

WMACA het in ’n verklaring gesê Stander het hom gekontak ná ’n vlaag van historiese kindermishandelingsake wat weer oopgekrap is en die onlangse Frankel 8-wysiging aan die Strafproseswet, wat die verjaringstydperk van 20 jaar vir vervolging opgehef het.

Die organisasie het Stander geloof vir die stap, wat sy as nie net haar persoonlike veldtog vir geregtigheid nie, maar ook haar boodskap aan ander slagoffers beskryf.

“Toe ek aan hierdie mishandeling onderworpe was, was daar nie organisasies soos WMACA nie,” sê Stander.

Sy verduidelik in haar verklaring hoekom sy so lank gewag het om met die bewerings na vore te kom.

“Uiteindelik het ek vandag die moed om amptelik ’n klag in te dien teen die man wat my van 1972 tot 1976 seksueel mishandel het. Ek oorweeg al sedert 2007 om hierdie stap te doen, om hom te laat vervolg vir wat hy aan my gedoen het.”

Uiteindelik het ek vandag die moed om amptelik ’n klag in te dien teen die man wat my van 1972 tot 1976 seksueel mishandel het
Tilana Stander

Stander sê sy was egter altyd bang dat niemand haar sou glo nie en sy was onder die indruk dat sulke gevalle ná 20 jaar verval en dat dit dus te laat sou wees om regstappe te doen.

“Namate ek ouer geword het, het ek besef wat hy eintlik aan my gedoen het en het dit al duideliker geword en ’n baie negatiewe uitwerking op my lewe gehad.

“Ek het verskeie pogings aangewend om my broers en susters te oortuig om te erken wat ek deurgemaak het en om te praat oor wat met my gebeur het, net om deur my familie as ’n moeilikheidmaker verwerp te word.”

Stander sê sy is nou heeltemal vervreem van haar familie. “Al wat ek ooit wou gehad het, was dat hulle moes erken wat hy gedoen het.

“Dit het nooit gebeur nie, selfs nie nadat ek dit verlede jaar openbaar gemaak het nie, en wat nou tot die verdere vervreemding van my familie gelei het.”

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.