Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodskis-2 kry dalk gou parool, hoop prokureur
Willem Oosthuizen en Theo Jackson tydens hul verhoor in 2017. Foto: Deaan Vivier

Op “papier” kan die sogenaamde doodskis-twee reeds in Februarie vanjaar vir parool in aanmerking kom, sou hulle aan al die nodige vereistes voldoen.

Regstegnies moet dit eintlik in April wees.

Intussen dui hul lêers en die stelsel by die Paxton-gevangenis in eMalahleni (Witbank) steeds aan dat hulle effektief tot onderskeidelik 11 en 14 jaar tronkstraf opgelê is.

Die departement van korrektiewe dienste sê hy kan nie Willem Oosthuizen en Theo Jackson se verminderde vonnisse, soos in Desember deur die appèlhof in Bloemfontein verander, toepas nie – nie voordat hulle die gewysigdevonnis-lasbrief van die hof ontvang het nie.

Dié is egter glo nog nie aan die tronk gestuur nie omdat die appèlhof blykbaar ’n fout gemaak het met die terugdateringsdatum van dié ligter vonnisse.

Oosthuizen en Jackson se prokureur, Marius Coertze, het Sondag gesê hul volgende stap is om nou vir die griffier van die appèlhof ’n aanmaning te stuur dat die regte beslissing van die hof so spoedig moontlik by die tronk uitkom.

Daarby, sê Coertze, is die spesiale kwytskelding van vonnisse wat pres. Cyril Ramaphosa op 16 Desember aangekondig het, ook op Jackson en Oosthuizen van toepassing.

“Dus, maak nie saak na watter datum die appèlhof die nuwe vonnisse sou terugdateer nie, ons kliënte se nie-parooltydperk het reeds verval,” sê hy.

Eerste regsfout:

Oosthuizen en Jackson is op 25 Augustus 2017 in die Rondgaande hof in Middelburg daaraan skuldig bevind dat hulle die vorige jaar vir Delton Sithole en Victor Mlotshwa aangerand het met die opset om ernstig te beseer.

Hulle is ook aan poging tot moord op Mlotshwa, ontvoering en intimidasie skuldig bevind nadat hy in ’n doodskis gedruk is.

Regter Segopotje Sheila Mphahlele het destyds bevind dat die twee ook gedreig om vir Mlotshwa met petrol aan die brand te steek en ’n slang in die kis te sit.

Jackson is verder aan regsverydeling skuldig bevind omdat hy ná die voorval die kis verbrand het.

’n Video van Mlotshwa in die kis het op die internet beland wat tot die twee se inhegtenisneming gelei het.

Mphahlele het hulle op 27 Oktober 2017 tot onderskeidelik 11 jaar en 14 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Sy het ’n deel van hul vonnisse vir agt jaar opgeskort.

In November daardie jaar moes die vonnisse in die hooggeregshof in Pretoria gewysig word omdat ’n deel van ’n vonnis kragtens die Strafproseswet net vir vyf jaar opgeskort mag wees.

Die effektiewe vonnisse het egter van krag gebly.

Die appèlbeslissing:

Op 2 Desember 2019 het die appèlhof, waar vyf regters voorgesit het, Mphahlele se skuldigbevindings en vonnisse tersyde gestel.

Oosthuizen en Jackson is toe skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en ontvoering.

Jackson is ook skuldig bevind aan regsverydeling.

Die twee se vonnisse is verander in effektief vyf jaar tronkstraf elk.

Die appèlhof het beveel dat dié nuwe ligter vonnisse teruggedateer word na 25 Augustus 2017.

Hiervolgens sou Oosthuizen en Jackson dus teen Februarie 2020 reeds die helfte van hul vonnisse uitgedien het, wat hulle dan in aanmerking vir parool sou bring.

Agt dae ná die appèlhof-beslissing het Coertze ’n brief van die griffier gekry: in terme van die Strafproseswet moet ’n vonnis teruggedateer word na die oorspronklike datum van vonnisoplegging – en nié die datum van skuldigbevinding nie.

Indien die regte datum van vonnisoplegging gebruik word, kom hul April in aanmerking vir parool.

Coertze sê daar is geen aanduiding in die griffier se brief oor watter “voorgestelde prosedure” die appèlhof nou wil volg om dit reg te stel nie.

Hy het die griffier geantwoord dat hy die besluit oor hoe om die regsdilemma te hanteer in die hof se hande laat.

“En ons het nog nooit weer iets gehoor nie,” sê Coertze.

Tronk ingelig:

Intussen het Coertze in Januarie die tronk skriftelik ingelig dat Oosthuizen en Jackson se vonnisse deur die appèlhof verminder is én ’n afskrif van die appèlhof-beslissing saamgestuur.

Hierin het hy verduidelik dat hulle, nadat die helfte van hul vonnisse uitgedien is, vir parool in aanmerking kan kom.

Daarby, in ag genome Ramaphosa se kwytskelding van een jaar vir sekere oortreders, kon Jackson en Oosthuizen al verlede jaar vir parool in aanmerking kom.

DKD verduidelik

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD) het bevestig dat hulle nié in besit is van die gewysigdevonnis-lasbrief van die appèlhof is nie.

“Korrektiewe dienste kan nié vonnisse of die rekords van oortreders verander sonder so ’n lasbrief van die hof nie. Ons stelsel is sodanig toegerus om (vonnis-)wysigings te verwerk sodra dit direk van die relevante howe ontvang word.

“Om dié rede word die twee gevangenes se vonnisse steeds as onderskeidelik 11 en 14 jaar aangedui,” verduidelik hy.

Nxumalo voeg by: “Ons wil dit duidelik stel: dit is nié weens ’n fout van die (tronk se) saakbestuurskomitee nie. Hulle moet werk volgens ons beleid en prosedures.”

Rakende die jaar afslag wat gevangenes danksy Ramaphosa se kwytskelding kry, sê Nxumalo dat, in terme van die aankondiging, die eerste persone op wie dit van toepassing is, bejaardes, vroue, moeders met babas in die tronk en gestremdes is.

Meer oor:  Willem Oosthuizen  |  Theo Jackson  |  Doodskis-Drama  |  Doodskis-2  |  Parool  |  Rassisme  |  Vonnisoplegging  |  Rassemisdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.