Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros-aanval: Ninow verskyn in stampvol hof

“Dit gaan nie daaroor dat hy ’n wit man is nie, dit gaan daaroor dat hy na bewering ’n kind verkrag het.”

’n Foto van Nicholas Ninow op een van sy rekeninge op Instagram. Verskeie mense het hom onderaan foto’s op die rekening ’n “verkragter” genoem. Foto: Instagram

So het Vicentia Dlamini, woordvoerder van Vroue teen Kindermishandeling, ’n organisasie sonder winsbejag, gesê nadat Nicholas Ninow (20) Dinsdag in die landdroshof in Pretoria verskyn het.

Dit was Ninow se tweede hofverskyning in verband met die beweerde verkragting van ’n sewejarige meisie op 22 September in die Silverton-Dros in Pretoria. Hy het haar glo na die vrouetoilette agtervolg en haar in een van die toilethokkies vasgekeer.

Die voorval het rassespanning op sosiale media laat opvlam nadat bekend geword het dat die verdagte ’n wit man en dat die slagoffer ’n swart meisie is.

Dlamini sê wanneer verkragters gevang word, is dit dikwels nie die eerste keer dat hulle die misdaad gepleeg het nie. Sy sê wetgewing wat die media verhoed om die identiteit van beskuldigdes van seksuele misdrywe bekend te maak voordat hulle gepleit het, gee groter beskerming aan die beskuldigde as aan die slagoffer.

“Ons is ten gunste van ’n regverdige verhoor, maar wat Ninow ook al verduur, is niks in vergelyking met dit wat die meisie en haar gesin nou deurmaak nie,” sê Dlamini.

Honderde lede van politieke partye en aktivistiese organisasies het Maandag voor die landdroshof in Pretoria betoog. Politici wat die hofverrigtinge bygewoon het, is onder andere Mandisa Mashego, EFF-leier in Gauteng, Lesego Makhubela, voorsitter van die ANC-jeugliga in Tshwane, en Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad.

Daar is gejuig toe meer as 60 lede van Bikers Against Child Abuse met brullende motorfietse by die hof opdaag om hul ondersteuning aan die slagoffer en haar familie te wys.

Benewens ’n aanklag van die verkragting van ’n sewejarige meisie staan Ninow tereg op aanklagte van die besit van dwelms en van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

’n Foto van Nicholas Ninow op een van sy rekeninge op Instagram. Foto: Instagram

Hanti Otto berig die stof wat in sy besit gevind is, is weggestuur vir laboratoriumtoetse om te bepaal of dit wel kokaïne is, soos vermoed word.

Die aanrandingsklag hou daarmee verband dat Ninow glo die kelners wat hom probeer aankeer het, met ’n gordel geslaan het.

Met sy hofverskyning was die hofsaal so vol dat toegangsbeheer toegepas moes word.

Ninow het nie aansoek om borgtog gedoen nie. Die saak is tot November uitgestel.

Msimanga het buite die hof ’n beroep op mans gedoen om standpunt in te neem teen verkragting.

“Vroue en kinders is die kwesbaarste lede van die samelewing. Ons mans moet sê genoeg is genoeg.”

Volgens Msimanga het verteenwoordigers van die metroraad in Tshwane met die familie van die meisie gepraat.

“Die ma is steeds geskok. Die metroraad het aangebied om familielede met sielkundige berading te help.”

Intussen het AfriForum “sy absolute afsku” oor die beweerde verkragting uitgespreek.

“Hierdie beweerde optrede van Ninow is in skrille kontras met die soeke na geregtigheid in ’n land wat deur geweldsmisdaad en afgryslike seksuele misdade teen vroue en kinders geteister word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Meer oor:  Dros  |  Nicholas Ninow  |  Dros-Verkragtingsaak  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.