Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Downer vra hof moet Zuma se aansoek verwerp

Daar was geen buitelandse intelligensieagentskappe betrokke in die vervolging van oudpres. Jacob Zuma in die wapenskandaal-saak nie.

So sê adv. Billy Downer SC, die aanklaer in die saak waarin Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales teregstaan op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery, in ’n omvattende beantwoordende verklaring van ’n allemintige 2 703 bladsye.

Zuma en Thales ontken skuld.

Downer is ’n senior adjunkdirekteur van die nasionale vervolgingsgesag (NVG). Sy beantwoordende verklaring is Woensdag by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien.

Sy verklaring volg nadat Zuma met sy vorige verskyning verlede week voor regter Piet Koen in ’n spesiale pleitrede aangevoer het dat hy nie ’n billike verhoor sal hê as Downer die aanklaer is nie.

Hy het gevra dat Downer hom aan die saak onttrek.

Die spesiale pleitrede is gebring ingevolge art. 106 (1)(h) van die Strafproseswet, wat voorsiening daarvoor maak dat ’n hof kan beslis dat ’n aanklaer op grond van sy “titel”, oftewel sy bevoegdheid, aan ’n saak moet onttrek.

Downer vra die hof moet Zuma se aansoek verwerp. Die aansoek sal op 19 Julie aangehoor word.

Adv. Billy Downer SC

Zuma voer aan Downer se optrede in die verlede wys dat hy “nie voldoen aan die vereistes van onafhanklikheid en neutraliteit wat nodig is vir ’n aanklaer in regmatige vervolging nie”.

Zuma het in sy pleitstukke onder meer aangevoer in die voorbereiding van sy saak het hy op inligting afgekom wat bo alle twyfel bewys dat buitelandse intelligensiedienste “spesiale belangstelling” in sy vervolging toon.

Die oudpresident het aangevoer daar is twee bronne wat inligting het oor die band wat Leonard McCarthy, ’n voormalige hoof van die eertydse Skerpioene, gehad het met buitelandse geheime dienste en dat hy gereeld in sy ondersoek na hom (Zuma) met hulle geskakel het.

Hy het ook beweer dat Downer McCarthy se “verfoeilike dade” toegesmeer het.

Volgens Zuma moet Downer weens sy betrokkenheid eerder ’n getuie in die saak wees.

Downer, wat al langer as 40 jaar ’n advokaat is, sê in sy beantwoordende verklaring hy ontken daar was buitelandse intelligensiedienste betrokke in Zuma se vervolging of dat hy daarvan geweet het.

Downer voer ook aan die doel van Zuma se aansoek dat hy (Downer) hom as aanklaer moet onttrek, sal daartoe lei dat die saak teen hom laat vaar word.

Downer wys daarop dat Zuma drie jaar gelede in dieselfde hof ’n aansoek gebring het dat die saak teen hom laat vaar word. Hy was onsuksesvol.

Zuma het hom toe tot die appèlhof gewend, wat sy aansoek verwerp het. Hierna is hy na die konstitusionele hof, maar het sy aansoek verlede jaar teruggetrek.

Zuma het onder meer aangevoer die NVG misbruik sy mag en dat sy (Zuma se) konstitusionele reg op ’n regverdige verhoor vertrap word.

Hy hou vol die verhoor is polities van aard.

Downer voer aan Zuma gebruik die verkeerde regstegniek om van hom as aanklaer ontslae te raak.

Hy hou vol Zuma moet verhoor word. Downer sê hy is nie die enigste mens wat so dink nie.

“Die ondersoekers en die vervolgingspan dink ook so, ons hoofde dink ook so en dit is deur die howe (die hooggeregshof en die appèlhof) bevestig.”

Omdat die howe reeds sy aansoeke – dat die saak teen hom laat vaar word – verwerp het, kan hy nie weer vra dat dit gedoen word nie.

“My betoog is dat die spesiale pleitrede (van Zuma) nie gegrond is op my ‘onbevoegdheid’ om aan te kla nie.”

Downer is al sedert 2001 in die ondersoek na Schabir Shaik, Zuma se eertydse finansiële raadgewer, betrokke.

Die bewering teen Zuma en Thales SA sluit in dat Zuma destyds deur Shaik sowat R500 000 per jaar ontvang het om Thales SA in die wapenskandaal te beskerm.

Meer oor:  Billy Downer  |  Wapenskandaal  |  Aansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.