Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dringende hofsaak vra dat doepa teen Covid-19 gebruik kan word
Dokters pleit nou vir ivermektien

’n Pretoriase dokter, twee van sy pasiënte en AfriForum dien ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria in teen die gesondheidsowerhede om dokters toe te laat om ivermektien vir hul Covid-19-­pasiënte te gee.

Dr. George Coetzee van Silver Lakes voer in hofstukke namens sy Covid-19-pasiënte Gideon Gumede en Geelbooi Motsipa aan die Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) moet ingevolge art. 21 noodtoestemming gee sodat middels met die aktiewe bestanddeel ivermektien onder dokterstoesig gebruik kan word.

’n Derde pasiënt is dood voordat die aansoek ingedien kon word.

Die aansoekers hoop om reeds volgende week in die hof te wees.

Suid-Afrikaners sal nog maande moet wag voordat entstof algemeen beskikbaar is en daarom soek medici naarstig na nog maniere om die siekte hok te slaan en mense se lewe te red, lui die hofstukke.

‘Ons het groot, deeglike studies nodig.’

Die regering het Vrydagaand bevestig ooreenkomste is met vyf verskaffers beklink vir sowat 34,8 miljoen entstofdosisse, maar pres. Cyril Ramaphosa het erken daar is groot onsekerheid oor die entstofprogram.

“Ons weet nie vir seker hoe vinnig ons die bevolking sal kan inent nie en wanneer ons kudde-immuniteit sal bereik nie.”

Daar is ook nog baie vrae oor die logistiek rakende die toediening van die entstof. Minstens drie provinsies het reeds gesê hulle het nie die hulpbronne om die entstofprogram in werking te stel nie (lees die berig hier).

Intussen het die Universiteit van Oxford Saterdag aangekondig hy gaan omvattende kliniese toetse doen om vas te stel of ivermektien teen Covid-19 werk.

Prof. Chris Butler, wat die studie gaan lei, het aan The Times in Londen gesê die middel toon potensiaal.

“Daar was ’n paar kleiner toetse in lae- en middelinkomstelande wat wys dit het herstel versnel, inflammasie verminder en hospitalisasiegevalle verlaag.”

Butler het bygevoeg daar kom nog baie wetenskaplike inligting kort om die doeltreffendheid van die middel teen Covid-19 te bepaal.

Ook plaaslik glo sommige medici dit kan lewens red.

Ivermektien word al vir meer as 50 jaar wêreldwyd gebruik vir die behandeling van rivierblindheid, luise en brandsiekte. Registrasie vir menslike gebruik in Suid-Afrika het lankal verval, maar Sahpra gee soms toestemming vir noodgebruik teen onder meer luise.

Sahpra het vroeër gesê daar is nie genoeg data oor die doeltreffendheid en veiligheid daarvan vir gebruik teen Covid-19 nie, maar ook dat hy aansoeke om ivermektien te gebruik vinnig sal verwerk.

Sahpra het egter volgens Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum, tot dusver “nagelaat” om dokters se aansoeke ingevolge art. 21 goed te keur. Hulle vra die hof nou onder meer om dié aansoeke goed te keur.

Volgens Uys vra hulle ook ’n verklarende bevel dat ivermektien veilig is vir menslike gebruik onder die toesig van ’n mediese praktisyn en dat dokters en aptekers medisyne mag saamstel wat die middel bevat.

Ivermektien is plaaslik geregistreer om wurms en parasiete by diere te bekamp en dit blyk dat talle mense, waaronder medici, die diereproduk onwettig gebruik. Anekdotiese vertellings dat dié middels Covid-19-pasiënte van die rand van die dood gered het, doen wyd die ronde op veral sosiale media.

Ander voer aan dis profilakties – oftewel help keer dat ’n persoon die Sars-CoV2-virus opdoen.

Die plaaslike vraag na dieremiddels wat ivermektien bevat, is nou so groot dat tekorte plek-plek ontstaan het, berig Landbou.com. “Op die swartmark het die prys tot vyfvoudig toegeneem.”

Op ’n webinaar oor die pandemie wat die afgelope week vir Suid-Afrikaanse dokters aangebied is, het prof. Nathi Mdladla, hoof van die waakeenheid by die Dr. George Mukhari- Akademiese Hospitaal naby Ga-Rankuwa, onder meer gesê “ons is desperaat, ons beleef ’n krisis”.

Volgens hom sterf daar gemiddeld twee pasiënte per dag in sy sale weens Covid-19. “Ons kry jonger pasiënte wat sterf, mense met jong kinders,” het hy gesê. “Ek weet die studies (oor ivermektien) is gebrekkig, maar dit lyk of daar iets in steek en dit is beter as enigiets anders wat ons nou het.”

Mdladla sê ook dit gaan lank neem voordat genoeg Suid-Afrikaners ingeënt is en daarom is behandelingsopsies noodsaaklik. Volgens hom is die middel goedkoop en dit kan maklik geberg en toegedien word.

Op dieselfde webinaar het prof. Mervyn Mer, hoofspesialis by die Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal in Johannesburg, gemaan daar was met die aanvang van die pandemie net soveel belangstelling in chlorokien.

Latere studies het gewys dit kan ondoeltreffend of selfs skadelik vir pasiënte met Covid-19 wees.

“Ons word oorval met navrae oor ivermektien, maar die wetenskaplike data is baie skraps.”

Volgens Mer is daar wêreldwyd al sowat 17 “klein studies” met ivermektien gedoen op sowat 2 000 pasiënte, maar die wetenskaplike data is “gebrekkig”.

Mer sê daar is in die studies verskillende dosisse gebruik, die middel is saam met ander medikasie (soos steroïede waarvan die doeltreffendheid al bewys is) gebruik en die erns van die pasiënte se toestande is nie behoorlik beskryf nie.

“Daar is belowende aanduiders (met ivermektien), maar ons het groot, deeglik wetenskaplike studies nodig.”

Belangstelling in die gebruik van ivermektien het die afgelope weke wêreldwyd gegroei en dié middels is reeds deel van behandelingsprotokolle in lande soos Indië, Bangladesj, Belize en Masedonië.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) steun nie die gebruik van dié middel in die stryd teen Covid-19 nie, maar het einde verlede maand aangekondig hy hou verwikkelinge daarom dop.

Uys het gister gesê die respondente moet teen Maandag besluit of hulle die aansoek opponeer en Dinsdag hul beantwoordende verklarings indien. “Ons sal dan Donderdag reageer en beplan om op 2 Februarie hof toe te gaan.”

Intussen het dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof van Mediclinic Suider-Afrika, gemaan ivermektien mag nie in sy instellings gebruik word nie.

“Individuele dokters mag egter by Sahpra aansoek doen vir art. 21-gebruik vir ’n spesifieke pasiënt.”

Meer oor:  Afriforum  |  Ivermektien  |  Universiteit Van Oxford  |  Covid-19  |  Sahpra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.