Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros-verkragting: 7-jarige se skokkende woorde uit toilet

Waarskuwing: Getuienis in hierdie berig kan sensitiewe lesers ontstel.


“Mammie, help my!”

Dit was die eerste woorde wat ’n ma vanuit die toilethokkie in die vrouebadkamer gehoor het nadat haar dogter op 22 September 2018 in die Dros-restaurant soek geraak het.

Die slagoffer, destyds sewe jaar oud, se ma het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig hoe Nicholas Ninow daarna by die toilethokkie uitgehardloop het met haar kind se pers/maroen broekiekouse (tights) en kleinbroekie in sy hand.

“Hy het dit (later) gebruik om sy (private deel) mee af te vee,” het die ma getuig.

Nicholas Ninow Woensdag in die hof.Foto: Deaan Vivier

Sy was die staat se laaste getuie. Ninow (21) het vroeër skuld op twee aanklagte van verkragting, regsverydeling deur die kind se broekie in ’n toilet af te spoel en die besit/gebruik van dwelms beken. Hy het skuld ontken op ’n aanklag van aanranding.

Die staat het egter nie sy pleitverduideliking rakende die verkragting aanvaar nie omdat Ninow se weergawe van die kind s’n verskil. Die meisie het Woensdag in camera haar weergawe vertel. Toe die publiek en media weer in die hofsaal toegelaat is, was van die mense binne, Ninow óók, duidelik emosioneel.

Die ma het daarna vanuit ’n tussenganger-kamer getuig. Net haar stem was hoorbaar in die hof.

Sy het gesê sy en haar dogter, wat in November 2010 gebore is, het in September verlede jaar ongeveer 14:30 by die restaurant in Silverton, Pretoria, aangekom.

“Ek het my dogter by die kinderspeelplek gaan registreer. Toe ek later weer daar kom, kon ek haar nie kry nie. Ek het die kinderoppasser gevra waar my kind is. Sy het geantwoord dat my dogter badkamer toe is,” het die ma getuig.

Nicholas Ninow praat met sy ma, Chantelle Ninow, en ouma, Pauline Gericke, voordat hy teruggaan hofselle toe. Foto: Deaan Vivier

In die vrouebadkamer was die middelste toiletdeur toe. Haar kind het nie geantwoord toe sy roep nie. Die ma is terug na die speelplek en dié slag is die oppasser saam met haar na die vrouebadkamer.

“Ons het teen die middelste toilet(-hokkie) se deur gedruk en ek het my kind se naam geroep. Sy het geantwoord: ‘Mammie, help my!’ Toe sê ’n ander persoon van agter die deur: ‘Julle pla my, wat wil julle hê?’ Ek en die oppasser het toe die deur oopgedruk gekry.

“Ek het my kind gegryp. ’n Man het kaal uit die toilethokkie gehardloop na die mansbadkamer toe . . .”

Die ma het vir ’n oomblik stilgebly en hoorbaar oor die kringtelevisiekamera se luidspreker asemgehaal. Toe vertel sy hoe sy haar dogter vir iemand gegee het en agter hom aangehardloop het.

Nicholas Ninow se ma, Chantelle Ninow, in die hofFoto: Deaan Vivier

“Ek het die man aangetref waar hy homself afvee met my kind se klere. Hy het sy (geslagsdeel) met my kind se panty afgevee,” het die ma getuig.

Ninow het vir ’n oomblik vanuit die beskuldigdebank opgekyk. Sy gesig en oë was rooi en klam. Hy het sy mond getrek asof dit droog is en weer sy kop laat sak.

Die ma het toe verduidelik dat haar dogter vroeër geklee was in ’n tutu-tipe rompie, ’n T-hemp, maroen tekkies en broekiekouse. Die kind het net haar rompie en hemp aangehad toe sy haar kry.

Daar was bloed aan die rompie, maar die kind het so gehuil dat die ma nie gekyk het waar dit vandaan kom nie. Die rompie is later aan die polisie gegee as ’n bewysstuk.

Die ma het bygevoeg dat Ninow die meisie se klere saam met syne van die vloer af gegryp het toe hy weggehardloop het.

Adv. Dorah Ngobeni, staatsaanklaer, het foto’s aan die ma getoon. Hierop was ’n erg bebloede Ninow, vermoedelik soos hy deur mense aangerand is in die mansbadkamer.

Hy het net ’n onderbroek aan. Onder sy arm, het die ma gewys, knyp hy nog haar dogter se pers/maroen broekiekous vas.

Die ma se stem het gebreek toe sy byvoeg: “Geen ouer is veronderstel om te sien wat ek gesien het nie. Emosioneel is ek glad nie oukei nie. Geen ouer moet dit ervaar nie. Ek het vir maande berading gekry. Ek en my kind sal moet voortgaan daarmee as ons wil genees”.

Die saak gaan Donderdag voort.

Phindi Mjonondwane, Gautengse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê die meisie is gevra om Woensdag te getuig omdat haar weergawe sou wees dat Ninow haar na die vrouebadkamer gevolg het.

Ninow se weergawe was dat hy soontoe gegaan het om weg te kruip vir die restaurantbestuurder omdat hy dwelms wou gebruik. Volgens hom het hy sy broek afgetrek dat dit lyk asof hy die toilet gebruik, toe die meisie instap en sê sy wil urineer.

Ninow het aangevoer dat hy haar broekie vir haar afgetrek en haar op die toilet getel het en toe “impulsief” opgetree en die meisie oraal en met sy vingers verkrag het.

Mjonondwane het na die dag se hofverrigtinge gesê die meisie se volgorde van gebeure verskil van die beskuldigde s’n.

“Dit blyk dat die beskuldigde die kind na die vrouebadkamer gevolg het, wat wys hy het die opset gehad om haar skade aan te doen en hy het beplan om te doen wat hy gedoen het,” het Mjonondwane verduidelik.

“Die staat sal dus betoog dat die minimum voorgeskrewe vonnis vir die verkragting van ’n minderjarige – lewenslange tronkstraf – hier gepas is.”

Hoewel sy nie in besonderhede kon uitbrei oor die kind se getuienis nie, het die woordvoerder die meisie geprys.

“Sy is intelligent en het baie goed getuig,” het Mjonondwane gesê.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Hof  |  Dros-Verkragtingsaak  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.