Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodskis-2 toe vry

Theo Jackson en Willem Oosthuizen, die sogenaamde Doodskis-2, is Vrydagmiddag uit die Paxton-gevangenis in Emalahleni (Witbank) op parool vrygelaat.

Dit volg ná ’n lang regstryd waarvan die laaste terugslag op 30 Julie was toe hulle weer voor die paroolraad moes verskyn. Hul aansoeke is dié dag sonder ’n volgende datum uitgestel omdat een van die paroolraadlede glo Covid-19 gehad het.

Daar was geen aanduiding van wanneer hul aansoek weer aangehoor sou word nie, totdat hulle Donderdag glo uit die bloute weer na die paroolraad gebring en ingelig is: Hulle kan Vrydag 14 Augustus huis toe gaan.

Logan Maistry, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het Vrydag bevestig Jackson en Oosthuizen se vrylating op parool is goedgekeur.

“Die twee oortreders is as deel van die Covid-19- spesiale paroolvrystelling vrygelaat. Hulle sal egter steeds die res van hul vonnisse onder korrektiewe toesig uitdien en onder voorwaardes waaraan voldoen moet word totdat die vonnistydperk verstryk,” sê hy.

Maistry het bygevoeg daar is op 20 Mei 2020 met die spesiale parool vir laerisiko-gevangenes weens die Covid-19-pandemie begin.

“Administratiewe prosedures en normale paroolprosesse moes gevolg word en paroolrade en hoofde van korrektiewe sentrums moes steeds elke saak op eie meriete beoordeel, ’n noukeurige proses wat slagoffer-oortreder-mediasie insluit, sowel as die neem van DNS-monsters deur die polisie.

“Die laerisiko-gevangenes moes ook relevante rehabilitasie- en herintegreringsprogramme voltooi,” sê Maistry.

Jackson en Oosthuizen is dus deel van die 9 537 prisoniers wat sedert Donderdag parool toegestaan is onder korrektiewe toesig.

Die hooggeregshof het die twee mans in 2017 elk skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een van poging tot moord, een van intimidasie en een van ontvoering. Jackson is ook skuldig bevind aan regsverydeling omdat hy die kis waarin hulle Victor Mlotshwa ingedwing het, verbrand en só getuienis vernietig het.

Op 27 Oktober 2017 is Oosthuizen effektief 11 jaar tronkstraf opgelê en Jackson 14 jaar.

In Desember 2019 het die appèlhof van die skuldigbevindings en vonnisse tersyde gestel.

Die appèlhof het die twee wel skuldig bevind aan die ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer van Mlotshwa. Jackson is steeds skuldig aan regsverydeling.

Hul vonnisse is verander na effektief vyf jaar tronkstraf elk. Die nuwe ligter vonnisse is teruggedateer na die datum van die oorspronklike vonnisoplegging.

In Februarie die jaar is hul vrylating op parool goedgekeur.

Jackson is eerste vrygelaat. Oosthuizen sou kort daarna volg. Jackson is egter ’n week later weer gearresteer, terwyl Oosthuizen nooit vrygelaat is nie.

Die DKD het destyds aangevoer die twee se parool is “teruggetrek” omdat die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste ’n mosie by die korrektiewe toesig- en paroolhersieningsraad ingedien het om hul vrylating te hersien.

Die rede: Daar was geen slagofferdeelname aan die paroolproses nie.

Hul regspan, Marius Coertze en Elsabé Juyn, het in verskeie regsbriewe aan die paroolraad en die DKD uitgewys dat Mlotshwa dit duidelik gemaak het dat hy nié aan so ’n proses wil deelneem nie.

Toe is besluit dat die twee gevangenes dan so ’n mediasieproses met Delton Sithole moet voer – die man wat die appèlhof bevind nié deur hulle aangerand is nie en dat hy nie ’n slagoffer was nie. Oosthuizen en Jackson is op alle aanklagte relevant tot hom onskuldig bevind.

Weer moes die prokureurs dit in regsbriewe uitwys.

Jackson en Oosthuizen sou toe op 30 Julie weer voor die paroolraad verskyn het – wat gekortwiek is deur Covid-19.

Donderdag is hulle ingelig hulle kan parool onder streng voorwaardes kry.

Wessel Basson, ’n direkteur van die burgerregtegroep Patriot vir Minderhede, het Vrydag gesê hulle is dankbaar dat die twee manne uiteindelik op parool vry is.

Hy het gesê almal het weggeskram van twee mense wat inderwaarheid dieselfde regte as ander het, toe die sogenaamde “Doodskis-saak polities geraak het”.

“Ons tree op vir alle minderhede. Hierdie was ’n geval waar die twee hul straf uitgedien het en soos enige ander landsburger geregtig was op parool as hulle aan die nodige vereistes voldoen, daarom het Patriot vir Minderhede hulle en hul families bygestaan.

“Marius Coertze en Elsabé Juyn is nie net mededirekteure van ons groep nie, maar ook regsverteenwoordigers wat bereid was om te help toe niemand anders wou nie.

“Ek kan jou nie sê hoeveel goed het hul verniet gedoen nie; projekte wat ons gehou het om geld in te samel om te help met die regskoste omdat ons gevoel het daar moet in elke saak redelikheid wees en almal moet dieselfde behandel word,” sê Basson.

“Ek glo Theo en Willlem is net so dankbaar en verlig dat hul regte uiteindelik gerespekteer word.”

Meer oor:  Theo Jackson  |  Willem Oosthuizen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.