Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodskis-2 kan reeds in Februarie parool kry

Die sogenaamde doodskis-twee kan reeds in Februarie volgende jaar vir parool in aanmerking kom, afhangende daarvan of hulle goeie gedrag in die tronk getoon het.

Dit volg nadat die appèlhof in Bloemfontein Maandag die vonnis wat die rondgaande hof in Middelburg vroeër vir Willem Oosthuizen en Theo Jackson opgelê het, tersyde gestel en met ’n ligter vonnis vervang het.

Hul vonnis van onderskeidelik 11 en 14 jaar tronkstraf is geskrap en hulle is effektief tot vyf jaar tronkstraf elk gevonnis.

Dit is vir die aanranding en ontvoering van Victor Mlotshwa nadat hulle hom net “goed wou skrikmaak” toe hulle hom in ’n kis laat lê het nadat hy glo koperkabels gesteel het.

Die vonnisse is terugwerkende tot 25 Augustus 2017 van krag. Teen einde Februarie volgende jaar sal Oosthuizen en Jackson dus reeds die helfte van hul vonnisse uitgedien het, en dit bring hulle dan in aanmerking vir parool.

Oosthuizen is nou vyf jaar tronkstraf vir aanranding en ’n jaar vir ontvoering opgelê, wat hy samelopend moet uitdien.

Willem Oosthuizen en Theo Jackson tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Felix Dlangamandla

Jackson is ook vyf jaar tronkstraf vir aanranding opgelê, sowel as ’n jaar elk vir ontvoering en regsverydeling. Dit word ook samelopend uitgedien.

Dit volg nadat hulle op 11 November ’n appèlaansoek teen hul vonnis en skuldigbevinding gebring het.

Die appèlhof het Maandag onder meer in sy uitspraak bevind dat Oosthuizen en Jackson, wat albei eerste oortreders is, aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig is, en nie aan poging tot moord nie.

“Maar die gebrek aan beserings aan Mlotshwa maak dit nie ’n minder ernstige oortreding nie.

“Die hof bevind dat die mees verswarende faktor in die saak die versuim van Oosthuizen en Jackson was om te erken dat dit wat hulle aan Mlotshwa gedoen het, ernstig en vernederend was.”

Die hof het voorts gesê die ontstellendste deel van die voorval was hul vermetelheid om hul sadistiese optrede op video op te neem.

“Dit was afgryslik om te sien hoe ’n man in ’n kis gedwing word terwyl hy vir genade pleit en om hulp skree. Dit was ’n vernederende en kommerwekkende toneel.”

Die appèlhof het voorts bevind dat die rondgaande hof nie die versigtigheidsreël toegepas het toe hy die getuienis van enkelgetuies aangehoor het nie.

Verder het dié hof ook nie die meriete, gebreke en teenstrydighede in die verskeie weergawes van die getuies, veral omdat hulle enkelgetuies was, in ag geneem nie.

Meer oor:  Victor Mlotshwa  |  Bloemfontein  |  Middelburg  |  Doodskis-Saak  |  Hof  |  Appèlaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.