Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros-saak: Media en publiek verbied terwyl kind getuig

Die sewejarige slagoffer in die sogenaamde Dros-saak wat in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word, het Woensdagoggend getuig, maar in camera, soos verwag.

Dit beteken die media en lede van die publiek word die hofsaal belet.

Die hofverrigtinge het begin met adv. Dorah Ngobeni, staatsaanklaer, wat 'n amptelike aansoek voor regter Jonas Mosopa gebring het dat die kind se getuienis in camera aangehoor word.

Nicholas Ninow, Dros-saak
Nicholas Ninow Woensdagoggend in die hof. Sy ma, Chantelle, en ouma, Pauline Gericke, was weer daar om hom te ondersteun. Foto: Deaan Vivier

Herman Alberts, regsverteenwoordiger vir Nicholas Ninow, die beskuldigde, het nie die aansoek teengestaan nie.

'n Televisie in die hof was met 'n swart toga toegegooi terwyl die media en lede van die publiek nog in die hof was.

Hulle is ná afloop van die staat se aansoek gevra om die hof te verlaat terwyl die kind getuig.

Nadat verskeie organisasie hul kommer uitgespreek het, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in ’n verklaring verduidelik hoekom die slagoffer moes getuig.

Die staat het vroeër gesê hulle gaan die sewejarige meisie se getuienis in die saak teen Nicholas Ninow aanbied.

Hoewel hy skuld op onder meer twee aanklagte van verkragting beken het, het die staat nie die pleit aanvaar nie. Dit is onder meer omdat sy weergawe van die omstandighede rondom die voorval van die klaagster s’n verskil.

Phindi Mjonondwane, Gautengse woordvoerder van die NVG, het die gemeenskap gerusgestel dat die meisie nié geplaas sal word in ’n posisie waarin sy die “traumatiese gebeure sal moet herleef nie”.

Nicholas Ninow
Nicholas Ninow, die beskuldigde in die verhoor, Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

“Die enigste rede hoekom sy as getuie geroep word, is om getuienis voor die hof te plaas wat Ninow se weergawe, wat betref die volgorde van die gebeure wat die voorval voorafgegaan het, sal weerlê.

“Ons besef Ninow het skuld beken op die aanklagte van verkragting en dit is nie in geskil nie. Daarom hoef sulke getuienis nie voor die hof geplaas te word nie,” sê Mjonondwane.

Sy het bevestig dat die kind deur middel van kringtelevisie en met die hulp van ’n tussenganger asook twee hof-voorbereidingsbeamptes sal getuig.

Die staat sal dan na verwagting sy saak sluit en, volgens Mjonondwane, betoog dat Ninow tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Pretoria  |  Hof  |  Dros-Saak  |  Dros-Verkragtingsaak  |  Kinderverkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.