Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros: Slotbetoë word vandag gelewer

Die staat en verdediging sal Donderdag hul betoë lewer in die verhoor teen Nicholas Ninow voordat regter Mokhine Jonas Mosopa later uitspraak in die saak sal gee.

Dit kom nadat die staat en verdediging Woensdag hul sake gesluit het.

Ninow het Maandag, op die eerste dag van die verhoor in die hooggeregshof in Pretoria, skuld beken op twee aanklagte van verkragting, sowel as van die besit/gebruik van dwelms asook regsverydeling.

Hy het skuld ontken op ’n aanklag van aanranding.

Die staat het nie sy pleit op die verkragtingsaanklagte aanvaar nie, omdat sy weergawe van die gebeure van dié van die slagoffer, die sewejarige meisie, verskil.

Die staat het ses getuies geroep, onder wie die slagoffer, haar ma en mense wat op die dag van die beweerde verkragting in die Dros in Silverton, Pretoria gewerk het. Die verdediging het geen getuies geroep nie.

Die verwagting is dat adv. Dorah Ngobeni, die aanklaer, Donderdag sal betoog dat Ninow die kind op 22 September 2018 met voorbedagte rade en met die opset om haar te verkrag na die restaurant se vrouetoilette gevolg het.

Die staat aanvaar nie Ninow se weergawe dat hy eerste in die toilethokkie was waar hy dwelms wou gebruik toe die meisie daar ingekom het nie.

Die nasionale vervolgingsgesag het ook reeds aangedui die staat gaan vra dat hy op die verkragtingsaanklagte tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.

Wat betref die aanrandingsaanklag, waaroor die hof ook moet beslis, het die staat die afgelope week getuienis van kelnerinne gelei wat beweer dat Ninow, nadat hy met die kind in die vrouebadkamer betrap is, met sy gordel na hulle geslaan het. Van hulle het egter nie gesien dat hy iemand getref het nie, terwyl die kind se ma getuig het dat hy wel iemand in die gesig getref het.

Ninow se prokureur, Herman Alberts, wat deur die Regshulpraad aangestel is, het gesê die beskuldigde ontken dat hy enigiemand geslaan het.

Alberts sal na verwagting Donderdag betoog dat Ninow erken hy het op 21 en 22 September verlede jaar die dwelm Cat gebruik het, en ook op die dag van die voorval drank gebruik het, voordat hy na die vrouebadkamer gegaan het.

Die prokureur sal moontlik betoog dat sy weergawe dat hy met die verkragting “impulsief” opgetree het, aanvaar moet word.

Meer oor:  Pretoria  |  Hof  |  Dros-Verkragting  |  Dros-Verkragtingsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.