Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros: ‘Aanvaller’ woon by sy ouma

Die vermeende Dros-verkragter (20) woon volgens betroubare bronne by sy ouma in ’n netjiese meenthuiskompleks in Pretoria.

Die kompleks is minder as 10 km van die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, waar ’n sewejarige meisie na bewering Saterdag verkrag is.

Netwerk24 verneem die beweerde verkragting het in ’n toilethokkie in die restaurant se vrouebadkamer plaasgevind.

Sizakele Nkosi-Malobane

Nadat die kind se ma en ander mense op hom en die kind afgekom het, het die vermeende verkragter hom na bewering teëgesit en ’n bakleiery het gevolg.

Hy is later – bebloed – in die mansbadkamer aangehou totdat die polisie opgedaag het, sê ’n bron. ’n Klant wat ten tyde van die voorval in die Dros by die Silverwater Crossing-winkelsentrum was, sê die kind het in die restaurant se speelplek gespeel en toe die badkamer besoek.

Hy vermoed die 20-jarige man het sy kans afgewag en die meisie gevolg.

Die man is deur mansklante en kelners in bedwang gebring.

’n Deel van die speelplek is sigbaar vanuit die restaurant, maar dis met glas afgesper. Dis ook taamlik naby die badkamer.

Dros se hoofkantoor sê luidens ’n verklaring die groep is in verbinding met die kind se ouers en met die bestuur en werknemers van die Silverton-tak.

“Omdat die saak tans deur die polisie ondersoek word en weens die sensitiewe aard daarvan, is ons nie in ’n posisie om verdere kommentaar te lewer nie,” lui die verklaring. Alle verdere navrae is na die polisie verwys.

Die saaklikheid van die verklaring het ’n verdere herrie veroorsaak.

Dis onmoontlik om ’n persoon se veiligheid in ’n semi-openbare ruimte te waarborg.
Dr. Theo Broodryk, hoof van die regskliniek van die Universiteit Stellenbosch

Brenda Madumise-Pajibo van die #TotalShutDown-aktivistegroep sê sy het medelydende woorde verwag en ’n “wakker reaksie” oor hoe die restaurant sy veiligheid gaan opskerp om toekomstige voorvalle te verhoed.

Eusebius McKaiser, aanbieder van Talk Radio 702, het getwiet dat die verklaring tekortskiet aan empatie.

Patse Jordaan, woordvoerder van die Dros-groep, hou vol dat daar nie verder kommentaar gelewer kan word hangende die polisieondersoek nie.

Sy het wel benadruk dat Dros reeds Saterdagaand berading vir die tak se personeel, die kind en haar ouers voorsien het.

“Die berading duur nog elke dag voort en Dros is elke dag met die gesin in verbinding.”

Dr. Theo Broodryk, hoof van die regskliniek van die Universiteit Stellenbosch, meen dit is onregverdig om die blaam op Dros te pak voordat al die feite bekend is.

“Dis onmoontlik om ’n persoon se veiligheid in ’n semi-openbare ruimte te waarborg. Dit beteken glad nie ’n restaurant mag nalatig wees nie, maar om ’n restauranteienaar vir so ’n uitsonderlike geval in die afwesigheid van nalatige optrede verantwoordelik te hou, gaan ’n vloedgolf van soortgelyke eise beteken.”

* Die 20-jarige man verskyn weer op 2 Oktober op aanklagte van verkragting, die besit van dwelms, intimidasie en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy identiteit word weerhou omdat hy nog nie in die hof gepleit het nie. Dit het onlangs bekend geword dat Gauteng die hoogste syfers in seksuele misdade het. Volgens die polisie se jongste statistieke maak seksuele misdade in dié provinsie (10 116) bykans ’n vyfde van die land se 50 108 aangemelde seksuele oortredings uit.

In die 2017-’18-boekjaar is daar 8 062 verkragtings in die provinsie aangemeld. Dit is 362 meer as in die vorige boekjaar wat op ’n 4,7%-toename neerkom.

Sizakele Nkosi-Malobane, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het Woensdag op ’n mediakonferensie oor die provinsie se misdaadstatistieke spesiale melding gemaak van die Dros-voorval en sê: “Dit (die vermeende verkragting) laat ’n mens skaam.”

Nkosi-Malobane sê reëlings is getref om die meisie na die Teddy Bear-kliniek te bring om te verseker dat sy mediese aandag kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.