SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Doodskis-borgaansoek: Skuldiges se vroue in hof

Terwyl hulle gewag het vir die verrigtinge om te begin, het Willem Oosthuizen (30) en Theo Jackson (29) se eggenote laggend met hul mans gesels, albei in vlootblou broeke en bruin langmou-oortrektruie geklee.

Theo Jackson en Willem Oosthuizen gesels in die hof met hul vroue. In die foto is Reanie Jackson. Foto: Jeanelle Greyling

Die twee, wat hul vonnisse in die Paxton-gevangenis in Witbank uitdien, doen aansoek om borgtog hangende hul appèlaansoek om hul vonnisse te laat verkort.

Anders as gedurende hul verhoor was daar Donderdag geen skares wat voor die rondgaande hof in Middelburg, Mpumalanga, betoog het nie.

Dr. Beyers Naudé-straat voor die hofgebou was vir die eerste keer sedert die opspraakwekkende saak hier aangehoor is, nie afgesper nie en selfs die hofgalery, wat altyd stampvol was, was Donderdag merkbaar leër.

Oosthuizen en Jackson is in Augustus skuldig bevind en einde Oktober tot onderskeidelik 11 en 14 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle Victor Mlotshwa, wat ook Donderdag in die hof was, in ’n doodskis gedwing en gedreig het om hom aan die brand te steek.

Hulle het Delton Sithole op dieselfde dag in ’n afsonderlike voorval aangerand.

Oosthuizen en Jackson het Mlotshwa op die plaas Blesbokvlakte in ’n doodskis, wat deur Jackson verskaf is, gedruk.

Victor Mlotshwa (links) is saam met 'n vriend in die rondgaande hooggeregshof in Middelburg. Foto: Jeanelle Greyling

Hulle het gedreig om hom met petrol aan die brand te steek en ’n slang in die kis te sit. Hulle het elkeen ook ’n video op hul selfoon van Mlotshwa in die kis gemaak. Een van dié video's het op ’n WhatsApp-groep en daarna op die internet beland.

Hulle is in Augustus skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een van poging tot moord, een van intimidasie en een van ontvoering.

Hulle is einde Oktober gevonnis, maar hul vonnisse is op 9 November in die hooggeregshof in Pretoria gewysig omdat ’n deel van hul vonnisse aanvanklik vir agt jaar opgeskort was, maar dit mag kragtens die Strafproseswet net vir vyf jaar opgeskort wees.

Oosthuizen is einde Oktober gevonnis tot 16 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar vir agt jaar opgeskort was. In werklikheid het hy dus 11 jaar tronkstraf gekry. Regter Segopotje Sheila Mphahlele van die hooggeregshof in Pretoria het egter op 9 November die opgeskorte deel vir vyf jaar opgeskort.

Jackson is einde Oktober gevonnis tot 19 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar vir agt jaar opgeskort was. In werklikheid het hy dus 14 jaar tronkstraf gekry. Die regter het ook die opgeskorte deel van sy vonnis vir vyf jaar opgeskort.

Hulle het in hul verhoor gesê hulle wou Mlotshwa ’n les leer nadat hy volgens hulle koperkabels gesteel en hul families gedreig het, maar adv. Robert Molokoane, staatsaanklaer, het met die skuldigbevinding aangevoer as dit nie hul bedoeling was om Mlotshwa dood te maak nie, sou hulle ’n video van die vermoedelik gesteelde koperkabels geneem het.

Oosthuizen en Jackson het die appèlhof genader nadat regter Mphahlele geweier het dat hulle in die hooggeregshof teen hul vonnis appelleer.

Die borgtogaansoek duur voort.

Hofordonnanse haal Theo Jackson se boeie af. Foto: Jeanelle Greyling

Meer oor:  Theo Jackson  |  Willem Oosthuizen  |  Moord-Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.