Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodgeslaan met ysterpyp: Verdagte ‘kan niks onthou’

Die man wat daarvan verdink word dat hy Boeta (69) en Lily (66) Smit van Potchefstroom wreedaardig met ’n ysterpyp doodgeslaan het, beweer nou hy kan nie onthou wat tydens die aanval gebeur het nie.

Boeta Smit Foto: Verskaf
Lily Smit Foto: Verskaf

Pfunzo Netshiongolwe (30) is Maandag in die rondgaande hof in Klerksdorp vir sielkundige waarneming verwys om vas te stel wat sy gemoedstoestand was tydens die aanval op 1 Desember 2017, en of hy gedurende die rooftog tussen reg en verkeerd kon onderskei.

Regter Ronald Hendricks het gelas Netshiongolwe moet 30 dae onder sielkundige waarneming wees en deur ’n kliniese sielkundige en psigiater geëvalueer word.

Familielede het net hul kop geskud oor dié nuwe wending in die saak. Die Smit-egpaar se moordenaar het Boeta herhaaldelik met ’n ysterpyp oor die kop geslaan. Hy is op die toneel dood. Lily is so hard geslaan dat die een kant van haar skedel ingeduik was. Sy het nooit haar bewussyn ná die aanval herwin nie en dokters het gemeen sy was in ’n vegetatiewe staat. Lily is sowat twee maande ná die aanval ook dood.

Die egpaar is op 1 Desember verlede jaar in die vroeë oggendure by hul huis in Potchefstroom aangeval en beroof nadat Boeta vermoedelik geluide buite die huis gehoor en gaan ondersoek instel het.

Netshiongolwe is glo die dag van die rooftog in die Smit-egpaar se gesteelde bakkie aangetref. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en roekelose of nalatige bestuur. Hy is vroeër borgtog geweier.

Ao. Kevin Pretorius, ondersoekbeampte en ervare speurder, het tydens Netshiongolwe se borgtogverhoor getuig die toneel waar Boeta gesterf het, was die mees gewelddadige en bloedigste wat hy nóg aanskou het.

Hy het getuig hoe lede van ’n plaaslike buurtwaggroep en veiligheidsmaatskappy ’n man in die Smit-egpaar se bakkie agtervolg en eindelik vasgetrek het nadat hy in twee ongelukke was.

Pfunzo Netshiongolwe Maandag in die rondgaande hof in Klerksdorp, waar hy aanhoudend vir die kamera gekoes het.Foto: Susan Cilliers
Pfunzo Netshiongolwe kruip Maandag in die rondgaande hof in Klerksdorp agter sy pet weg. Agter hom, in die voorste ry van die galery, sit Boeta en Lily Smit se kinders. Van links is Lindie van Dyk, Jacques Smit, en hul ander dogter en skoonseun, Sonja en Wietsch Nel. Foto: Verskaf
Pfunzo Netshiongolwe (heel regs) Maandag in die rondgaande hof in Klerksdorp. Langs hom sit twee beskuldigdes in onverwante sake.Foto: Susan Cilliers

Lily se selfoon en die egpaar se afstandbeheertoestel vir hul hek is glo later by Netshiongolwe gevind. Hy het vroeër nogtans ontken hy was by die rooftog betrokke.

Lindie van Dyk, die egpaar se dogter, het vroeër gesê sy wens sy kan Netshiongolwe na die hospitaal neem om te sien wat hy aan haar ma gedoen het. “My ma was heeltyd besig. As sy nie gehekel het nie, het sy naaldwerk gedoen of resepte uitgetoets.”

Netshiongolwe verskyn weer op 8 Oktober in die hof.

Meer oor:  Lily Smit  |  Boeta Smit  |  Potchefstroom  |  Moord  |  Doodgeslaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.