Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodskis-2 bly agter tralies
Willem Oosthuizen en Theo Jackson in die rondgaande hooggeregshof in Middelburg. Foto: Jeanelle Greyling

Die aansoek deur Willem Oosthuizen (30) en Theo Jackson (29) om op borgtog vrygelaat te word, is Donderdag in die rondgaande hooggeregshof op Middelburg in Mpumalanga van die hand gewys.

Hulle wou op borgtog vrygelaat word hangende hul aansoek om verlof tot appèl teen hul vonnisse.

"Ek is daarvan oortuig dat daar geen redelike kans op sukses is nie. Selfs as die aansoek om te appelleer toegestaan word, sal die beskuldigdes steeds tronkstraf uitdien," het regter Segopotje Sheila Mphahlele gesê.

Oosthuizen se regsverteenwoordiger het vroeër aangevoer dat dit geen skade sou doen om borgtog aan Oosthuizen en Jackson toe te staan terwyl hulle wag vir die uitkoms van hul petisie voor die appèlhof nie.

Oosthuizen en Jackson het die appèlhof op 23 November genader om teen hul vonnis te appelleer, nadat regter Mphahlele wat hulle aan die einde van Oktober in dieselfde hof gevonnis het, hul aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het.

Hulle is tot onderskeidelik 11 en 14 jaar gevonnis nadat hulle in Augustus daaraan skuldig bevind is dat hulle Victor Mlotshwa in ’n doodskis gedwing en gedreig het om hom aan die brand te steek.

Hulle het Delton Sithole op dieselfde dag in ’n afsonderlike voorval aangerand.

Oosthuizen en Jackson het Mlotshwa op die plaas Blesbokvlakte in ’n doodskis gedruk wat deur Jackson verskaf is. Hulle het gedreig om hom met petrol aan die brand te steek en ’n slang in die kis te sit. Hulle het elkeen ook ’n video op hul selfoon van Mlotshwa in die kis gemaak. Een van dié video's het op ’n WhatsApp-groep en daarna op die internet beland.

Hulle is in Augustus skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een van poging tot moord, een van intimidasie en een van ontvoering.

Jackson is ook skuldig bevind aan regsverydeling omdat hy agterna die kis verbrand en só getuienis vernietig het.

Adv. Wayne Gibbs, vir Oosthuizen, het Donderdag aangevoer dat sou sy kliënt nie op borgtog vrygelaat word nie en die appèlhof kom tot ’n ander beslissing, dit sal beteken hy is onregverdig behandel.

“Dié onregverdigheid sal nooit vergoed kan word nie," het Gibbs gesê.

"Selfs as die aansoek nie suksesvol is nie, gaan die beskuldigdes bloot terug tronk toe om die res van hul vonnisse uit te dien. Die hof kan nie bevooroordeeld wees oor of hulle dit binne maande of ná jare uitdien nie. Dis nie asof hulle 90 jaar oud is nie."

Regter Mphahlele het aan Gibbs gevra: "Dink jy daar is ’n moontlikheid dat die appèlhof ’n vonnis kan oplê waar die beskuldigdes geen tronkstraf kry nie?"

"Absoluut. Die beskuldigdes het (vir Mlotshwa) geterg. Hulle wou hom bangmaak. Hulle wou hom nie doodmaak nie," het Gibbs gesê.

Selfs as die appèlhof ook tronkstraf oplê, is daar ’n sterk moontlikheid dat die sowat tien maande wat die beskuldigdes reeds uitgedien het voldoende sal wees, het Gibbs aangevoer.

Ook adv. Org Basson, vir Jackson, het gesê die appèlhof sal bes moontlik tot ’n ander beslissing kom.

"Om iemand bang te maak, is nie dieselfde as poging tot moord nie," het Basson gesê.

Gibbs het gesê die video toon geen bewyse van ernstige aanranding nie.

"Al bewyse wat daar in die video is, is dreigemente. Die enigste aanranding is wanneer ’n beskuldigde op die kis trap. Daar is nie eens bewyse van beserings nie."

Adv. Robert Molokoane, staatsaanklaer, het egter aangevoer die borgtogaansoek is voortydig en dat die beskuldigdes eers aansoek moet doen ná die appèlhof besluit het of hulle mag appelleer.

"Ek is doodseker die appèlhof gaan nie die aansoek goedkeur nie," het Molokoane gesê.

Meer oor:  Theo Jackson  |  Willem Oosthuizen  |  Doodskis-2  |  Moord-Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.