Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Dooie’ getuie kan by Zuma kom spook

Hoewel oudpres. Jacob Zuma en sy regspan in die hooggeregshof in Pietermaritzburg beweer het dat ’n sleutelgetuie in die saak teen hom dood is, het ondersoekers die man in Frankryk opgespoor – lewend.

Jacob Zuma. Foto: Felix Dlangamandla

Alain Thétard, omstrede voormalige hoof van Thales in Suid-Afrika en skrywer van ’n berugte faks in kodetaal, is gevind, het News24 vasgestel.

Zuma en Thales het in hul hofaansoek vandeesweek gevra dat die aanklagte van geldwassery, rampokkery, bedrog en korrupsie teen hulle teruggetrek word.

Zuma se eedsverklaring lui: “Thétard is nou dood en kan nie die vervolgingsgesag of vir my help om die faks eens en vir altyd te verduidelik nie.”

Thales het net beweer dat hy Thétard nie kan opspoor nie.

Thétard het ’n kernrol gespeel in die betalings (na bewering aan Zuma) deur maatskappye in die Nkobi-groep, wat aan Schabir Shaik behoort het.

Shaik is in 2005 skuldig bevind aan bedrog en korrupsie en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is enkele jare daarna op mediese parool vrygelaat. Hy toon nog geen teken van afsterwe nie.

Thétard kan ’n uiters belangrike getuie in die saak teen Zuma en Thales wees.

Die berugte faks het glo aangedui dat Zuma R500 000 per jaar sal kry as hy Thales sal beskerm teen ondersoeke in die wapenskandaal en sal help dat die maatskappy meer werk in Suid-Afrika kry.

Die Sunday Times het destyds berig dat Zuma ’n kode gebruik het toe hy Thétard en Shaik in 2000 in Durban ontmoet het.

Thétard het die kode uitgedink en in die faks gegee: “Ek sien die Eiffeltoring se ligte skyn vandag.”

Adv. Andrew Breitenbach SC, vir die staat, het in die hof gesê nuwe getuienis het aan die lig gekom wat getuies soos Thétard betref nadat hy sy dokumente by die hof ingedien het.

Adv. Wim Trengove SC, ook vir die staat, het Thales se “oneerlike spel” aan die hof uitgewys, veral deur Thétard wat al baie belowe het om dinge te doen en dit dan nie gedoen het nie. Hy het glo aanvanklik erken dat die faks bestaan, maar later sy storie verander en gesê hy het dit net geskryf om sy eie gedagtes neer te pen, maar dat hy dit opgefrommel en weggegooi het.

Hy het ontken dat hy sy sekretaresse gevra het om die faks te tik. Sy het vorendag gekom met die oorspronklike handgeskrewe nota in Frans en ’n kopie van die getikte faks en aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gegee. Sy is intussen oorlede.

Volgens destydse hofdokumente het Thétard en Zuma mekaar drie keer in die laat 1990’s en begin 2000’s ontmoet, maar hy het dit later ontken.

Nou dat Thétard gevind is, kan hy moontlik na Suid-Afrika gebring word om in die Zuma-verhoor te getuig.

Zuma se regspan gaan na verneem word korrespondensie tussen die NVG en die Valke in Maart 2018 as nuwe getuienis by die hof wil indien.

Dit het glo regstreeks te make met Zuma se bewering dat hy ’n slagoffer van ’n politieke sameswering is om hom uit die politiek te stoot.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.