Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Droom oor trust deur man se dood aan skerwe'
Jannie Hamilton Foto: Facebook

Die familie van ’n boer van Koppies in die Vrystaat is uitmekaar geskeur nadat hy dood is kort voordat hy ’n trust kon oprig waarin sy plaas van net meer as R4 miljoen verder mee gehandel sou word.

Die kleinseun van wyle Louwtjie Badenhorst (87) en een van sy skoonseuns, wat ná sy dood wou voortgaan met die oprigting van die trust, het hul rieme in die hooggeregshof in Bloemfontein teen sy ouma en haar twee dogters styfgeloop.

Hulle het die beoogde trust met hand en tand in die hof beveg.

Engela Badenhorst (84) erf nou die plaas Eben-Haeser waarop sy en haar twee dogters, Hettie Scheepers (62) en Engela (56), ’n serebraal gestremde, woon.

Jannie Hamilton (25), die kleinseun, en sy pa, Jan Hamilton (58), albei van Benoni waar hulle onderskeidelik ’n prokureur en ’n pastoor is, moet nou die regskoste betaal, het regter Mojalefa Rampai gelas.

Jan was met die derde dogter, Anette, getroud. Sy is in 2011 dood. Jannie is hul seun.

Al dié oorlewende familielede en die makelaar wat die inter vivo-trust voorgestel het, Matty Lotter, sou óf die trustees óf die begunstigdes van die trust gewees het. Lotter is ook intussen dood.

Hettie Scheepers. Foto: Facebook

Regter Rampai het in sy uitspraak gesê die voorgenome Eben-Haeser-trust as ’n moontlike “ongebore begunstigde” het nie wetlik bestaan toe Badenhorst dood is nie.

Dit het nie die vermoë om voordeel te trek nie omdat dit nie bestaan het nie. Daarom kan dit nie wetlik enige voordeel uit Badenhorst se boedel ontvang nie.

“Watter gemeenskaplike droom daar voor 17 Januarie verlede jaar was oor die oprigting van ’n trust, is dié dag deur die dood van Badenhorst aan skerwe gelaat.”

Intussen is twee van die betrokkenes dood, twee is teen die oprigting van die trust gekant en een is weens haar gestremdheid nie wettig in staat om ’n trustee te wees nie.

Om die trust ná sy dood te laat oprig, soos die pa en seun wil hê, sal die familietwis net verder aanvuur.

Die skeuring tussen die twistende faksies in die familie sal vinnig groei en die gaping van vyandigheid sal net dieper word, sê regter Rampai.

Advv. Neil Snellenburg SC en Stelios Tsangarakis het in opdrag van Japie Coetzee van Coetzee-prokureurs in Parys vir die weduwee en haar dogters opgetree. Adv. J.C. Viljoen, in opdrag van McIntyre en Van der Post, het vir die Hamiltons opgetree.

Meer oor:  Plaas  |  Dood  |  Trust  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.