Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Drie saam in selle ná hulle mekaar aankla

Drie mans wat mekaar oor en weer van aanranding en diefstal beskuldig het, is die afgelope week almal saam in Vereeniging in die polisieselle gestop.

Shandre Peens (26), haar lewensmaat, Johan van Loggerenberg (35), en hul werknemer Juan Jacobs (37). Foto: Deon Raath

Juan Jacobs (37), ’n nutsman wat herstelwerk aan yskaste en ander toebehore doen, is baie ontstoke daaroor.

“Ek het Dinsdagmiddag so net ná middagete van ’n job af by my werkgewer, Johan van Loggerenberg, se huis aangekom. Ek het my bakkie langs die huis ingetrek en was besig om gereedskap af te pak toe ek die vreemdeling in die huis deur die kombuisvenster sien,” sê Jacobs.

Jacobs sê die man, deur die polisie slegs as E.M. Moorosi geïdentifiseer, was in die sitkamer toe hulle mekaar gewaar.

“Ek het by die kombuisdeur ingehardloop, deur die sitkamer, waar ek oor ’n couch gespring het. By die voordeur het ek hom gevang, toe donder ek hom een hou,” sê Jacobs.

‘Hoekom sal ek soveel moeite doen as ek iemand wil donder?’

Hy sê die man het op vlug geslaan, maar sy laprugsak laat val.

“In die sak het ons Johan se vrou se laptop gekry, saam met ’n pak CV’s, die man se tydelike bestuurslisensie en seker so R60 in munte en tienrandnote.”

Hy het Moorosi later weer net buite Van Loggerenberg se huis in Drie Rivier in Vereeniging gewaar. “Toe storm ek uit en toe donder ek hom weer – hierdie keer seker so vier of vyf houe.”

Jacobs, wat in Oosterse gevegskuns opgelei is, sê hy moes homself beheer. “Ek kon hom doodgemaak het as ek wou.”

Hulle het die polisie gebel, maar die manne in blou was, volgens Jacobs, nie baie haastig nie. Hulle het eers Dinsdag om 20:00, etlike ure ná die voorval, daar opgedaag.

“Hulle het nie eens uit hul voertuig geklim nie. Hulle is net daar weg met die papiere in die verdagte se rugsak. Hulle wou ook nie ’n saak van diefstal maak nie. Hulle het gesê ons het mos ons rekenaar teruggekry,” sê Jacobs.

Die volgende oggend, toe Jacobs vir werk by Van Loggerenberg opdaag, kom die polisie toe weer daar aan, hierdie keer saam met Moorosi.

“Hulle sê toe hy beweer ons het hom vir ’n werkonderhoud genooi en hom toe vir geen rede nie aangerand. Hy het ’n saak van aanranding teen my gemaak en hulle was daar om my in hegtenis te neem.”

Hy skud sy kop.

“Hoekom sal ek soveel moeite doen as ek iemand wil donder? Ek sal hom mos net donder.”

Jacobs het die polisie gevra of hy net eers sy beursie en selfoon vir sy werkgewer kon gee. Toe Van Loggerenberg uitkom, het Moorosi vir Van Loggerenberg ook as ’n aanrander uitgewys en hy is óók in hegtenis geneem.

Hulle is toegelaat om met hul eie motor na die polisiekantoor te ry, maar daar aangekom is al drie – Jacobs, Van Loggerenberg en Moorosi – in die selle gestop nadat hulle aangedring het daarop dat Moorosi vir diefstal aangekla word.

Teen 14:00 Woensdag was al drie mans weer op vrye voet.

Lourens Nolte, van Nolte-prokureurs in Vereeniging, wat Van Loggerenberg en Jacobs in die aanrandingsaak verteenwoordig, sê nie een van die twee sake is op die rol geplaas nie.

“Al twee sake is na die vervolgingsgesag verwys vir ’n beslissing.”

Ao. Simon Mo­fokatsane, woordvoerder van die polisie, het albei die klagte teen Moorosi en teen Jacobs en Van Loggerenberg bevestig.

Moorosi het nie op enige van Rapport se oproepe die afgelope twee dae reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.