Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dok eis R400 m. van binnelandse sake oor ID

’n Dokter eis R400 miljoen van die departement van binnelandse sake omdat ID- en paspoortprobleme onder meer tot sy inhegtenisneming en sekwestrasie gelei het.

Dr. Mohammad Zaman (54) van Mokopane sê in sy eis in die hooggeregshof in Pretoria hy moes meer as tien jaar lank ’n “lewe lei sonder ’n identiteitsdokument en paspoort”. Weens al die stres het hy in 2011 ’n hartaanval gehad en moes ’n operasie ondergaan.

Zaman, wat sowat ’n jaar lank in Kanada gewerk het, se probleme het begin toe hy in 2006 teruggekeer het Suid-Afrika toe. Binnelandse sake het in 2006 sy identiteit verander na die naam Farooq Mohammad en hy was skielik vier jaar jonger volgens sy ID-nommer. Sy oorspronklike ID-dokument en paspoort is op hul stelsel geblok.

‘Hy kon nie aan die ekonomie deelneem nie.’

Daarna is Zaman in hegtenis geneem en ’n dag lank op ’n bedrogklag deur die polisie aangehou.

Zaman sê in sy hofstukke die departement het in 2012 selfs ’n verslag uitgereik wat sê dat van hul amptenare betrokke was by die bedrieglike verandering van sy besonderhede op die stelsel.

Hy was “in en uit” by hul kantore, maar het nie hulp gekry nie.

Hy het in November 2014 toe ’n hofbevel teen binnelandse sake gekry dat hulle sy details moet regstel en ’n nuwe ID-dokument en paspoort uitreik wat sy regte van en ID-nommer uitspel, maar die bevel is nie uitgevoer nie.

Eers nadat die hof die departement op 11 Augustus 2016 skuldig bevind het aan min­agting van die 2014-bevel, het hulle in Oktober 2016 uiteindelik sy nuwe ID en paspoort gegee.

Weens die departement en sy werknemers se optrede is hy persoonlik, emosioneel, sielkundig en finansieel ingeloop, meen Zaman.

Hy kon nie “aan die ekonomie deelneem binne en buite Suid-Afrika se grense as ’n dokter of ’n sakeman nie”.

Hy kon nie sy motor bestuur nie, want hy kon nie sonder ’n geldige ID sy rybewys laat hernu nie.

Hy is op 1 Desember 2010 gesekwestreer “en het die meeste bates verloor, indien nie alles nie”.

Zaman sê hy kon nie na sy land van herkoms, Pakistan, gaan om aan godsdienstige en kulturele aktiwiteite saam met sy uitgebreide familie deel te neem nie. Weens die kansellasie en/of blokkering van sy ID op die stelsel en die departement se mislukking om betyds ’n nuwe ID en paspoort uit te reik, het hy skade gely en sal in die toekoms skade van R400 miljoen ly.

Zaman sê dít sluit sy inkomsteverlies van R300 miljoen in. Hy het R97,5 miljoen se bates weens die sekwestrasie verloor. Toe hy gesekwestreer is, is ’n rits bates op die hofbevel in die meester van die hooggeregshof se hande geplaas.

Zaman het binnelandse sake in Januarie 2017 gedagvaar en die departement het daarna kennis gegee dat hulle die eis teenstaan.

Die hof het in Augustus 2018 die departement beveel om ’n eedsverklaring vir die saak aan Zaman se prokureurs binne 20 dae te wys, maar dit het nie betyds gebeur nie. Zaman het toe opnuut ’n hofaansoek ingedien: dat die departement se verweer teen sy eis geskrap word omdat hulle hom nie insae in die verklaring gee nie.

Dié aansoek van hom is op 11 April van die hofrol verwyder omdat die departement wel intussen die verklaring blootgelê het.

Maar dit kom teen ’n prys vir binnelandse sake. Die staatsprokureur, wat namens die departement optree, het vroeër in April aan Zaman se prokureurs gesê binnelandse sake is bereid om die verspilde regskoste te betaal wat Zaman moes aangaan om die verklaring uit hulle te kry.

Volgens ’n ondersoekverslag van binnelandse sake wat by die hof ingedien is, het Zaman in Julie 2002 burgerskap in Suid-Afrika verwerf. Die departement sê in sy verweerskrif teen Zaman se eis hy ontken die aantygings, of hy het geen kennis daarvan nie en Zaman sal dit moet bewys.

Meer oor:  Skadevergoeding  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.