Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros: Ontsteltenis oor ‘vry’ verdagte

Die beweerde Dros-verkragter is steeds in aanhouding in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria en nié “vry” soos wat ’n vals Facebook-profiel met sy naam beweer nie.

Nicholas Ninow en sy verloofde in gelukkiger tye. Foto: Facebook

Die vals profiel, wat die naweek verskyn het nadat Nicholas Ninow (20) se twee eie profiele, sowel as dié van sy swanger verloofde van sosiale media verdwyn het, het tot verdere emosionele reaksies gelei toe mense vermoed het dat die verdagte nié in aanhouding is nie.

Op die profiel het die persoon, wat voorgee om Nicholas Ninow te wees, eers geskryf dat hy nou as “swartskaap” in Nieu-Seeland is.

Dieselfde profiel het egter Maandag aangevoer dat die persoon van “Pretoria, Eastern Cape, South Africa” is, met die beskrywing: “bored n lonely south africa”.

Dit blyk dat die blad intussen geblok is.

Die regte Ninow is reeds op Saterdag 22 September gearresteer op aanklagte van verkragting en die besit van dwelms.

Luidens die klagstaat het hy ’n sewejarige meisie van Mamelodi, oos van Pretoria, in die Dros in Silverton se vrouebadkamer verkrag.

Hy het die meisie glo na die badkamer gevolg, waar haar ma en ander mense hulle in ’n toilethokkie opgespoor het.

Die verdagte is glo aangerand en na die mansbadkamer geneem waar hy toegesluit is totdat die polisie opgedaag het.

Hy is sedertdien in aanhouding.

Ninow het kort daarna in die landdroshof in Pretoria verskyn, waarna die saak tot Dinsdag uitgestel is om sy adres te bevestig, sy profiel vas te stel (wat insluit of daar enige vorige veroordelings of hangende sake teen hom is) en ’n moontlike borgtogaansoek.

Hy het voor sy arrestasie by sy ouma in ’n netjiese meenthuiskompleks in die ooste van Pretoria gebly, maar die geldigheid van dié adres vir die doeleindes van ’n borgtogaansoek, hang daarvan af of hy steeds welkom daar gaan wees.

Dit is onseker of hy wel Dinsdag ’n borgtogaansoek gaan bring.

Daar is onlangs eers ’n prokureur van die regshulpraad aangestel om Ninow te verdedig en dit is onseker of hy wel Dinsdag ’n borgtogaansoek gaan bring en of die saak net vir verdere ondersoek uitgestel gaan word.

Intussen word talle lede van kinderbeskermingsorganisasies soos #NotInMyNameSA en Women and Men Against Child Abuse Dinsdag buite die hof verwag wat teen Ninow se moontlike vrylating op borgtog gaan betoog.

Die ANC se vroue- en jeugliga, sowel as lede van die EFF en Black First Land First (BLF) het ook vroeër aangedui dat hulle beplan om buite die hof hul stemme dik te maak.

Die landdroshof se veiligheidspersoneel sal op ’n gereedheidsgrondslag geplaas word en vermoedelik, soos met ander hoëprofielsake, binne en buite die hofsaal teenwoordig wees.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die polisie verwag nie enige ontwrigtende optrede by die hof nie.

“Die ondersoekbeampte sal by die saak wees en as daar probleme is, sal hy ons inlig sodat versterkings gestuur kan word indien die hof se veiligheidspersoneel versterkings benodig,” het hy gesê.

Verkeersraad - strate gesluit in Pretoria
Die Tshwane-metropolisie raai die publiek aan om Dinsdag die strate rondom die landdroshof in Pretoria te vermy.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder, sê hulle verwag verskeie busse “vol mense van alle provinsies” wat vanaf 08:00 buite die hof in Francis Baard-straat (Schoemanstraat) gaan betoog. Die busse sal by die ou busdepot tussen Struben- en Bloedstraat geparkeer word, wat dus ook in die Marabastad-omgewing tot verkeersontwrigting kan lei.

Die gedeelte van Francis Baard-straat, tussen Sophie de Bruyn- (Schubart-) en Bosmanstraat sal van 08:00 tot 15:00 heeltemal vir verkeer gesluit wees. 

Die organisasie “Bikers against Child Abuse” sal ook van 07:00 tot 08:30 by die Sunnypark Mall, op die hoek van Steve Biko- (Voortrekkers/Beatrix) en Robert Sobukwe-straat (Esselenstraat) in Sunnyside, bymekaar kom.

“Motoriste word aangeraai om die betrokke strate te vermy en alternatiewe roetes te gebruik. Die Tshwane-metropolisie en die polisie sal die betoging en betrokke strate, sowel as Kerkplein, monitor,” sê Mahamba.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Verkragting  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.