Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Doodskis: Trane, gejuig ná borgtog geweier is

Selfs die sogenaamde doodskisbeskuldigdes se slagoffer was Donderdag verbaas dat sy aanranders oor Kersfees en Nuwejaarsdag in die tronk gaan slaap.

Willem Oosthuizen (30) en Theo Jackson (29) het in die rondgaande hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga, aansoek gedoen om borgtog hangende hul appèlaansoek om hul vonnisse te laat verkort, maar die aansoek is van die hand gewys.

'n Tevrede Victor Mlotshwa loop by die hof uit nadat borgtog geweier is. Foto: Jeanelle Greyling

Waar Willem se vrou, Chané, Donderdagoggend gegiggel het, het sy die middag herhaaldelik gegrynslag toe regter Segopotje Sheila Mphahlele haar redes vir die besluit aangevoer het.

“Die meeste van die kwessies wat (in die petisie voor die appèlhof) gelug is, is dieselfde kwessies wat hulle voor my gelug het in hul aansoek om teen die skuldigbevinding en vonnis te appelleer,” het Mphahlele gesê.

“Een van dié kwessies is dat (Willem) vir sy gesin voorsien het deur vrugte en groente te verkoop, maar hy het in sy getuienis gesê dat niks sy vrou verhinder om vrugte en groente te verkoop nie. Die vrou sal dus finansieel vir haar gesin kan sorg.”

Reanie Jackson en Chané Oosthuizen in die hof in Middelburg. Foto: Jeanelle Greyling

Chané het hierop gegrynslag en ook toe Mphahlele sê sy glo die appèlhof sal ook tronkstraf aan die beskuldigdes oplê weens die bewyse, aard en erns van hul misdade.

Toe Mphahlele sê borgtog word geweier, het Chané met haar gesig in haar hande gesit. Oosthuizen, Jackson en dié se vrou, Reanie, het strak voor hulle uitgestaar.

Die hofordonnanse het die boeie wat hulle die oggend afgehaal het, weer aan Oosthuizen en Jackson se hande vasgemaak en die twee is na die tronkselle begelei. Reanie het ’n huilende Chané getroos.

Willem Oosthuizen staar strak voor hom uit terwyl die hofordonnans weer die boeie aan sy hande sit. Foto: Jeanelle Greyling

Die ondersteuners van die slagoffer, Victor Mlotshwa, het egter gejuig en Mlotshwa is met ’n glimlag by die hof uit.

“Ek voel baie bly oor die besluit wat vandag deur die regter geneem is,” het Mlotshwa ná die tyd gesê. “(Die uitspraak) het my verras.”

Marius Coertze, Oosthuizen se prokureur, was net so verbaas oor die “teleurstellende uitspraak”.

“Ek het gedink dat die regter die aansoek vandag sou toestaan, want haar beslissing in die aansoek tot verlof om appèl was baie swaar en dit behoort nie so te gewees het nie.

Reanie Jackson en Chané Oosthuizen in die hof in Middelburg. Foto: Jeanelle Greyling

“Duidelik wil sy nie verlof toestaan tot appèl nie, so ons sal moet wag en kyk of die regters by die appèlhof dieselfde mening as sy het,” het Coertze gesê.

“Ek wil nou nie die regter kritiseer nie, maar ek sal graag wil weet wat is haar reaksie as hierdie beskuldigdes wel verlof tot appèl kry. Gaan sy dan erken sy het ’n fout gemaak? Want duidelik wil sy nie erken dat sy ’n fout kán maak nie.

“Duidelik sê sy sy’s reg en dat geen ander hof tot ’n ander beslissing kan kom nie.”

Willem Oosthuizen en Theo Jackson sal Kersfees en Nuwejaarsdag in die tronk slaap. Foto: Jeanelle Greyling

Toe ’n joernalis vra of die beskuldigdes Kersfees en Nuwejaarsdag in die tronk gaan slaap, het Coertze gesê: “Ja, ja. Ons verwag nie ’n reaksie van die appèlhof voor einde Januarie nie.”

Oosthuizen en Jackson is tot onderskeidelik 11 en 14 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle in Augustus daaraan skuldig bevind is dat hulle Mlotshwa in ’n doodskis gedwing en gedreig het om hom aan die brand te steek.

Reanie Jackson troos vir Chané Oosthuizen in die hof in Middelburg. Foto: Jeanelle Greyling

Reanie Jackson en Chané Oosthuizen in die hof in Middelburg. Foto: Jeanelle Greyling

Hulle het Delton Sithole op dieselfde dag in ’n afsonderlike voorval aangerand.

Hulle is skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een van poging tot moord, een van intimidasie en een van ontvoering.

Jackson is ook skuldig bevind aan regsverydeling omdat hy agterna die kis verbrand en só getuienis vernietig het.

Meer oor:  Theo Jackson  |  Willem Oosthuizen  |  Doodskis-2  |  Doodskis-Saak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.