Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodgeslaan deur soldate – nou twis die vroue oor hom

’n Katgeveg is aan die broei tussen die vrou wat op televisie verklaar het dat sy die eggenote is van die Johannesburgse man wat op Goeie Vrydag voor sy huis deur weermaglede doodgeslaan is, en die vrou met wie hy in 2018 in die eg verbind is.

Glacia Ngobeni is op 22 Desember 2018 met Collins Khosa (regs) getroud.

Dit blyk nou dat Collins Khosa (40), wat in Alexandra naby Sandton deur weermaglede aangerand is omdat hy kwansuis inperkingsmaatreëls oortree het deur in sy erf te drink, twee vroue in sy lewe gehad het. En die vrou met wie hy wettiglik getroud is, is nou bekommerd dat die ander alleen sal voordeel trek uit ’n skadevergoedingseis weens sy dood.

Nomsa Montsha (30) word in hofstukke wat die afgelope week in die hooggeregshof in Pretoria geliasseer is, voorgehou as Khosa se “lewensmaat”.

Dis misleidend, sê die 35-jarige Glacia Ngobeni van Tzaneen in Limpopo. Sy en Khosa is minder as 18 maande gelede, op 22 Desember 2018, in Tzaneen getroud nadat hulle reeds 17 jaar in ’n verhouding was. En sy het troufoto’s en ’n video om dit te bewys. Hulle het boonop twee kinders, een van 12 en een van tien.

Montsha verwys egter in die hofstukke ook na drie minderjarige kinders van Khosa wat saam met hulle in Alexandra gebly het. Dit is blykbaar kinders wat hy by ander vroue gehad het, want Ngobeni sê haar kinders bly saam met haar in Tzaneen. Sy sê sy sukkel sedert haar man se dood om enige inligting te kry. Sy het nog nie eers sy doodsertifikaat gesien nie.

Ngobeni sê Khosa het haar gevra om saam met hul kinders in Mavele Village in Tzaneen agter te bly toe hy sowat drie jaar gelede in Johannesburg gaan werk soek het. Hy het sedert 2017 by die Chipkins-bakkery in Alexandra gewerk. Sy sê hy het elke maand of twee huis toe gekom.

Montsha het ’n dag ná Khosa se dood aan Newzroom Afrika vertel hoe haar “eggenoot” en sy swaer Thabiso Mu- vhan­go aangerand is.

Montsha is een van die aansoekers in ’n dringende saak teen die minister van verdediging, die polisie, die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat en sewe ander oor Khosa se dood verlede maand.

Die ander twee aansoekers is Mu- vhan­go (33) en Mphephu Khosa, die gestorwene se 68-jarige biologiese ma.

Hulle voer aan Khosa is “gemartel” en “vermoor”.

Luidens hofstukke het twee weermaglede op Goeie Vrydag vir Khosa en sy swaer gekonfronteer nadat hulle ’n kampstoel en ’n beker halfvol alkohol aangetref het wat in hul erf voor die huis gestaan het.

Nadat Khosa aan hulle gesê het dis geen misdaad om alkohol in jou eie erf te gebruik nie, het die weermaglede hulle in die straat geneem “om hulle ’n punt te wys”. Verskeie soldate het die twee toe aangerand.

Khosa is later die aand aan sy beserings dood.

In hofstukke spreek die aansoekers hul sterk uit teen ’n verklaring van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, op 25 Maart toe sy gesê daar sal net “skop, skiet en donder wees wanneer omstandighede dit toelaat”.

Sy het bygevoeg: “Vir nou is ons ’n grondwetlike demokrasie”. Die aansoekers meen die aanranding en dood van Khosa moet in die lig van dié opmerkings beskou word.

Die weermag en die minister voer egter aan dat die opmerkings nie letterlik opgeneem kan word nie.

Die aansoekers vra onder meer:

  • dat die minister van verdediging gelas word om ’n gedragskode vir soldate op te stel vir die afdwing van inperkingsregulasies en die ramptoestand;
  • dat ’n spesiale klagtemeganisme vir burgerlikes ingestel word waar wandade deur die weermag, SAPD of enige metropolisielid tydens die inperking aangemeld kan word;
  • dat ’n spesiale ondersoekeenheid, gelei deur ’n afgetrede regter, gerapporteerde gevalle van marteling of wrede, onmenslike en vernederende optrede of straf ondersoek.

Die weermag vra dat dié eise verwerp word.

Dit is kommerwekkend dat die minister en die SANW die skorsing van die soldate wat by die insident betrokke was, teenstaan, skryf die grondwetkenner prof. Pierre de Vos op sy blog Constitu­tionally Speaking.

Die prokureurs vir die familie het ook Vrydag bevestig dat ’n siviele eis teen die weermag en polisie ingestel gaan word.

Wikus Steyl van Ian Levitt Prokureurs, het gesê enige voordele wat uit ’n siviele geding gaan spruit, gaan wees “vir sy vrou, sy kinders en ma omdat hy haar ook ondersteun het en dalk vir sy swaer . . .”

Tot met Rapport se navraag was Steyl nie bewus daarvan dat Khosa wettig met Ngobeni getroud was of dat hulle twee kinders saam het nie. Hy sê hulle sal ook nou betrek word.

Meer oor:  Collins Khosa  |  Alexandra  |  Weermag  |  Moord  |  Inperking  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.