Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dros-verkragting: Bloedkolle op vloer wys waar Ninow betrap is – foto's
’n Emosionele Nicholas Ninow groet sy ma, Chantelle Ninow, en ouma, Pauline Gericke, terwyl hy na die selle gelei word. Foto: Deaan Vivier

“Ek kry nie my dogter nie!”

Die ma van ’n sewejarige meisie het dit oor en oor geskree toe sy op 22 September verlede jaar nie haar kind in die speelarea of vrouebadkamer van die Dros-restaurant in Pretoria kon vind nie, het ’n kelnerin Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig.

Chantelle Ninow, Nicholas se ma, groet haar seun. Langs haar sit Pauline Gericke, sy ouma. Foto: Deaan Vivier

Dit was op die tweede dag van die verhoor teen Nicholas Ninow (21), nadat hy Maandag skuld beken het op twee aanklagte van verkragting, die besit en/of gebruik van dwelms en regsverydeling. Hy het skuld ontken op aanklag van aanranding wat spruit uit bewerings dat hy met sy gordel na mense wat hom met die meisie betrap het, geslaan het.

Die staat het egter nie sy pleit op die aanklagte van verkragting aanvaar nie, omdat Ninow se pleitverduideliking verskil van die omstandighede wat die slagoffer weergegee het.

’n Emosionele Chantelle Ninow en Pauline Gericke. Foto: Deaan Vivier

Dinsdag het die restaurant se voormalige kinderoppasser eerste getuig. Sy mag luidens ’n hofbevel nie geïdentifiseer word nie.

Die vrou het vertel dat die sewejarige meisie en haar boetie daardie dag voor 12:00 saam met hul ma na die speelarea gekom het. Sy het hulle volgens prosedure in ’n registerboek geregistreer en elkeen ’n plakkertjie met hul besonderhede op gegee.

Nicholas Ninow Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Om 16:00 wou die oppasser 15 minute op middagete gaan en het sy ’n kollega gevra om na die kinders in die speelarea te kyk.

“Net toe ek wou loop, het die sewejarige meisie gesê sy wil badkamer toe gaan. Sy het soontoe gestap en ek ’n entjie agterna. Die kind het by die vrouebadkamer ingegaan en ek het aangestap,” het die oppasser getuig.

Met haar terugkeer na die speelarea, was net die boetie daar. Op ’n vraag van die oppasser, het hy gesê sy sussie is badkamer toe.

“Nog voordat ek my kosblik kon bêre het die ma ingekom en gevra waar haar kind is. Ek het geantwoord, maar die ma het kort daarna teruggekom en gesê sy kry nie die meisie in die badkamer nie.

“Die ma het vir my gesê: ‘Waar is my kind? Ek het jou vertrou met my kind! Waar is sy?’ Die ma het na die ander speelarea gegaan en ek het in die badkamer gaan soek (na die meisie),” het die oppasser getuig.

Nicholas Ninow beduie en praat met sy ma, Chantelle, en ouma, Pauline Gericke, terwyl hy na die selle gelei word. Foto: Deaan Vivier

In die vrouebadkamer het sy ’n ander kelnerin gekry, wat gesê het dit lyk asof iemand in die middelste toilethokkie is.

“Ek het gedink dalk het die meisie haarself daar toegesluit en geklop.”

Daar was geen antwoord nie. Toe die oppasser teen die deur druk, het iemand van binne teruggedruk.

Die ma het met nog twee kelnerinne ingekom en almal het saam aan die deur gedruk totdat dit oopgegaan het.

Nicholas Ninow verskyn in die hooggeregshof in Pretoria op twee aanklagte van verkragting, die besit en/of gebruik van dwelms en regsverydeling. Foto: Deaan Vivier

Die oppasser het getuig: “Ek was voor (die groepie). Ek het eers die meisie gesien, en toe ’n man. Die meisie het, toe ek haar vroeër by die speelarea geregistreer het, ’n rompie en pers broekiekouse aangehad. In die toilethokkie het sy net die rompie aangehad, nie die broekiekouse nie”.

Die man, het sy bygevoeg, se bolyf was kaal. Hy het ’n broek aangehad, maar die ritssluiter was oop.

“Die kind se ma het geroep: ‘Wat het jy met my kind gedoen?’ en die meisie gegryp. Die man het met sy gordel na ons geslaan en ons het teruggetree,” het die oppasser bygevoeg.

Sy het nie gesien dat Ninow enigiemand met die gordel getref het nie.

Die oppasser het twee maande later bedank.

“Ek kon nie cope nie . . . Die manier hoe die meisie se ma my (verbaal) aangeval het toe sy gesê het sy het my met haar kind vertrou . . . Ek was ook baie bang om badkamer toe te gaan. As ek ’n kind by die speelarea moes registreer, het ek in myself getwyfel en was bang dat so iets weer gaan gebeur,” het die getuie huilend erken.

Die toilethokkie waar Nicholas Ninow saam met die sewejarige meisie betrap is. Dit is deel van die foto-album wat die staat as bewysstuk by die hof ingehandig het.

Elizabeth Matloga, nog ’n kelnerin, het getuig dat sy ook in die speelarea was toe die ma haar dogter kom soek het.

“Die oppasser het gesê die meisie is badkamer toe. Die ma het daar gaan soek, maar teruggekom en geskree: ‘Ek kry nie my dogter nie.’ Ons is toe almal na die badkamer,” het Matloga getuig.

Sy het, nadat hulle vir Ninow met die meisie betrap het, uit die badkamer gehardloop en geskree dat mense die restaurant se deure moet toemaak.

“Ek was bang die man hardloop weg,” het sy gesê.

Die verhoor gaan Woensdag voort.

Bloedkolle op die vloer waar Nicholas Ninow glo deur mense in die restaurant aangerand is, nadat hy saam met die meisie betrap is. Die foto’s is deel van die staat se bewysstukke.

Ninow se ma, ouma in hof

Ninow het weer meestal koponderstebo in die beskuldigdebank gesit. Sy ouma by wie hy meestal as kind gewoon het, Pauline Gericke, was soos Maandag net agter hom in die openbare galery.

Ninow se ma, Chantelle, het vir die eerste keer sedert sy inhegtenisneming op 22 September verlede jaar, ’n hofverskyning bygewoon. Sy het in ’n stadium oor die rand van die beskuldigdebank geleun om vinnig vir haar seun ’n drukkie te gee.

Daarna het die ouma en die ma net hul koppe laat sak en mekaar vasgehou wanneer lede van die ANC-vroueliga en die EFF vir Ninow sou uitjou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.